Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Entrepreneurskaps-opleiding vir US-personeel
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/04/2018

Enactus Suid-Afrika, in samewerking met Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling Sosiale Impak, het onlangs ʼn werksessie by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. Enactus is ʼn internasionale organisasie sonder winsbejag wat daarop toegespits is om studente aan te spoor om die wêreld deur vernuwende entrepreneurskap te verbeter.

Die werksessie is by die Afrika-sentrum vir MIV-/Vigsbestuur op die Stellenbosch-kampus aangebied en het op die opleiding van personeel uit die verskillende universiteite in die Wes-Kaap gefokus. Personeel van die US, die Universiteit Kaapstad, die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie sal nou met studente werk en hulle help om met vernuwende sake-idees vorendag te kom wat ʼn sosiale-impak-agenda in hulle plaaslike gemeenskappe sal aandryf.

Volgens Renée Hector-Kannemeyer, Hoof van MGD en Adjunk-Direkteur: Sosiale Impak aan die US, was die doel van die werksessie om oplossings te vind vir sommige van die probleme wat deur gemeenskappe in Suid-Afrika in die gesig gestaar word. “Enactus bied ʼn wonderlike opleidingsplatform vir studente om met ʼn produk of sake-idee, wat volhoubare ontwikkelingsdoelwitte ondersteun en ʼn sterk sosiale impak het, vorendag te kom. Met die opleiding wat die personeel vandeesweek ontvang het, wil ons studente help om wyer te dink en entrepreneurskapsvaardighede te ontwikkel."

MGD sal as die kurator van die Enactus-program, wat studente aan die US van die nodige sakekennis en vaardighede sal voorsien om hulle eie inisiatiewe in werking te stel, optree.

Volgens die streeksprogramkoördineerder by Enactus, Bheki Mdzikwa, is Enactus ʼn studente-organisasie wat entrepreneurskap voorstaan. “Ons daag studente uit om die behoeftes in hulle gemeenskappe te identifiseer en entrepreneursoplossings vir hierdie probleme te vind. Vandag bied ons opleiding oor besigheidsimulasie vir fakulteitsadviseurs uit verskillende universiteite aan."

Mdzikwa het bygevoeg dat hulle fakulteitsadviseurs wil toerus om studente voor te berei op die wêreld van entrepreneurskap wanneer hulle na hulle instansies terugkeer.

Die tweedagwerksessie is een van talle wat regoor die land gehou word, met die klem op sake soos entrepreneurskap, leierskap, projekbestuur, projekidentifikasie en projekverruiming.

Mdzikwa het gesê dat die besluit om ʼn teenwoordigheid in alle Suid-Afrikaanse universiteite te handhaaf, studente in staat stel om dit wat hulle in lesings leer, in die praktyk toe te pas. Dit bied universiteite ook die geleentheid om ʼn positiewe impak op hulle gemeenskappe te hê – veral omdat Enactus studente voorberei om aan hulleself as werkskeppers, eerder as toekomstige werknemers, te dink.

Vir meer inligting oor Enactus Suid-Afrika, besoek http://enactus.org/.​

Foto: Personeel van die verskeie universiteite in die Wes-Kaap.