Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Justine se visier is op Tokio 2020
Outeur: Varsity Sports
Gepubliseer: 24/05/2018

“Ek is jammer dat ek nie weer aan 'n Varsity Atletiek-byeenkoms sal deelneem nie. Ek het die kompetisie oor die afgelope paar jaar sien ontwikkel en dit was 'n goeie ervaring. Nou is dit tyd vir jonger atlete om na vore te tree," sê sy.    

Justine Palframan​, wat tans haar BSc-honneurs in Biokinetika doen, is die SA kampioen in the 200m en 400m. Sy het Suid-Afrika in 2016 by die Olimpiese Spele in Rio verteenwoordig en het al twee medaljes by die Wêreldstudentespele verower – goud in die 400m in 2015 en silwer in die 400m in 2017.

Sy vaar uitstekend vanjaar en het 'n persoonlike beste tyd in die 200m (22.83s) by die onlangse USSA Atletiekkampioenskap gehardloop. Sy is ook naby aan haar persoonlike beste tyd in die 400m.    

“Ek geniet tans my hardlopery. Ek fokus minder op die uitslag en meer daarop om die wedloopplan reg te kry."             

Sy en haar afrigter, dr. Suzanne Ferreira, werk tans daaraan om klein verbeteringe aan te bring met die langtermyndoelwit om vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.         

As 'n Maties Hoëprestasie-atleet het Justine toegang tot al die kennis, dienste en tegnologiese steun wat deur Maties Sport se HP-eenheid gebied word. Haar oefengroep – wat Paralimpiese sterre Charl du Toit, Dyan Buis en Anruné Weyers insluit – bied ook uitstekende ondersteuning en motivering.           

Haar atletiek- en akademiese loopbaan het ook 'n beduidende hupstoot gekry toe sy as een van twee ontvangers van die Bettie Harmsen-beurs gekies is. Bettie Harmsen, née Buitendag, was 'n ywerige atleet en gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch (US) wat in 1989 haar BSc-honneursgraad in Mediese Biochemie verwerf het. Sy is in 2016 in die ouderdom van 50 aan kanker oorlede. 'n Paar dae voor haar dood het sy en haar man, Hans, besluit om 'n beurs aan belowende baan- en veldatlete van die US toe te ken. Die gesin het hulself daartoe verbind om vir 'n minimum van tien jaar elke jaar $10 000 te skenk.

Justine is baie bewus van hoe belangrik ondersteuning is.

Gedurende haar grootwordjare in KwaZulu-Natal, het iemand eendag vir haar ouers gesê dat geen topsportman of -vrou ooit uit 'n klein dorpie soos Eshowe sal kom nie omdat hulle nie voldoende fasiliteite het nie. Justine is 'n bewys dat dit nie waar is nie. Sy het die gebrek aan fasiliteite oorkom deur op haar skool, Hoërskool Eshowe, se hokkieveld te oefen met haar pa, Steve Palframan, as haar afrigter.      

Sy glo baie mense bereik nie hul volle potensiaal nie omdat die hindernisse waardeur hulle in die gesig gestaarword,  vir hulle onoorkomelik lyk.    

“Ek wil graag vir hulle sê: Jy moet vindingryk wees. Dit is moontlik om te presteer met dit wat jy het."       

Op die oomblik is Justine se doelwit om vir die Wêreldatletiekkampioenskap wat in Julie in Londen plaasvind, voor te berei. Sy is in die oefengroep hiervoor en wag vir die finale spanaankondiging. Sy wil ook aan een of twee ander wedlope in Europa deelneem.    

Sy was oor die jare 'n uitstekende ambassadeur vir die US en het die universiteit in Mei by die 7de IWG Wêreldkonferensie oor Vroue en Sport in Botswana verteenwoordig saam met drie ander verteenwoordigers van Maties Sport.​