Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Regskliniek verteenwoordig SA Paralimpiese swemmer in moontlike baanbrekersaak oor onbillike diskriminasie
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/05/2018

​Die Universiteit Stellenbosch (US) Regskliniek maak gereed om hof toe te gaan in nóg 'n moontlike baanbrekersaak, dié keer as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer en regstudent Hendri Herbst. 

Met 'n besoek aan die restaurant van die bekende Kaapse wynmakery Durbanville Hills teen die einde van 2014 is Herbst, wat heeltemal blind is, na bewering toegang geweier omdat sy gidshond by hom was. Volgens Herbst het 'n werknemer van Durbanville Hills geweier om hom en sy familielede 'n tafel in die restaurant te gee, glo omdat die wynmakery se beleid geen honde binne-in die restaurant toelaat nie. Daarbenewens beweer Herbst dat hy ook gebruik van die restaurant se toiletgeriewe geweier is, tensy 'n manlike lid van sy geselskap – en nie sy gidshond nie – hom vergesel. Dít, reken die Paralimpiese medaljewenner, was onbillike diskriminasie op grond van sy gestremdheid. Durbanville Hills beweer op hulle beurt dat die eis verstryk het. 

Die saak, wat by die Gelykheidshof aanhangig gemaak is, is in meer as een opsig belangrik. Eerstens sal dit na verwagting duidelikheid bied oor die regstandpunt wanneer 'n gemargina-liseerde individu se eis verstryk omdat 'n amptenaar van die hof versuim om hofstukke betyds te beteken. Boonop sal dit die eerste keer wees wat 'n Suid-Afrikaanse hoër hof uitspraak lewer oor of dit op onbillike diskriminasie neerkom om blinde persone toegang tot 'n perseel te weier omdat hulle van 'n gidshond vergesel word. Volgens die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging kom sulke voorvalle daagliks voor (lees ook die volgende artikel: https://publiceyemaritzburg.co.za/41658/woolies-welcomes-guide-dogs-apologises-incident/). Herbst se saak kan dus 'n presedent help skep. 

Regskliniekprokureur Monja Posthumus-Meyjes sê hoewel Suid-Afrika die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede en die Bevordering van Gelykheid bekragtig het, het die land tans geen wetgewing wat spesifiek bedoel is om persone met gestremdhede te beskerm nie. Die Witskrif op die Regte van Persone met Gestremdhede wat in Maart 2016 gepubliseer is, vorder teen 'n slakkepas, terwyl die reg oor diskriminasie en die beskerming van persone met gestremdhede ook nog nie juis deur regspraak ontwikkel is nie. Herbst se saak bied dus 'n belangrike geleentheid om nuwe stukrag te verleen aan wetgewende pogings om persone met gestremdhede teen wydverspreide diskriminasie te beskerm.   

Volgens dr Theo Broodryk, hoof van die Regskliniek, het hulle ingestem om Herbst te verteenwoordig omdat die saak strook met die Kliniek se visie om kwesbare gemeenskappe te bemagtig om hulle stem in regsake te laat hoor. Die Regskliniek het byvoorbeeld in 2016 in die Wes-Kaapse hooggeregshof 'n reuseoorwinning behaal vir slagoffers van gewetenlose besoldigingsbeslagleggingsbevele, wat die Konstitusionele Hof later bevestig het. Die Kliniek was ook voorheen betrokke by 'n Konstitusionele Hofsaak om die familieregte van plaaswerkers se volwasse kinders te beskerm.