Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regsbedryf diskrimineer teen mense met disleksie
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/04/2018

Mense met disleksie (lees- en skryfgestremdhede) sukkel om werk te kry in die regsbedryf omdat werkgewers advertensies op 'n manier skryf wat hulle uitsluit.

Dit is een van die vernaamste bevindings van 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Daar word gereeld in advertensies vir poste in die regsbedryf teen mense met disleksie gediskrimineer. Die bewoording in advertensies beperk hul kanse om werk te kry en sluit hulle indirek uit om vir werksgeleenthede oorweeg te word," sê Monja Posthumus-Meyjes, 'n prokureur by die US se Regskliniek. Sy het onlangs haar meestersgraad in die regte aan die US verwerf.

Posthumus-Meyjes se studie het die uitsluiting van mense met disleksie wat aansoek doen vir werk in die regsbedryf aangespreek en ook probeer vasstel of sodanige direkte of indirekte diskriminasie as 'n inherente werkvereiste en/of ongeregverdigbare ongerief vir werkgewers om sulke persone redelik te akkommodeer geregverdig kan word.

Sy het advertensies wat deur sommige Suid-Afrikaanse regsorganisasies geplaas is ontleed en ook gekyk na hofsake waar die kwessie van inherente vereistes van 'n werk as 'n vorm van indirekte diskriminasie ter sprake was.

Posthumus-Meyjes, wat self aan disleksie ly en groot uitdagings rondom skryf, lees en werksoek moes oorkom, het bevind dat die bewoording in advertensies neerkom op indirekte diskriminasie op grond van gestremdhede en dat indirekte diskriminasie nie rasioneel, regverdig of regverdigbaar was nie.

Sy sê mense met disleksie se kanse om werk in die regsbedryf te kry is skraal omdat hul aansoeke waarskynlik afgewys sal word want werkgewers dink hulle sal nie aan die inherente vereistes voldoen nie.Monja.jpg

“As mense met disleksie aansoek doen vir 'n pos wat uitstekende lees- en skryfvaardighede vereis, sal hulle waarskynlik nie vir 'n onderhoud genooi word nie, uitsluitlik op grond van hul gestremdheid."

Posthumus-Meyjes meen werkgewers is onkundig oor mense met gestremdhede en gebruik sekere beleide, prosedures, inherente werkvereistes asook die idee van ongeregverdigbare ongerief as 'n regverdiging om hulle nie aan te stel nie.

“Hoewel aangevoer kan word dat die vermoë om te lees en te skryf noodsaaklik is vir ʼn prokureur, kan uitsonderlike lees- en skryfvaardighede nie voorgehou word as 'n inherente vereiste vir die pos nie, aangesien dit 'n ongedefinieerde en subjektiewe kriterium is."

Posthumus-Meyjes sê dit het 'n neiging geword om advertensies op so 'n wyse te skryf dat werkgewers bevoordeel word en hulle dit as regverdiging kan gebruik om nie persone met gestremdhede aan te stel en/of op redelike wyse te akkommodeer nie.

Sy voeg by dat hierdie tendens voortduur ondanks die feit dat die Grondwet en die Wet op Gelyke Indiensneming persone met gestremdhede teen diskriminasie beskerm.

Posthumus-Meyjes sê advertensies moet die werklike inherente vereistes wat vir ʼn pos noodsaaklik is weerspieël en nie idees wat swak geformuleer en onbelangrik vir die werk is nie.

“Die enigste ding waarop die werkgewer behoort te fokus is of die aansoeker oor die nodige kwalifikasies beskik, en dan te oorweeg  ̶  sonder om na die gestremdheid te kyk  ̶  of die persoon die werk kan doen indien hy/sy op redelike wyse geakkommodeer word."

Posthumus-Meyjes sê mense met disleksie en ander gestremdhede is gewoonlik lojaal en hardwerkend en kan, gegewe die regte werksomgewing, produktiewe werknemers wees.

“As 'n kandidaat vir ʼn pos redelik geakkommodeer word, sal hy of sy in staat wees om effektief te funksioneer en aan die inherente vereistes van die werk te voldoen."

Sy sê daar is maniere waarop die regsbedryf mense met disleksie kan akkommodeer.

“Mense met disleksie kan, afhangende van hul leesvermoë, geakkommodeer word deur middel van diktate wat dan deur 'n sekretaresse getransskribeer word, of as hulle hul eie skryfwerk moet doen, kan spesiale disleksie-lettertipes, spesiale sleutelborde, of selfs rekenaarprogrammatuur hulle met die skryfproses help."

Posthumus-Meyjes meen hierdie hulpmiddels hoef nie duur te wees nie en kan nie as onregverdigbare ongerief vir werkgewers beskou word nie.

Sy is bekommerd oor die feit dat hoewel disleksie as 'n vorm van gestremdheid beskou kan word, daar nog steeds baie stigma aan dit kleef.

“Die mees algemene stigma is dat persone met disleksie nie in die witboordjie-sektor kan werk nie en tot blouboordjie-poste beperk moet word."

“Die stigma kan slegs oorwin word deur die wettige beskerming en bevordering van toegang tot werksgeleenthede. Die enigste vraag waarop gefokus moet word is of die persoon, indien hy/sy redelik geakkommodeer is, die kernaspekte van die werk kan uitvoer," voeg Posthumus-Meyjes by.

  • Hooffoto: Krediet: Pxhere
  • Foto 1: Monja Posthumus-Meyjes

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Monja Posthumus-Meyjes

Regskliniek

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3600

E-pos: mpostm@sun.ac.za

     UITGEREIK DEUR

​Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za