Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ukwanda bied kritieke navorsingsplatform
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 05/06/2018

“Jy kan oral navorsing doen. Die hele wêreld is ʼn laboratorium vir die ondersoekende brein," het prof Nulda Beyers die bekende geneesheer, Martin Fischer, aangehaal tydens haar hoofrede by die navorsingsdag van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid.

In haar praatjie het Beyers, ʼn vermaarde navorser en uitgelese professor in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), die belangrikheid van mediese navorsing beklemtoon, en veral ondersoeke in primêre gesondheidsorg in landelike gebiede.

In haar aanbieding, getiteld 'Life Lessons from Research', het Beyers studente, akademici en ander belanghebbendes toegespreek oor die kragtige uitwerking wat navorsing wat goed uitgevoer word kan hê en hoe dit ander kan bevoordeel in somtyds klein, maar betekenisvolle, maniere.

Volgens Beyers, wie al sedert die 1980s bewustheid oor kindertuberkulose begin skep het, beweeg sommige navorsers nie uit hulle gemaksones nie – meestal tot nadeel van hulle navorsingsuitkomste: “Wanneer jy navorsing onderneem moet jy jou oog op die bal hou. Vind ʼn mentor, kry ʼn padkaart en werk hard daaraan om bewustheid te skep oor jou spesifieke veld. Onthou ook dat om met gemeenskappe saam te werk, jou in ʼn goeie posisie kan plaas om jou doelwit te bereik."

Die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid, gestig in 2002, bied deur middel van die Landelike Kliniese Skool in Worcester ʼn multidissiplinêre platform wat die universiteit se geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente met die gepaste kennis en ervaring toerus om die gesondheidskwessies van landelike gemeenskappe aan te spreek. Die sentrum stimuleer relevante landelike navorsing as deel van sy oorkoepelende visie om landelike gesondheidsorg te verbeter, en het ten doel om die behoeftes van landelike gemeenskappe aan te spreek deur, onder meer, studente van landelike gebiede te werf en te ondersteun.

Verskeie studies toon dat Suid-Afrika se grootliks swak gesondheidsuitkomste, veral in landelike gebiede, vererger word deur die tekort aan fasiliteite om gesondheidsberoepslui op te lei. Ukwanda is besig om ʼn navorsingspan te stig wat daarmee getaak sal wees om toegang tot en gelykheid in gesondheidsorg te verbeter met ʼn spesifieke fokus op Suid-Afrikaanse gemeenskappe in landelike gebiede. Die navorsingspan sal voorts ʼn langtermyn landelike gesondheid navorsingsagenda moet koördineer vir Ukwanda en ondersteuning bied aan personeel en studente.

Ander navorsingsaanbiedings by die navorsingsdag het ondersoeke ingesluit in Eenbeen hop in kinders met en sonder fetale alkohol spektrumafwyking en die Akkurate meting van nakoming van tuberkulose behandeling. Volgens Ukwanda se Direkteur, prof Ian Couper, sal die sentrum se navorsingspan hulself toespits op vier fokusareas, wat oor tyd in nisareas sal ontwikkel. Dit sluit in landelike gesondheidsberoepeonderwys, samewerkende sorg, landelike kinder- en gesinsgesondheid, en kliniese navorsing in streke en distrikte.

Onderskrif: Prof Nulda Beyers