Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediese student leef krieketdroom uit
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 29/05/2018

Dat Laura Wolvaardt tans haar droom leef deur vir die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan as aanvangskolwer op die veld te stap, beteken geensins dat sy haar ander groot droom - om as dokter te kwalifiseer - laat vaar het nie. 

Laura het begin vanjaar by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch as eerstejaar mediese student ingeval. 

Die besige krieketkalender – en veral die T20-Wêreldbekertoernooi in November vanjaar – het dinge egter deurmekaargekrap en toestemming is na ʼn paar maande verleen dat sy haar studie onderbreek. Sy sal dit aanstaande jaar hervat. 

Laura het haar debuut vir die Suid-Afrikaanse senior vrouekrieketspan in 2016 in ʼn eendagreeks teen Engeland gemaak. Sedertdien het sy nog nie teruggekyk nie. En sy is baie dankbaar dat die FGGW haar die geleentheid gegun het om ʼn jaar lank professioneel krieket te speel sonder om haar oor haar studie te bekommer. 

Die besluit oor waar om te studeer, het maklik gekom. “Ek het ʼn ope dag by Tygerberg bygewoon en doodeenvoudig verlief geraak." 

En hoekom juis medies? “Ek voel as dokter kan mens wérklik ʼn verskil in iemand se lewe maak," sê die 19-jarige wat ook op vele ander gebiede uitblink en maar te goed besef dat sy op die lang duur nie albei hierdie liefdes tegelyk sal kan beoefen op die vlak waarna sy streef nie. 

In matriek verlede jaar aan Parklands Kollege in Milnerton was sy hoofmeisie, lid van die eerste hokkiespan en akademies in die topposisie, soos trouens regdeur haar skoolloopbaan. 

“Toe ek aan die US begin studeer het, het ek gou besef dat die mediese kursus uiters veeleisend is – nes die skedule van ʼn professionele krieketspeler," sê sy. “Ek sal nooit heeltemal ophou speel nie; daarvoor is ek te lief vir krieket. Maar nadat ek my mediese studie hervat het, sal ek nie deel kan wees van elke liewe kriekettoer nie." 

Tans sien haar dae heelwat anders daar uit as wat dit as mediese student die geval sou wees. “Wanneer ek tuis is, sal ek elke dag gym toe gaan en krieket oefen. Die grootste deel van vanjaar gaan ek egter op toer wees, wat baie span-oefensessies en wedstryde beteken." 

Haar passie vir krieket gaan haal sy by haar baie kleintyd-seunsvriende. “Op vyfjarige ouderdom het almal begin krieket speel. Ek het agter hulle aangetou omdat ek nie enige pret wou misloop nie, en tot my verbasing het ek lief geword vir die spel." 

Laura het reeds verskeie indrukwekkende eerstes op haar kerfstok, soos die jongste Suid-Afrikaanse krieketspeler (mans én vroue) wat in internasionale krieket ʼn honderdtal behaal het (op 17-jarige ouderdom) en die jongste vrou wêreldwyd wat 1 000 lopies in eendagkrieket verbygesteek het (op 18-jarige ouderdom). Vir haar was die hoogtepunt van haar loopbaan tot dusver egter toe die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan verlede jaar in haar matriekjaar aan die Wêreldbeker-toernooi deelgeneem het. “Ons het dapper, vreeslose krieket gespeel en dit was ongelooflik om deel daarvan te wees. Ons het die halfeindstryd gehaal en vir mekaar gespeel." 

So goed het sy gevaar dat sy daarna in die internasionale span opgeneem is. 

Laura het reeds verskeie toekennings op haar kerfstok, soos toe sy in haar matriekjaar as Krieket Suid-Afrika se Beste Vrouenuweling van die Jaar aangewys is en by ʼn toekenningsgeleentheid vir vroue-atlete die gsport-toekenning vir Skolesportster van die Jaar ontvang het. 

Sy glo om ʼn goeie aanvangskolwer te wees, moet jy om die helfte oor ʼn soliede tegniek en sterk geestelike vaardighede beskik. “Jy moet 100% gefokus wees. Daar is nie enige plek vir foute nie. Ek glo dis baie dieselfde wanneer mens ʼn geneesheer is."


 

Onderskrif: Laura Wolvaardt in aksie op die krieketveld.

Foto verskaf deur Krieket Suid-Afrika.