Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons moet sáám ekonomiese en ekologiese uitdagings aanspreek
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/06/2018

Ons kan dit nie net aan 'n geliberaliseerde mark oorlaat om die wêreld se ekonomiese en ekologiese probleme op te los nie. Ons moet kragte saam snoer indien ons hierdie uitdagings suksesvol wil aanspreek.

Dit was een van die gevolgtrekkings van prof Martin de Wit van die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch op Donderdag (7 Junie 2018). Hy het sy intreerede oor die onderwerp Environmental governance, the human person and social order: A reinterpretation gelewer.

De Wit het gesê aangesien mense grootliks vir ekologiese vernietiging verantwoordelik is, is die onus op hulle om hierop te reageer.

“My voorstel in reaksie op die ekologiese probleme in die moderne ekonomiese orde is om te begin vra wie ons as mense is."

“Dit is 'n kritieke tyd om onsself te vra wie ons is en waar ons in verhouding staan tot ander mense en die wêreld se ekonomiese en ekologiese uitdagings."

De Wit het gesê die mark kan nie alle omgewingsprobleme in alle kontekste aanspreek nie.

“Die geliberaliseerde moderne mark misluk in vele opsigte om die wêreld se dringendste ekologiese en sosiale problem aan te spreek."

Hy het daarop gewys dat die moderne ekonomiese bestel tot baie protes gelei het.

“Globaal en plaaslik het die rewolusie van die massas reeds begin. Meer en meer mense is bereid om die totaliteit van die mark te verruil vir nog 'n totaliteit hoewel nog vaag, maar gehul in die retoriek van mag en eksklusiwisme."

De Wit het die rol wat omgewingsbestuur (reëls, beleide en instellings wat ʼn invloed het op mense se interaksie met die omgewing) kan speel om die huidige ekonomiese en ekologiese uitdagings te help aanspreek beklemtoon.

“Omgewingsbestuur moet mense wat gewone lewens in buitengewone tye lei inspireer om werklike verandering teweeg te bring."

De Wit meen omgewingsbestuur fokus toenemend daarop om die gedrag van agente binne die sosiale orde van die mark te verander. Die staat speel steeds 'n beperkte rol deur direkte omgewingsregulasies en deur die skep en gebruik van markte te ondersteun, het hy bygevoeg.

Hy het gesê tradisionele vorme van omgewingsbestuur het begin om plek te maak vir nuweres wat 'n groter verskeidenheid rolspelers uit verskillende instellings, met verskillende gedragspatrone en bronne van kennis betrek.

De Wit het die behoefte aan aksies wat tot werklike veranderinge in die moderne ekonomiese bestel sal lei beklemtoon.

  • Hooffoto: Krediet (Pixabay)
  • Foto 1: Prof Martin de Wit (middel) saam met Profs Christo Boshoff, Visiedekaan vir Navorsing in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Eugene Cloete, Viserektor vir Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies. Fotograaf: Anton Jordaan.