Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Menseregte in die kollig by Afrika-dag simposium
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 04/06/2018

Afrika-dag bied die geleentheid om ons Afrika-identiteit te vier en om te herontdek wat dit beteken om van Afrika te wees, het dr Leslie van Rooi aan afgevaardigdes gesê by die Afrika-dag simposium van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

“Dit is ʼn spesiale dag vir ons kontinent en sy mense. Op hierdie dag word ons herinner aan ons geskiedenis en waar ons vandaan kom, en word ons gelei na ʼn nuwe Afrika-identiteit. Ek hoop ons beraadslagings hier sal help om ons te laat dink oor ons identiteit as individue, asook ons kollektiewe identiteit as ʼn universiteit en die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap," het Van Rooi, die US se Seniordirekteur: Sosiale Impak en Transformasie, gesê by die FGGW se 5de jaarlikse Afrika-dag vieringe op Mei 25.

'Globale Gesondheid: ʼn Tyd vir Aksie in Afrika' was die tema van die dag, en Van Rooi het gesê hy hoop dat die gesprekvoering ʼn beter begrip sal bewerkstellig van sommige van die uitdagings, en ook geleenthede, in gesondheidsorg.

In sy Afrika-dag rede het prof Jimmy Volmink, FGGW Dekaan, gesê dat ongelykheid een van die voorste kwessie in globale gesondheid is. “Die gemiddelde lewensverwagting in Afrika is amper 30 jaar minder as in die Amerikas of Europa… ʼn kind wat in Angola gebore is, het ʼn 65 keer groter kans om in die eerste paar jaar van lewe te sterf as ʼn kind wat in Noorweë gebore is… en ʼn vrou wat geboorte skenk in Afrika suid van die Sahara het 100 keer groter kans om tydens kraam te sterf as ʼn vrou in ʼn ryk land," het Volmink sy stelling verdedig met ʼn paar ontnugterende statistieke.

Hierdie gesondheidsongelykhede kom nie net voor tussen ryk en arm lande nie, en drastiese gesondheidsverskille is ook te sien binne in lande, het Volmink volgehou. Navorsing van die Verenigde State en die VK het getoon dat bevolkingsgroepe met ʼn hoë inkomste soveel as 15 jaar langer leef as die res van die bevolking, terwyl die armste mense in hierdie lande se lewensverwagtinge soortgelyk is aan mense in die mees onontwikkelde lande ter wêreld.

Suid-Afrika is die mees ongelyke land ter wêreld, soos aangewys deur die Wêreld Globale Ongelykheidsverslag en die Wêreldbank, en het van die strakste dispariteite in gesondheid en lewensduur tussen die land se arm en ryk bevolkingsgroepe.

Terwyl hy die FGGW se nuut-gevestigde Departement van Globale Gesondheid bevorder het, het Volmink verduidelik dat globale gesondheid ʼn ontwikkelende dissipline is wat poog om gesondheidsongelykhede te ondersoek en aan te spreek. Die dissipline se oorsprong strek terug na die 19de eeu met voorlopers soos koloniale-, sendelinge-, en tropiese geneeskunde, wat Westerse gesondheidspraktyke aan buitelandse gemeenskappe voorgestel het – ongelukkig meestal op wyses wat gesondheidsongelykheid vererger het. Na die Tweede Wêreldoorlog het ʼn gesondheidsorg-benadering wat op menseregte gebaseer is begin ontwikkel, en het tot in globale gesondheid gemanifesteer.

“Ek weet nie of dit moontlik is om ʼn gesondheidsorg-stelsel wat op menseregte fokus van stapel te stuur nie," het Volmink gesê en verduidelik hoe vroeëre poginge in die wiele gery is deur ander belange. Hy het wel te kenne gegee dat daar hoop is. “Ons benodig ʼn ekonomie wat ons met water, kos, gesondheid, opvoeding, behuising, goeie werk, ensovoorts, kan voorsien. Maar ons moet verseker dat ekonomiese groei ons nie verby die ekologiese plafon neem tot waar ons die omgewing beskadig nie."

Ter afsluiting het hy genoem dat die ontwikkeling van ʼn aanspreeklikheidstruktuur ook voordelig sal wees vir globale gesondheid. So ʼn struktuur sal lande aanspreeklik hou vir beloftes wat hulle gemaak het en doelwitte wat hulle gestel het tydens verklarings.

In die tweede hoofrede tydens die FGGW se Afrika-dag simposium, het prof Susan van Schalkwyk, direkteur van die Sentrum vir Gesondheidsberoepeonderwys, die opvoedkundige bevoegdhede wat benodig word vir globale gesondheid, uitgeengesit.

Sy het verduidelik dat ʼn globale gesondheidsbenadering sal vereis dat studente met kwessies omgaan wat direk en indirek met gesondheid verbandhou. “Globale gesondheidsopvoeding vereis die beklemtoning van kennis, vaardighede en ʼn instelling wat benodig word om die sosiale, politiese en ekonomiese bepalende faktore van gesondheid te kan identifiseer," het Van Schalkwyk gesê.

Ander sprekers het ingesluit: prof Mark Tomlinson van die US se Sielkunde Departement wat gepraat het oor kinders en adolessente se geestesgesondheid in die Koesterende Sorg Raamwerk vir Vroeë Kind Ontwikkeling; prof Jackson Orem van die Uganda Kankerinstituut wat ʼn intersektorale benadering vir kankerbehandeling in Afrika beskryf het. Daar was ook ʼn paneelgesprek oor Gender en Globale Gesondheid onder voorsitterskap van prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, met mnr Fanele Ndebele, prof Stella Anyangwe en prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, as sprekers.