Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Akile Khoza ding mee om Mej SA-kroon
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 24/05/2018

Die 23-jarige Akile Khoza, ʼn Magisterstudent in Neurowetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), is een van die 12 finaliste in die jaarlikse Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie wat Sondag (27 Mei 2018) plaasvind. Dié skrander skoonheid van Mpumalanga sal saam met 11 ander skoonhede uit die verskillende dele van die land meeding

Sy het in 'n onlangse aanlyn vraag- en-antwoord-sessie aangedui dat dit haar droom is om jong meisies te inspireer om hul drome na te jaag.

Op die amptelike Mej. SA-webwerf word Akile soos volg aangehaal: “Ek wil 'n draer van hoop en 'n simbool van skoonheid wees wat dieper as fisiese skoonheid gaan."

Akile het ook genoem dat sy die meeste van haar tyd spandeer om navorsing vir haar meestergraad te doen.

Sy het bygevoeg dat haar ma, ook 'n US-alumna, haar rolmodel is.

“Sy het begin as 'n huisvrou en drie wonderlike kinders grootgemaak. Om die groei in haar eie kinders te sien, wou sy 'n voorbeeld van harde werk wees en wys hoekom dit belangrik is om tersiêre opvoeding te kry, veral komende uit 'n agtergrond waar baie hierdie geleentheid in die verlede ontneem is. Sy het dus besluit om skool toe te gaan en te studeer om 'n onderwyser te word. Sy het meer geword as 'n onderwyser wat net onderrig; sy het 'n aanmoediger, versorger en ʼn ma vir haar studente geword. Sy het verder studeer en onlangs haar doktorsgraad aan die US verwerf."

Akile het, soos enige trotse Matie, gesê Matie FM is haar gunsteling radiostasie. Sy is deur haar studieleier, dr Theo Nell van die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe, as 'n baie nederige en hardwerkende student beskryf.

 “Sy het oor die jare waarin ek haar ken so baie bereik (voorgraads sowel as nagraadse  ̶  vanaf 2014-2018). Sy is baie ambisieus, gefokus en vra baie vrae omdat sy nuuskierig is," het Nell gesê.

Hy het bygevoeg dat sy 'n pragtige mens van binne en buite is, en baie empatie vir mense om haar het.

Nell het gesê sy het beslis die beste keuse gemaak om Menslike Lewenswetenskappe (Sielkunde en Biologie) te studeer.

Hy het gesê toe Akile hom meegedeel dat sy die top 12 gemaak het, hy haar belowe het dat hy die geleentheid sal bywoon om haar te ondersteun.

“Ek is positief dat sy ons volgende koningin sal wees! Sy is so 'n deurdrywer (go-getter)! Niks sal haar keer om haar doelwitte te bereik nie," het hy byvoeg.​​