Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale samewerking werp vrugte af vir US en sy vennote
Outeur: Janka Pieper and Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 10/04/2018

Die verhouding tussen Northwestern-universiteit en die Universiteit Stellenbosch is 'n toonbeeld van strategiese samewerking en die bou van vennootskappe.

Dis dalk holrug gery, maar dis waar: Die wêreld is klein.

Een sonnige middag in 2004, duisende kilometer van die kampus van Northwestern-universiteit, loop Dévora Grynspan in by die kantoor van die Universiteit Stellenbosch (US) se Politieke Wetenskap-voorsitter. En daar sien Grynspan 'n bekende gesig – prof Amanda Gouws, 'n voormalige PhD-student van die Universiteit van Illinois, Urbana-Champaign, waar Grynspan van 1986 tot 1998 dosent in Latyns-Amerikaanse politiek was.

As direkteur van Northwestern se voormalige Kantoor vir Internasionale Programontwikkeling, was Grynspan op Stellenbosch om 'n pasgemaakte Study Abroad-program vir Northwestern se voorgraadse studente saam te stel. En dít het sy dan ook gedoen – met die hulp van die nagraadse student vir wie sy 20 jaar vantevore in Illinois klas gegee het.

 “Amanda was die sleutelpersoon by die Universiteit Stellenbosch wat ons van die begin af gehelp het om ons unieke program te skep, en sy is steeds ten nouste betrokke," sê Grynspan, deesdae ondervoorsitter van internasionale betrekkinge by Northwestern. “Sonder al haar harde werk en bydraes sou die program nie gewees het wat dit vandag is nie."

Gouws dra verskeie hoede. Benewens haar rol as professor in Politieke Wetenskap en bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in genderpolitiek aan die US, is sy 'n bekende aktivis en gepubliseerde akademikus oor vroueregte en -verteenwoordiging. Gouws en 'n kollega het ook die US se eerste beleid oor seksuele teistering in 1994 geskryf en 'n Vroueforum op die been gebring wat diensvoorwaardes vir vroue ondersoek. Sy was boonop die eerste vrou in die Universiteit se Aanstellingskomitee. Daarbenewens het sy van 2012 tot 2014 as 'n kommissaris in die Suid-Afrikaanse Kommissie vir Geslagsgelykheid gedien en in 2016 die bekleër van die SARChI-leerstoel geword – 'n akademiese pos wat tot onlangs nie veel vroue beskore was nie.

Deur haar verhouding met Northwestern strek die impak van Gouws se werk veel verder as Suid-Afrikaanse grense.

Kathleen Clark, 'n Northwestern-student wat die afgelope kwartaal in Suid-Afrika studeer het en Gouws in Evanston ontmoet het, sê: “Hoewel ek verwag het om 'n sterker kampvegter vir nie-dominante rasse en etnisiteite te word – en dít het beslis gebeur – het ek nie voorsien dat ek soveel meer passievol sou word oor vroueregte en feminisme gedurende my tyd in Suid-Afrika nie. En daarvoor sal ek professor Gouws ewig dankbaar bly. Sy is 'n voorbeeld van professionele sowel as persoonlike uitnemendheid – dít alles terwyl sy onvermoeid vir ander vroue baklei en boonop haar aansteeklike humorsin behou."

Die besonder suksesvolle Study Abroad-program het oor die jare nagenoeg 230 studente van Northwestern na Stellenbosch gebring vir 'n unieke ervaring in globale gesondheid. Hier leer hulle iets van alles – van die openbare gesondheidstelsel en sy dringendste uitdagings, tot Suid-Afrika se unieke historiese en politieke omstandighede.

Sedert daardie ontmoeting 13 jaar gelede het Grynspan en Gouws, saam met programdirekteur Jacob du Plessis en ander toegewyde personeellede en administrateurs by Northwestern en die US, 'n eiesoortige, veelsydige vennootskap gebou wat verskeie Study Abroad-programme, etlike navorsingsamewerkings tussen personeel en studente sowel as nuwe kurrikulumontwikkelingsprojekte insluit.

Die eerste groep van 16 voorgraadse Northwestern-studente het in 2005 die program oor openbare gesondheid in Suid-Afrika gevolg. Namate Grynspan en Gouws deur die jare saamgewerk het, het die kurrikulum verander en verbeter. Teen 2008 is 'n afdeling oor diversiteit en demokrasie in Suid-Afrika bygevoeg, en teen 2012 is die twee afdelings in een program gekombineer.

“Die doel was om die studente meer vertroud met die Suid-Afrikaanse omstandighede te maak," sê Gouws.

“Toe ons begin het, het die land nog geworstel om die hemelhoë vigsinfeksiesyfers onder bedwang te kry. 'n Sterk klem op die gesondheidsepidemie was belangrik, want ons wou dit in die sosiopolitieke konteks van 'n Afrikaland probeer verstaan," verduidelik sy.

“Daarom het ons besluit om studente ook oor die Suid-Afrikaanse politiek te leer."

Die kwartaal lange program, wat deesdae bekend is as Openbare Gesondheid en Ontwikkeling in Suid-Afrika, bied studente klasonderrig deur vooraanstaande gasdosente en praktisyns, sowel as terreinbesoeke aan plaaslike gesondheidsklinieke, gemeenskapsorganisasies, museums en historiese plekke.

Die hoogtepunt van die program is 'n uitstappie na Suid-Afrika se oase van natuurlewe, die Kruger Nasionale Park. Hier verdiep Northwestern-studente hulle vier dae lank in die natuurskoon van die park. Daarna besoek hulle Hamakuya, 'n landelike dorpie in die noorde van Suid-Afrika, waar studente by plaaslike inwoners bly, meer oor tradisionele gemeenskappe leer en aan 'n studie oor wateronsekerheid deelneem. Die uitstappie onder leiding van gerekende wetenskaplike en Northwestern-alumnus David Bunn eindig met 'n kersligete op die walle van die Olifantsrivier.

“Deur in 'n ruimte te wees waar jy met stilte gekonfronteer word en waar jou tydsbesef so anders is as die lewe in Evanston, begin verstaan baie studente hoe 'n eenvoudiger lewe sinvol kan wees vir diegene in afgeleë landelike dorpe – ongeag aanvanklike indrukke van armoede en ongelykheid," sê Du Plessis, 'n dosent in Sosiologie aan die US wat al langer as 'n dekade as programdirekteur dien.

“'n Denkverskuiwing vind plaas deur praktiese ervarings en deur met ander in hulle eie omgewing en op hulle eie voorwaardes om te gaan. Wat dalk eers vreemd voorkom, word dikwels bekend, terwyl die bekende dalk weer vreemd of selfs verkeerd voel vir sommige studente wanneer hulle aan die einde van die program huiswaarts keer," sê hy.

Vir baie Northwestern-studente wat sedert die aanvang van die program in 2005 aan die US studeer het, was dit méér as net 'n buitelandse studiebesoek. Só besin Northwestern-alumna Kalindi Shah, wat in 2012 aan die program deelgeneem het, oor haar lewensveranderende tyd in Suid-Afrika: “Onder leiding van passievolle wêreldklaspersoneel is ons kop eerste ingedompel in 'n verskeidenheid ryk, diverse ervarings – of dit nou was om in 'n lesing oor Julius Malema te leer, of om 'n kurrikulum oor seksuele gesondheid vir 'n nieregeringsorganisasie saam te stel," onthou sy. “In die geheel het die ervaring my lewe ten goede verander."

Sedertdien het Grynspan op die sukses van die voorgraadse program in Openbare Gesondheid voortgebou en met personeel en administrateurs van Northwestern oor verskeie vakrigtings heen saamgewerk om bykomende geleenthede in Suid-Afrika te skep.

BYKOMENDE STUDY ABROAD-GELEENTHEDE IN DIE GENEESKUNDE EN INGENIEURSWESE

Northwestern se Feinberg- mediese fakulteit het in 2008 'n mediese studenteuitruilprogram met die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by Tygerberghospitaal, Stellenbosch se geaffilieerde onderrighospitaal, ontwikkel. Teen Junie 2018 sal 99 mediese studente in hulle vierde jaar rotasies van vier tot ses weke in Suid-Afrika voltooi het.

Die twee universiteite het in 2016 ook 'n voorgraadse uitruilprogram bygevoeg om studente van albei instellings die geleentheid te bied om sowel akademies as kultureel verryk te word. Tot dusver het twee US-studente elk 'n kwartaal by Northwestern deurgebring, en het een Northwestern-student aan die uitruil in Suid-Afrika deelgeneem. Om die uitruilprogram vir alle US-studente toeganklik te maak, dek Northwestern studente se losies en mediese versekering.

En vanjaar is die vennootskap met nóg 'n voorgraadse Study Abroad-program uitgebrei: Globale Gesondheidsorgtegnologieë.

“Die program stel ingenieurstudente in staat om 'n praktiese indompelingservaring te hê deur direk met Suid-Afrikaners saam te werk om tegnologieë te ontwerp wat gesondheidsuitkomste kan verbeter," sê Karey Fuhs van die Kantoor vir Voorgraadse Buitelandse Leer, wat die program sedert 2010 bestuur en dit van die Universiteit van Kaapstad help oorskuif het.

“Die Universiteit Stellenbosch is 'n wonderlike vennoot vir hierdie program in die lig van hulle sterk ingenieursfakulteit, bande met die gemeenskap en die bedryf, internasionale programinfrastruktuur, en ons bestaande sterk verhouding," sê sy.

Die afgelope kwartaal het altesaam 16 ingenieurstudente deelgeneem aan dié program, wat gesamentlik deur proff Matthew Glucksberg en David Kelso van Northwestern se Departement Biomediese Ingenieurswese en kollegas van Suid-Afrika ontwerp is.

NUWE BANDE MET DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH

Internasionale vennootskappe bied talle geleenthede – nie net vir studente nie, maar ook vir personeellede en vakkundiges. Een voorbeeld hiervan is die toelaag van $1 miljoen oor drie en 'n halwe jaar wat die Andrew W. Mellon-stigting in 2016 aan Northwestern toegeken het om nuwe samewerking vir tussenuniversiteitsonderrig te ondersteun. Hiermee saam het die Mellon-stigting boonop $1,5 miljoen toegeken aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, om die Internasionale Konsortium vir Kritieseteorieprogramme (ICCTP) saam met kollegas van 'n aantal universiteite op die been te bring.

“Die doel van die konsortium is om kritiese teorie te internasionaliseer," sê Evan Mwangi, medeprofessor in Engels, Vergelykende Letterkunde en Afrikastudie by Northwestern. “Dit gaan hoofsaaklik daaroor om te verander hoe ons in die Weste kritiese teorie benader. Kritiese teorie word gewoonlik as Westerse filosofiese denke beskou, so nou probeer ons dít verander om ook sienings van die globale Suide – Afrika en Latyns-Amerika – in te sluit."

Met die ICCTP reeds in sy eerste jaar, het Northwestern tans 'n hele paar projekte aan die gang as deel van die projek vir kritiese teorie in die globale Suide, waarby Stellenbosch en verskeie ander instellings wêreldwyd betrokke is. Een van hierdie projekte handel oor die epistemologieë van die Indiese Oseaan en staan onder leiding van Mwangi en sy kollega dr Tina Steiner, professor in Engels aan die US. Die twee is verantwoordelik vir die ontwikkeling van 'n kursus oor Indiese Oseaan-epistemologieë deur Xhosa-reisbeskrywings na Indië in Engels te vertaal en akademiese artikels in 'n spesiale uitgawe van die vaktydskrif Eastern African Literary and Cultural Studies te publiseer.

Vir Mwangi maak Stellenbosch se geografiese ligging en kundigheid op die gebied dié instelling 'n uitstekende vennoot. Deur self die afgelope Maartmaand tyd in Suid-Afrika deur te bring, kon Mwangi die Suid-Afrikaanse kultuur behoorlik ervaar om al die fasette van die Indiese Oseaan-konsep beter te verstaan.

“Afrikakultuur is baie verbaal," sê hy. “'n Klomp idees en verhale oor die Indiese Oseaan word mondelings deur vertelkuns of volksverhale oorgedra, sonder dat dit ooit gepubliseer word. Jy moet met die mense van Afrika gaan gesels en van hulle leer."

Deur Suid-Afrikaanse genote en professore as deel van die projek na Northwestern te bring, bied op sy beurt Northwestern-studente en -navorsers insig in ander perspektiewe en 'n dieper begrip van die onderwerp op hulle tuiskampus. Die afgelope jaar het die doktorale student Serah Namulisa Kasembeli van die US byvoorbeeld ses maande by Northwestern deurgebring en hulle omvattende Africana-biblioteekversameling gebruik om navorsing oor kritiese teorie van Afrika te onderneem.

Hierdie tipe wedersydse globale verhoudingsbou is 'n voortdurende kernwerksaamheid by Northwestern-universiteit.

“Die uitbreiding van hierdie tipe uitruiling op alle vlakke en in alle vakrigtings om sodoende die kampus, die kurrikulum sowel as studente en personeel te internasionaliseer, is noodsaaklik vir 'n wêrelduniversiteit van ons kaliber," sê Grynspan.

“Soos met die meeste vennootskappe, wil ons personeellede aanmoedig om Suid-Afrika te besoek om hulle eweknieë daar te ontmoet en met hulle saam te werk," sê sy. “En natuurlik wil ons ook personeel en vakkundiges hierheen bring."

Foto: Prof Amanda Gouws van die Universiteit Stellenbosch (in die bakkie regs) en die wetenskaplike prof David Bunn (in die bakkie links) het in 2015 studente van Northwestern-universiteit op 'n vier dae lange uitstappie na die Kruger Nasionale Park geneem. Bunn, wat vir 'n hele paar jaar van sy loopbaan in die Kruger Nasionale Park gewerk het, het lesings oor die ekologie, natuurlewe en die geskiedenis van die park aangebied om studente aan die natuurlike habitat van die diere in die park bloot te stel.