Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsleerstoel in Suikerriet-bioraffinering
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 26/04/2018

Vanjaar is 'n DWT/NNS SA Navorsingsleerstoel in Suikerriet-bioraffinering in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch tot stand gebring. Prof Johann Görgens, hoof van die Biohulpbron-ingenieurswesegroep, Departement Prosesingenieurswese, is die bekleër van die leerstoel.

Die leerstoel het ten doel om die reeks produkte wat uit beskikbare suikerriet vervaardig word, te verbreed deur verder as die konvensionele produkte soos suiker, elektrisiteit en etanol te kyk en so die ekonomiese waarde te verhoog.

Die fokus van die navorsingsleerstoel sal wees op biomassa se opbreking, skeiding, omskakeling, waardetoevoeging en nuwe produkontwikkeling. Een van die belangrikste elemente sal wees om opleiding van suikerriet-raffineringswetenskaplikes en ingenieurs, veral op meesters- en PhD-vlak, te fasiliteer. Na-doktorale navorsers sal ook nagraadse programme deur toesig en mentorskap fasiliteer.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse suikerrietverwerkingsbedryf hoogs doeltreffend beskou word ten spyte van die hoë koste van suikerriet, het dit duidelik geword dat 'n deurbraak en selfs ontwrigtende tegnologieë nodig is om mededingend en volhoubaar te bly.

Prof Görgens sê: "Die nuwe navorsingsleerstoel wil die kernuitdaging aanspreek waarmee die suikerbedryf vir 'n geruime tyd reeds te make het, naamlik die behoefte om die reeks waardevolle produkte wat uit suikerriet verkry word, uit te brei. Dit vereis omvangryke assessering en ontwikkeling om te verseker dat nuwe, volhoubare sakegeleenthede vir die bedryf geskep word. Dit is die bydrae wat die leerstoel wil maak."

Die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse suikerbedryf in die gesig staar, is nie uniek nie. Suikerrietnywerhede wêreldwyd het die konsep van 'n geïntegreerde bioraffineringsbenadering ondersoek waarin suikerriet as 'n bron van biomassa beskou word wat verwerk kan word om veelvuldige chemiese en energieprodukte met toegevoegde waarde te produseer.

Die bestaande suikerrietbedryf is goed geplaas om dié bioreraffineringsbenadering te omarm aangesien ruwe suikermeulens reeds geskikte infrastruktuur het vir die insameling en verwerking van grootmaat biomassa, wat 'n groot voordeel bied bo die verwerking van ander lignosellulose-tipe veevoer. Daarbenewens moet 'n suikerriet-bioraffinadery selfversorgend wees in terme van eksterne energiebronne, wat produksiekoste verminder en die blootstelling aan skommelende brandstofkoste verminder.

Die ontwikkeling van hierdie nuwe tegnologieë is multidissiplinêr en daar word aansienlike samewerking vereis met ander ingenieursdissiplines (meganiese en elektroniese), wetenskaplike dissiplines (chemie, fisika en mikrobiologie) sowel as ekonomie, ten einde grondige tegnologies-ekonomiese regverdigings vir die mees belowende produkte te ontwikkel. Prof Görgens het reeds jarelange samewerking met die Sugar Milling Institute, RCL Foods, en die Universiteite van KwaZulu-Natal, Kaapstad en Fort Hare. Toekomstige samewerking sal uitgebrei word om plaaslike en internasionale medewerkers in te sluit.

Aan die einde van 2022 sal die Leerstoel in Suikerriet-bioraffinering vir twee verdere vyfjaarperiodes hernubaar wees.

Foto: Prof Johann Görgens (heel agter en inlas) saam met sy nagraadse student van Afrikalande.