Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale besigheidstudente bon voyage toegewens!
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 13/06/2018

Verbeel jou jy's 'n 20-jarige Matie en staan op die punt om na 'n eksotiese bestemming te vertrek waar jy die res van die jaar by 'n buitelandse universiteit sal studeer as deel van jou program.

Dit kan soos dagdromery klink, maar vir die heel eerste derdejaarsklas in BCom (Internasionale Besigheid) aan die Universiteit Stellenbosch word dit binnekort 'n werklikheid. In die volgende paar weke sal 22 studente na 14 universiteite in agt lande regoor die wêreld vertrek.

Volgens programkoördineerder prof Pierre Erasmus is dit die eerste program van sy soort in Suid-Afrika en 'n baanbreker in besigheidsopleiding op voorgraadse vlak in die land. “Dié vierjaar-baccalaureusprogram voorsien in 'n behoefte aan toegeruste graduandi wat gereed is om aan die internasionale kennisekonomie deel te neem. Dit stel studente bloot aan 'n verskeidenheid omgewings en ontwikkel hul wêreldingesteldheid deur middel van 'n omvattende en internasionaalgerigte kurrikulum."

Prof Erasmus sê die gestruktureerde uitruilprogram sorg vir 'n multikulturele ondervinding en die geleentheid om 'n langdurige netwerk met studente uit verskillende wêrelddele op te bou. “Studente kan hul uitruilsemester by enige van die 44 vennootuniversiteite in 20 lande deurbring."

Die meeste studente het 'n Europese universiteit verkies, terwyl een student Maleisiё en twee die Amerikas geskies het.

Anika Faul, wat binnekort na die Universiteit van Maleisiё in Kuala Lumpur vertrek, verduidelik dat sy uit haar gemaksone wou kom. “Ek hou ook regtig van Maleisiё se verskeidenheid kulture en tale, en die feit dat Singapore net om die draai is."

Medestudent Janco Marais gaan eers twee maande by 'n gesin in die noorde van Spanje deurbring waar hy hul jong seun Engels gaan leer, voordat hy hom by Maastricht Universiteit (UM) in Nederland inskryf. “Ek sal steeds betyds wees vir UM se inkom- of oriёntasieprogram aan die begin van die nuwe semester in September.

“Byna die helfte van Maastricht se studente is internasionale studente. Ek hou van die blootstelling aan 'n multikulturele omgewing en ek is gemotiveerd om soveel kontak as moontlik met studente uit ander lande te bewerkstellig."

Hy sal twee modules neem en sien daarna uit om met probleemgebaseerde leer (PBL) kennis te maak. PBL is 'n opvoedkundige model waarvan Maastricht die Europese baanbreker is. Dit daag studente uit om nie net vakinhoud te leer nie, maar ook hul talente, belangstellings en vaardighede soos selfstandigheid, selfgeldings- en probleemoplossingsvermoёns te ontwikkel.

Amber Moon en Danielle Kruger is die enigste studente wat op pad is na Noord- en Suid-Amerika onderskeidelik. Amber gaan na die Universiteit van Noord-Carolina in Charlotte (UNC Charlotte) in die VSA en Danielle na die Pontifical Katolieke Universiteit in Rio de Janeiro (PUC-Rio) in Brasiliё.

Aangesien Amber die kultuur van 'n groot Amerikaanse universiteit en die lewenswyse in die VSA eerstehands wil ervaar, was haar keuse 'n maklike een. “Ek stel baie belang in die modules wat aangebied word, juis omdat dit so drasties verskil van dié by Suid-Afrikaanse universiteite. Ek sien uit na kursusse soos die ekonomie van sosiale kwessies, asook geslag en kommunikasie.

“Ek wil ook ontdek hoe mense se lewenstyle van Suid-Afrikaners s'n verskil. Dis boonop 'n gulde geleentheid vir my eie individuele ontwikkeling."

Hoewel 'n vreemde taal deel is van die program BCom (Internasionale Besigheid), is Portugees nie een van die keusevakke nie. (Studente kan tussen Chinees, Duits of Frans kies.) Vir Danielle is 'n intensiewe Portugese kursus dus belangrik as voorbereiding vir haar verblyf in Rio de Janeiro.

“Daarna sal ek met Portugese klasse van sowat 6 uur per week voortgaan. Ek sal hopelik vlot Portugees kan praat wanneer ek ná die semester vir 'n maand lank deur Suid-Amerika backpack."

Sy beplan om vir vier tot vyf modules in te skryf, waaronder vakke soos internasionale onderhandelings, inleiding tot strategie in 'n globale wêreld, en Brasiliaanse buitelandse beleid en voeg vinnig by: “En ek wil salsa-danslesse neem!"

Internasionale besigheidsopleiding op voorgraadse vlak is betreklik nuut in Suid-Afrika, maar dis 'n bekende program by talle buitelandse universiteite, sê prof Erasmus. “Ons ervaring is dat studente in dié program gefokus en toegewyd is."

Al vier studente geniet die kursus en die kombinasie van vakke van die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, regsgeleerdheid, lettere en sosiale wetenskappe.

“Ek is dol oor die verskeidenheid van die program. Ek het sosiologie, interkulturele kommunikasie en die regsaspekte van internasionale besigheid baie geniet. Volgende jaar gaan ek in ekonomie en belegging spesialiseer," vertel Danielle.

Vir Janco was die module oor internasionale besigheidskommunikasie in die eerste semester een van die hoogtepunte. “Dit is 'n uitdaging om die inligting van alle modules te integreer."

Nadat hulle hul grade behaal het, beplan Janco, Anika en Danielle om nagraads te studeer. Janco wil met internasionale besigheidstudies voortgaan, moontlik met spesialisasie in onderhandelings. “My ideale werk sal wees om saam met 'n bekwame, multi-dissiplinêre span konsultante te werk."

Anika wil ook verder in internasionale besigheid studeer, en beplan 'n loopbaan as bestuursanalis. “Ek wil graag as konsultant optree vir firmas wat internasionaal uitbrei, en hulle help om hul nuwe takke by hul teikenmarkte aan te pas."

Voordat sy 'n loopbaan in internasionale handel aanpak, hoop Danielle om toegelaat te word tot 'n dubbele meestersgraad in globale strategiese bestuur. Dié nuwe internasionale program bied twee meestersgrade by drie sakeskole op drie vastelande aan. Studente se studietydperk word verdeel tussen Lingnan Universiteitskollege in Guangzhou (China), die McIntire-sakeskool by die Universiteit van Virginia (VSA), en ESADE in Barcelona.

Amber het nie vaste toekomsplanne nie, maar stel 'n loopbaan in die vooruitsig wat haar sal toelaat om internasionaal te werk en te reis. “Ek glo hierdie graad sal my met die nodige vaardighede toerus om dit te verwesenlik. Ek wil my ook daarop toelê om geslagsgelykheid te bevorder aangesien ek passievol is oor feminisme."

  • Vir verdere inligting oor die program BCom (Internasionale Besigheid), kliek hier.
  • Foto (deur Anton Jordaan): Na afloop van hul laaste semestereksamen Maandag, 11 Junie, het die derdejaarsklas van die program BCom (Internasionale Besigheid) vir oulaas bymekaar gekom vir 'n foto saam met prof Pierre Erasmus voor hul vertrek na die buiteland.