Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Museum bied gesprek oor rol van struggle-liedere aan
Outeur: Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 24/05/2018

“Nkosi Sikelel' iAfrika" (“Lord bless Africa"), “Ndodemnyama" (“Beware, Verwoerd!") en “Sikalela Izwe Lakithi" (“We protest for our land") is maar net 'n paar van die ikoniese struggle-liedere wat gedurende die stryd teen apartheid in Suid-Afrika gesing is. In hedendaagse Suid-Afrika word struggle-liedere gereeld as agtergrondmusiek by maatskaplikegeregtigheidsbewegings en -optogte gehoor, en vervul dit steeds 'n kernrol om mense te mobiliseer, veggees te bou en 'n samehorigheidsgevoel te skep onder diegene wat vir 'n bepaalde saak stry.

Om Vryheidsdag te vier en insig te bied in die rol en belang van hierdie liedere, het die Universiteit Stellenbosch (US) Museum met die US Transformasiekantoor en die Robbeneilandmuseum saamgewerk om 'n gesprek getiteld “Die rol van struggle-liedere in die verkryging van ons vryheid" aan te bied.

Een van die hoofsprekers by die geleentheid was Muntu Nxumalo, 'n voormalige politieke gevangene op Robbeneiland en musikant, wat 'n belangrike bydrae gelewer het tot die ontstaan van sommige van die land se mees ikoniese struggle-liedere. Nxumalo het by die geleentheid beklemtoon hoe belangrik dit is om die ware betekenis van struggle-liedere te verstaan.

“Struggle-liedere is 'n vorm van musiek wat jy nie sommer sal vergeet nie. Dit is 'n spesiale tipe musiek wat ons herinner aan waar ons vandaan kom, waar ons vandag is en waarheen ons op pad is. Baie van die liedere wat vandag nog gedurende optogte gesing word, het 'n belangrike rol vervul in die stryd teen apartheid en het 'n baie spesiale betekenis met betrekking tot wat vryheid werklik beteken."

Nadat die apartheidsregering hom in 1978 in hegtenis geneem het, is Nxumalo tot 22 jaar op Robbeneiland gevonnis. Hy is in 1991 vrygelaat. Nxumalo het later 'n direkteur in die Departement van Korrektiewe Dienste geword, en was tot sy onlangse aftrede die direkteur van die Robbeneilandprojek, 'n gemeenskapsuitreikprogram waar hy langer as 15 jaar gewerk het.

Met sy kitaar onder die arm het dié begaafde musikant diegene by die gesprek op 'n paar struggle-liedere getrakteer en nadat hy die gehoor sommige van die liedere geleer het, het party hulle selfs by sy vertoning aangesluit.

Een van die ander sprekers by die geleentheid was Lwazi Pakade, 'n US-student in Politieke Wetenskap en een van die voormalige leiers van die bewegings Open Stellenbosch en #FeesMustFall. Hy het Nxumalo se gedagtes onderstreep, naamlik dat ons nooit die ware betekenis van struggle-liedere behoort te vergeet nie. Daarbenewens het hy gesê diegene wat deesdae struggle-liedere sing, moet seker maak dat hulle die oorsprong en veronderstelde gebruik daarvan verstaan.

“Struggle-liedere raak mense verskillend. Die sang-en-danskultuur was nog altyd inherent deel van Afrika. Ons mense sing wanneer hulle rou, gelukkig is of om ontevredenheid met die regering te kenne te gee. Struggle-liedere het ons gehelp om mense te mobiliseer, 'n gemeenskaplike identiteit te skep en 'n bepaalde boodskap in verskillende omgewings oor te dra," het Pakade gesê.

Masego Mafata, 'n US-tweedejaarstudent in die program BA Internasionale Studie, het Nxumalo bedank vir sy bydrae tot die stryd teen apartheid en dat hy sy kennis oor die belang van struggle-liedere in Suid-Afrika met die gehoor gedeel het.

“Ek was bevoorreg genoeg om in 'n vrye Suid-Afrika gebore te word en dis mense soos Baba Nxumalo en studenteleiers soos Pakade wat hierdie nuwe generasie studente beter geleenthede by tersiêre instellings help gee het en ons voortdurend herinner aan hoe ver ons gevorder het."

Mafata het ook gesê haar generasie behoort nooit struggle-liedere buite konteks te sing nie. Sy glo hierdie liedere behoort met opregtheid en 'n behoorlike begrip van die betekenis en oorsprong daarvan gesing te word. “Struggle-liedere gaan met 'n klomp emosie gepaard – hetsy pyn, hoop of oorwinning. Musiek was nog altyd die vrug van die lewe. Musiek is die vrug wat jy dra as jy nie meer in woorde kan sê wat jy voel nie, en die struggle-liedere wat ons geleer het, help mense daardie gevoelens oordra," het sy gesê.​

Kyk die volle gesprek hier:

 


Vir selfoon gebruikers klik hier​.
Foto van links: Muntu Nxumalo​, Lwazi Pakade​, Masego Mafata​.