Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg kry eerste pediatriese teater
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 19/04/2018

Tygerberg-hospitaal het onlangs die deure van sy eerste toegewese pediatriese en neonatale operasieteater geopen. Die teater, wat uniek toegerus is vir chirurgie op babas en kinders, is befonds deur Carte Blanche se Make A Difference-trust.

Voorheen moes pediatriese en neonatale operasies gedoen word in fasiliteite wat vir volwasse pasiënte ontwerp is.

“Hierdie wonderlike nuwe fasiliteit sal ons help om die gehalte van pasiëntesorg verbeter vir kinders wat chirurgiese ingryping benodig," het dr Paul Chiapparelli, Direkteur: Kliniese Dienste by die Tygerberg-hospitaal, tydens die amptelike opening van die teater gesê. “Ek wil Carte Blanche en die ander donateurs bedank vir hulle burgersin en hulle gereedheid om betrokke te raak by ʼn daad wat in wese ʼn bydrae tot nasiebou is."

Die koste van die projek beloop ongeveer R11 miljoen en sluit instrumente en toerusting in vir gewone asook laparoskopiese chirurgie spesifiek op kinders en pasgebore babas. Dit sluit twee laparoskopiese stapels en skope, chirurgiese ligte met ingeboude kameras, ʼn chirurgiese broeikas vir pasgebore babas, en ʼn veelvoudige-beeld digitale teater in – wat ook ʼn eerste is vir die Tygerberg-hospitaal.

“Dit is moeilik vir my om die waarde van hierdie spesiale teater te omskryf," het prof Daniel Sidler van die Afdeling Pediatriese Chirurgie by die Tygerberg-hospitaal en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch gesê. “Hierdie teater stel ons in staat om by te dra tot die gehalte van kinders se lewens. Met die laparoskopiese toerusting sal daar minder trauma, angs en lyding wees. Dit is nie net ʼn belegging in die infrastruktuur van die hospitaal nie, dit is ook ʼn belegging in kinders se lewens."

Carte Blanche se Make A Difference-trust het al meer as R150 miljoen ingesamel en 18 hospitaal-projekte regoor die land onderneem. Al die projekte poog om kinders se lewens te verbeter.

By die opening van die teater het die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, prof Nomafrench Mbombo, Carte Blanche en die ander donateurs bedank vir die nuwe fasiliteit, en het sy genoem dat publieke-private vennootskappe krities is vir die verbetering van die nasie se gesondheid.


Onderskrif: Die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, prof Nomafrench Mbombo, lewer ʼn praatjie by die opening van die nuwe pediatriese teater by Tygerberg-hospitaal.