Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 18 Junie 2018)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/06/2018

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het by die liggaam se tweede geskeduleerde vergadering vir die jaar, op Maandag 18 Junie 2018, 'n nuwe visie en strategiese raamwerk vir die instelling goedgekeur.

Die voortdurende verandering in die hoër onderwys vereis 'n gepaste reaksie van diegene wat op 'n bepaalde tydstip in die geskiedenis by 'n universiteit betrokke is. Dít is veral waar vir die US namate ons die instelling se tweede bestaanseeu binnegaan. Die Raad het die bestuur opdrag gegee om 'n nuwe roetekaart vir die toekoms op te stel, en ons is tevrede dat die nuwe raamwerk waarmee hulle vorendag gekom het die instelling goed te pas sal kom.

Meer besonderhede volg hieronder – ook oor ander besprekingspunte en besluite by Maandag se vergadering. Dít sluit in die hersiening van die Statuut, 'n fakulteitsvernuwingstrategie, die geïntegreerde jaarverslag en gekonsolideerde finansiële state vir 2017, die bestuursverslae van die Rektor asook van die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, twee bykomende navorsingsleerstoele, die Afdeling Studentetoegang, en nuwe lede en amptenare van die Raad.

Namens die Raad wens ek u alles van die beste toe vir die res van 2018, die US se Eeufeesjaar. Met ʼn nuwe visie en strategiese raamwerk kan die Universiteit nou die toekoms selfversekerd tegemoetgaan.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

[In die foto hierbo is raadslede by die vergadering op 18 Junie 2018, van links (agter), prof Stan du Plessis, mnre Johan Theron, Charl Cillié, Hubert Brody en Wayde Davidse, proff Joan Hambidge, Johan Fourie, Nico Koopman, Gerhard Maré, Eugene Cloete, Usuf Chikte en André Coetzee, mnr Jannie Durand, en proff André Keet en Aslam Fataar; (voor) prof Arnold Schoonwinkel, mnr Lwando Nkamisa, adv Gesie van Deventer, prof Wim de Villiers, mnr George Steyn, prof Amanda Gouws, me Khungeka Njobe, mnr Anthony Dietrich en adv Jean Meiring. (Foto: Stefan Els)]

Nuwe visie en strategiese raamwerk vir die US

Die Raad het Maandag Visie 2040 vir die US goedgekeur. Die visie posisioneer die instelling om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit" te word wat “wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word" en wat kennis tot diens van die samelewing bevorder.

Die US se nuwe oorhoofse Strategiese Raamwerk 2019-2024 is ook aanvaar. Gesamentlik vervang hierdie dokumente die Universiteit se bestaande Visie 2030 en Institusionele Voorneme en Strategie 2013-2018, wat vanjaar verstryk.

Die afgelope twee jaar lei prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, 'n inklusiewe proses om die pad vorentoe vir die Universiteit uit te stippel. Vyf taakgroepe het verskillende aspekte ondersoek, personeellede en studente is oor die Universiteit se waardes geraadpleeg, en verskeie vlakke van die bestuur sowel as formele Universiteitstrukture het omvattende kommentaar gelewer. Die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee van die Raad, die Institusionele Forum, die uitvoerende komitees van die Senaat en die Raad sowel as die Senaat self het almal die nuwe visie en strategiese raamwerk by die Raad aanbeveel.

In sy voorwoord sê die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, die nuwe visie en strategiese raamwerk getuig van “die US se verbintenis om relevant te wees vir die konteks, en ons land en vasteland te dien – 'n inklusiewe wêreldklasuniversiteit in en vir Afrika".

Volgens prof Klopper is die nuwe visie en strategiese raamwerk “onboetvaardig dapper". Sy het bygevoeg die US is tevrede dat die nuwe raamwerk “ons sterkpunte optimaal benut, terwyl dit ons ook ruimte bied om te groei".

'n Unieke aspek van die nuwe strategiese raamwerk is dat studente en personeellede vir die eerste keer pertinent ingesluit word in die Universiteit se kern strategiese temas. Die US sal hom in die besonder daarvoor beywer om 'n transformerende studente-ervaring te bied en om die voorkeurwerkgewer in die hoëronderwyssektor te word.

Die oorblywende vier kern strategiese temas is genetwerkte en​ samewerkende onderrig en leer, navorsing vir impak, doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke, en 'n florerende Universiteit Stellenbosch. Laasgenoemde klem is nóg 'n unieke kenmerk van die nuwe raamwerk. Vir die Universiteit gaan om te floreer oor meer as volhoubaarheid; dit sluit ook in om sukses te behaal, bestendige vordering te maak, voorspoedig te wees en te gedy.

Die Raad se goedkeuring sluit hiermee fase 1 van die proses vir die hersiening van die US se visie en strategie af. Fases 2 en 3, wat nou gelyklopend sal ontvou, sal onderskeidelik daarop konsentreer om die nuwe strategie deur die hele Universiteit in werking te stel en om bestaande beleide en prosedures met die nuwe rigtinggewende raamwerk te versoen.

Vollediger kommunikasie volg binnekort. Besoek gerus hierdie webblad  vir meer inligting oor die proses tot hier en die pad verder aan.

Hersiening van die Statuut

Die Raad het kennis geneem dat 'n eerste konsep van 'n voorgestelde nuwe Statuut vir die Universiteit in April as deel van 'n interne en openbare oorlegplegingsproses vrygestel is. Dít spruit uit 'n Raadsbesluit van 26 September 2016 wat vir 'n omvattende hersiening van die Statuut gevra het. 'n Taakgroep onder leiding van die Registrateur, dr Ronel Retief, het die konsep opgestel in samewerking met kenners en op grond van kommentaar wat gedurende werksessies ingewin is.

Die dokument is vir oorweging en kommentaar aan fakulteitsrade en ander Universiteitsliggame voorgelê en eksterne belanghebbendes is ook genooi om bydraes te lewer. Volgens die beplanningstydlyn sal 'n finale konsep via die tersaaklike strukture in November vir goedkeuring aan die Raad voorgelê word.

Fakulteitsvernuwingstrategie

Die Rektoraat het dit verlede jaar as 'n strategiese prioriteit vir die Universiteit gestel om 'n vernuwingstrategie vir twee van die US se fakulteite – Opvoedkunde, en Lettere en Sosiale Wetenskappe – te ontwikkel. 'n Proses het gevolglik ontvou om hierdie fakulteite te ondersteun, met 'n bepaalde klem op sistemiese volhoubaarheid.

By ons vergadering Maandag het die Raad 'n vorderingsverslag ontvang van prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, wat aan die stuur van die proses staan. Sy het die Raad verseker dat die Rektoraat bewus is van die strategiese waarde van Opvoedkunde én van Lettere en Sosiale Wetenskappe vir die Universiteit en die land in die geheel, gedagtig aan die US se kernrol in die samelewing. Akademiese oorwegings sal voorrang geniet in die vernuwingsproses.

Stappe tot op hede sluit in kommunikasie met die twee fakulteite, die sameroeping van 'n stuurkomitee, die aanstelling van 'n projekkonsultant om 'n ontleding en aanbevelings te doen, en die vestiging van vier werkgroepe in elke fakulteit om onderskeidelik aandag te skenk aan:

  • akademiese programvernuwing;
  • studente-inskrywings, -graduering en -navorsingsuitsette;
  • akademiese en personeelsake (toewysing, getalsverhoudinge en tendense); en
  • finansiële sake.

Die plan is om, via die betrokke fakulteitsrade sowel as die Senaat, 'n finale voorstel vir oorweging en goedkeuring by die Raadsvergadering van 26 November 2018 voor te lê.

Geïntegreerde jaarverslag vir 2017

Die Raad het die US se geïntegreerde jaarverslag vir 2017, met inbegrip van die Universiteit se geouditeerde finansiële state vir die jaar, oorweeg en goedgekeur.

Die Rektoraat was ten nouste betrokke by die skryf en evaluering van die verslag, en die Oudit- en Risikokomitee van die Raad het die verslag – met wysigings – by Maandag se vergadering aanbeveel.

Die Raad, wat verantwoordelik is vir toesig oor akademiese en bedryfskwessies sowel as beleid en strategie aan die US, vind dit bemoedigend dat die instelling aanhou uitblink, ondanks finansiële uitdagings in hierdie onstuimige tye.

Soos vereis word, het die Raad die US se status as lopende saak goedgekeur en die mening uitgespreek dat die US se finansiële omstandighede gunstig is en dat die instelling oor die volgende 12 maande steeds as lopende saak bedryf sal word. Dít was op aanbeveling van die Raad se Oudit- en Risikokomitee, wat ook verslag gedoen het dat die eksterne oudit van die Universiteit vir 2017 geen materiële bevindinge aan die lig gebring het nie.

Die geïntegreerde jaarverslag, wat die finansiële state insluit, sal nou teen die sperdatum van 30 Junie 2018 by die minister van hoër onderwys en opleiding ingedien word. 'n Elektroniese weergawe sal dan op die US-webtuiste geplaas word voordat die verslag gedruk en versprei sal word. Dit sal in Engels en Afrikaans beskikbaar wees.

Die US het ook 'n oorsigbestuursaanwysertelkaart vir die rade van Suid-Afrikaanse openbare hoëronderwysinstellings voltooi. Dié dokument, wat onlangs as vereiste ingestel is, sal teen dieselfde sperdatum by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ingedien word.

Sosiale Impak, Transformasie en Personeel

By dié vergadering was dit die US se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, se beurt om 'n jaarverslag oor sy verantwoordelikheidsentrum voor te lê.

Hy het daarop gewys dat die Universiteit nou die reis aangepak het om die verskeidenheid beleide en planne oor kwessies soos transformasie, sosiale impak, diensbillikheid, diskriminasie en seksuele teistering, gestremdheidstoegang en lewensvatbare kontraktering wat die afgelope paar jaar aanvaar is, te implementeer.

Volgens Prof Koopman is beduidende vordering reeds gemaak om ooreenstemming oor kernterminologie soos “verankerde sosiale impak", “verankerde transformasie" en “verankerde personeelwelstand" te bereik. Alle US-omgewings aanvaar al hoe meer institusionele eienaarskap van hierdie drie kernvereistes. Hoewel daar nog heelwat werk voorlê in hierdie verband, is aansienlike vordering reeds gemaak.

'n Indringende bespreking van transformasie het ook daarop gedui dat die US gunstig geposisioneer is om navorsingsgebaseerde parameters en praktyke vir transformasie in die hoër onderwys en die groter samelewing te ontwikkel.

Klik hier vir sy volledige verslag, en hier vir sy aanbieding aan die Raad.

Verdere toename in navorsingsleerstoele

Die Rektor het verslag gedoen [klik hier vir sy volledige verslag] dat twee nuwe DWT/NNS SARChI-leerstoele aan die US toegeken is – die leerstoel in innoverende rehabilitasie aan prof Quinette Louw (Fisioterapie) en die leerstoel in voedselomgewings, voeding en gesondheid aan prof Xikombiso Mbhenyane (Menslike Voeding). Albei leerstoele is geleë in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Prof Louw se navorsing ingevolge die SARChI-leerstoeltoekenning sal daarop fokus om 'n lang en gesonde lewe vir alle Suid-Afrikaners in die hand te werk deur die gehalte van gesondheidsorg te verbeter. Sy sal veral op nuwe en innoverende benaderings tot rehabilitasie konsentreer.

Prof Mbhenyane se navorsing sal weer daarop uit wees om kennisskepping en vermoëbou vir menslike voeding te versterk en uit te brei. Dít sal in pas wees met die Nasionale Departement van Gesondheid se doelwit om die beskikbare menslike hulpbronne vir voedingsdienslewering te versterk, veral vir bevolkingsgebaseerde voorkomings- en bevorderingsdienste.

Die US het nou 45 navorsingsleerstoele – byna dubbel soveel as vyf jaar gelede. Hiervan maak 27 deel uit van SARChI (die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoelinisiatief) met finansiering van die Departement van Wetenskap en Tegnologie. 'n Verdere 18 navorsingsleerstoele by die Universiteit word deur ander borge gefinansier.

Afdeling Studentetoegang

Die Raad het kennis geneem dat die naam van die Sentrum vir Voornemende Studente na die Afdeling Studentetoegang verander is. Die nuwe naam weerspieël nou die volledige diensaanbod van die entiteit en strook ook met die strategiese fokusgebied “studentetoegang met sukses", wat in die omgewingsplan van die verantwoordelikheidsentrum Leer en Onderrig vervat is. Die Afdeling bestaan uit die sentrums vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, Toelating en Koshuisplasing, Voorgraadse Beurse en Lenings, en die Kontak- en Kliëntedienssentrum, wat sowel voornemende as huidige studente bedien.

Nuwe lede en amptenare van die Raad

Die Raad het mnr Ainsley Moos (foto hieronder) by Maandag se vergadering tot nuwe ondervoorsitter verkies. Hy volg prof PW van der Walt op, wie se termyn vroeër vanjaar verstryk het.

Board Summit - A Moos head & shoulders.jpg
Mnr George Steyn is as voorsitter herkies. Hy is reeds sedert 2010 'n lid van die Raad (deur skenkers verkies) en sedert 2012 die voorsitter.

Prof Joan Hambidge en mnr Johan Theron (albei deur die Konvokasie verkies) sowel as me Khungeka Njobe (deur die Raad verkies) is weer in die Raad aangestel, terwyl proff Amanda Gouws en Usuf Chikte (albei deur die Senaat verkies) reeds by die vorige Raadsvergadering, op 26 Maart, weer aangestel is.

Daarbenewens het die Raad 'n aantal nuwe lede verwelkom – mnr Hubert Brody (deur skenkers verkies), mnr Charl Cillié en adv Jean Meiring (albei deur die Konvokasie verkies) en mnr Wayde Davidse (deur permanente nie-akademiese personeellede verkies).


 

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering vind op Woensdag 26 September 2018 plaas.