Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente leer teorie, praktyk en 'n paar lewenslesse
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 23/05/2018

The Maze Runner mag dalk soos die titel van 'n fliek klink. Nie in hierdie geval nie. Dit is die naam van die groepsprojek vir finalejaar Meganiese en Megatroniese studente waar hulle leer oor meganiese en elektroniese ontwerp, vervaardiging en beheer. Langs die pad leer hulle ook baie belangrike lewenslesse: Kompetisie in die professionele wêreld is straf en jy kan nie altyd die span kies waarmee jy moet werk nie.

Op 19 Mei het 'n opgewonde atmosfeer in die Megatroniese Laboratorium geheers. Gretige spanne was gereed om mekaar te wys wie is die beste. Die geleentheid? Die jaarlikse kompetisie waar die Megatronika 424-klas in 'n voorgeskrewe projek teen mekaar meeding.

Dr Karel Kruger wat hierdie module aanbied, sê: "Hierdie projek vereis groepe (bestaande uit vyf studente) om 'n megatroniese stelsel te ontwerp, te bou en te programmeer wat 'n bestuurder in staat stel om 'n bal deur 'n doolhof te lei op 'n bord met penne. Die werkverrigting van die stelsel word gemeet aan die spoed waarmee 'n bal deur die doolhof gelei word, asook die akkuraatheid van die beheer daarvan. Behalwe vir hul finalejaarprojek, is dit die enigste geleentheid wat studente kry om 'n volwaardige projek te doen wat meganiese ontwerp, elektroniese ontwerp, vervaardiging en beheer insluit."

Dr Kruger brei uit: "Oor die algemeen was die gehalte van die projekte baie goed. Ek is altyd verbaas oor die stelsels waarmee die studente vorendag kom. Hierdie projek word aangebied as 'n kompetisie wat 'n prettige element daaraan toevoeg. Ons studente is baie mededingend en net drie sekondes het die wenspan van die naaswenners geskei."

Die keuse van spanlede word lukraak gedoen. Behalwe dat dit regverdig is, leer dit studente ook 'n baie belangrike les: As ingenieurs sal julle nie altyd die spanne kan kies waarmee julle wil saamwerk nie - so spring aan die werk en maak die beste daarvan!

Klik hier om die wenners se skitterende prestasie te sien.

Kliek hier vir die projekbeskrywing.

Foto:

Die wenspan.

Van links: Dr Karel Kruger (dosent), Anri Kruger, Pierre de Villiers, Jody Julius, Luke Dyson, Kevin Neaves (tegniese beampte) en Jason Raubenheimer.