Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers ontvang gesogte Fogarty-toekennings
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 17/04/2018

​Twee navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van 'n groep van slegs agt  gesondheidsleiers van reg oor die wêreld wat finansiering van die Fogarty International Centre van die VSA se National Institutes of Health ontvang het.

Danksy die gesogte Emerging Global Leader (K43)-toekenning, is dit nou vir drs Angela Dramowski en Amy Slogrove moontlik om hul navorsingsaktiwiteite uit te brei en 'n langdurige impak op twee belangrike gesondheidskwessies in Suid-Afrika te maak. Hulle is albei aan die Departement Pediatrie en Kindergesondheid van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe verbonde.

Die Fogarty-sentrum ondersteun en fasiliteer gesondheidsnavorsing wêreldwyd en vestig vennootskappe tussen navorsingsentrums in die VSA en elders ter wêreld. Sodoende help die sentrum die volgende generasie wetenskaplikes oplei om globale gesondheidskwessies aan te pak. Die K43-toekenning bied finansiële ondersteuning aan die twee navorsers vir 'n tydperk van vyf jaar, asook finansiering vir 'n navorsingsprojek en loopbaanontwikkelingsgeleenthede.

Dramowski se navorsing fokus op die ontwikkeling van 'n versorgingspakket vir die voorkoming van neonatale sepsis in omgewings met beperkte hulpbronne. Op haar beurt ondersoek Slogrove en haar span die uitwerking van hipertensie-versteurings tydens swangerskap en MIV-infeksie op die gesondheid van Suid-Afrikaanse moeders en babas.

Versorgingspakket vir neonatale sepsis-voorkoming

Volens Dramowski sterf sowat 750 000 babas in middel- en lae-inkomstelande elke jaar aan bakteriële infeksies. 'n Nuwe benadering is dringend nodig om hierdie infeksies by pasgebore, gehospitaliseerde babas te voorkom – veral babas wat te vroeg gebore is of 'n lae geboortegewig het.

“Tot nou toe het die meeste van ons navorsing oor infeksies by pasgebore babas daarop gefokus om die omvang van die probleem, asook watter bakterieë vir hierdie infeksies en infeksieverwante sterftes verantwoordelik is, te verstaan," sê Dramowski. “Hierdie toekenning maak dit vir ons moontlik om ons navorsing uit te brei om sodoende innoverende maniere te vind om infeksies en infeksieverwante sterftes in pasgebore, gehospitaliseerde babas te voorkom."

Sy verduidelik dat 'n voorkomende versorgingspakket vir gebruik in omgewings met beperkte hulpbronne deur hul navorsing ontwikkel sal word, terwyl die lewensvatbaarheid en aanvaarbaarheid van dié strategie by babas in Suid-Afrikaanse hospitale tegelyk getoets sal word. “As die versorgingspakket suksesvol is, hoop ons om verdere finansiering te bekom om dit op groter skaal by gehospitaliseerde babas van ander lande met beperkte hulpbronne te toets."

Hipertensie-versteurings en MIV tydens swangerskap

Danksy die toekenning kan Slogrove haar belangrike MIV-verwante navorsing verder voer. Sy verduidelik dat hoër siekte- en sterftesyfers aangeteken word by MIV-negatiewe babas van MIV-positiewe ma's as by babas van MIV-negatiewe ma's. Dié tendens duur voort, ondanks beter gesondheid van ma's dansky antiretrovirale middels (ARM) en veiliger borsvoedingstegnieke.

“Selfs wanneer MIV-positiewe swanger vroue antiretrovirale behandeling ontvang en hul immuniteit nie erg gekompromitteer is nie, het hulle steeds 'n 50% hoër risiko vir ʼn stil- of voortydige geboorte, asook 'n 30% hoër risiko om aan 'n baba met 'n lae geboortegewig die lewe te skenk," sê Slogrove.

“Ons verstaan nog nie mooi waarom MIV-positiewe vroue wat antiretrovirale middels gebruik steeds geboorteprobleme ervaar nie. Hipertensie-versteurings wat met swangerskap verband hou, soos hoë bloeddruk, pre-eklampsie en eklampsie, verhoog ook die risiko vir negatiewe geboorte-uitkomste. ʼn Paar kleiner studies het getoon dat MIV-positiewe vroue wat antiretrovirale middels gebruik, 'n verhoogde risiko vir hierdie versteurings het."

Slogrove se navorsing, wat epidemiologies op ʼn populasievlak in die Wes-Kaap gedoen gaan word, het ten doel om te bepaal of MIV en antiretrovirale middels met hipertensie-versteurings tydens swangerskap geassosieer word en of dit tot negatiewe swangerskap-uitkomste lei.

Die Emerging Global Leader (K43)-toekenning sal Slogrove die kans bied om nou saam met ander internasionale navorsers op die gebied van MIV in moeders en kinders te werk.

Die toekenning maak dit voorts vir haar moontlik om steeds as pediater in 'n primêre gesondheidsorgkliniek net buite Worcester te werk. “Hierdie werk dra tot die navorsing by en help my om te konsentreer op dit wat werklik nodig, haalbaar en relevant vir die bevordering van die gesondheid van moeders en hul kinders is."

Besoek www.fic.nih.gov vir meer inligting oor die National Institutes of Health se Emerging Global Leader (K43)-toekennings.