Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 26 Maart 2018)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 28/03/2018

Die eerste geskeduleerde vergadering van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) vanjaar (26 Maart 2018) was ʼn historiese geleentheid in die lig van die Universiteit se amptelike totstandkoming uit Victoria Kollege 100 jaar gelede. Raadslede is trots daarop om hierdie mylpaal met die res van die Universiteitsgemeenskap te deel – in die wete dat die US sy aandeel aan die onreg van die verlede erken en hom tot regstelling en ontwikkeling verbind het.

By ons vergadering vandeesweek het die Raad kennis geneem van talle prestasies deur die US, maar ook die uitdagings waarvoor ons instelling te staan kom – alles teen die agtergrond van ontwikkelings in die res van die hoëronderwyssektor nasionaal sowel as internasionaal. Ons verwelkom dus die geleentheid om te help skep aan ʼn nuwe visie en strategie vir die US, wat ons instelling volhoubaar die toekoms in moet neem.

Sake wat die Raad vandeesweek goedgekeur het, sluit in die finansiële resultate vir 2017, medefinansiering vir STIAS, en ʼn nuwe beleid oor gestremdheidstoegang. Meer besonderhede volg hieronder.

Namens die Raad, baie sterkte vir die res van die jaar. Kom ons benut die Universiteit se Eeufees om nie net terug te kyk op ons reis tot dusver nie, maar ook vorentoe na waarheen ons as instelling op pad is.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

[In die foto hierbo, van links af, is mnr George Steyn, Raadsvoorsitter, mnr Lwando Nkamisa, SR-voorsitter, en prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier (foto: Stefan Els)]

Rekordgetal kwalifikasies in 2017

In sy verslag aan die Raad (klik hier vir volledige verslag) het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, uitgewys dat die US in die akademiese jaar 2017 weereens rekordgetalle kwalifikasies toegeken het – altesaam 9 032, wat 1 620 meesters- en 305 doktorsgrade insluit. Dat onderskeidelik 43,5% en 41% van laasgenoemde twee kategorieë aan bruin, swart en Indiërstudente gegaan het, wys dat die US ʼn nasionale bate is wat beduidend tot ontwikkeling in die land bydra.

Inskrywings volgens sosio-ekonomiese groep

Die Raad het verlede jaar ʼn hersiene Toelatingsbeleid vir die US goedgekeur in pas met ons strewe om toegang tot die instelling te verbreed. 'n Nuwe dimensie – sosio-ekonomiese benadeling – is bygevoeg, en word vir die eerste keer in die inname van 2018 weerspieël. (Klik hier vir volledige verslag.)

Finansiële bystand aan studente

Die Raad het kennis geneem van die Rektor se mededeling dat hoewel die hoëronderwyssektor oor die algemeen die staat se aankondiging verwelkom dat “ten volle gesubsidieerde gratis hoër onderwys en opleiding vir arm en werkersklas-Suid-Afrikaners" ingefaseer sal word, die volhoubare finansiering hiervan en die implikasies vir die finansiering en onafhanklikheid van instellings in die sektor kommer wek.

Talle studente het kennelik steeds finansiële bystand nodig. Die Raad steun die US se verlening van beursbystand aan studente en is dankbaar teenoor skenkers vir hulle bydraes in dié verband.

Koshuisplasing van eerstejaars

Ná die amptelike registrasietydperk is die diversiteitsprofiel van eerstejaars in US-koshuise op Stellenbosch- en Tygerbergkampus saam nou byna 50:50. Ons vorder dus wat die verbreding van toegang tot US-studentebehuising betref.

Finansiële resultate vir 2017

Die Raad het die US se finansiële resultate vir 2017 op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee (UK[R]) goedgekeur. Twee surplusse word soos volg verdeel:

  • ʼn Surplus van R20,684 miljoen op die hoofbegroting vir 2017 word ten volle aan die Universiteit se gebeurlikheidsreserwe toegewys. Die doel is om voorsiening te maak vir onvoorsiene uitgawes in 2018, hoofsaaklik in die lig van die waterkrisis weens die droogte in die Wes-Kaap, sodat die akademiese program van die Universiteit ononderbroke kan voortgaan. Die surplus is onder meer danksy besparings in munisipale dienste en oorhoofse uitgawes van die US verkry.
  • ʼn Surplus van R7,185 miljoen op die huisvestingsbegroting vir 2017 word ten volle na die huisvestingsreserwe oorgedra vir die voortsetting van herstelwerk en nuwe fasiliteite. Die surplus het ontstaan weens bouprojekte wat nie in die boekjaar afgehandel is nie.

Gesamentlike finansiering vir STIAS

Die Raad het op aanbeveling van sy UK(R) besluit om nóg ʼn vyfjaarsiklus van finansiering aan die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) toe te ken om die gesamentlike finansiering van dié instituut deur twee Sweedse stigtings – die Knut & Alice Wallenberg- (KAW-) en die Marianne & Marcus Wallenberg- (MMW-)stigting – te ewenaar.

Die Raad het ook sy voorneme bevestig om in 2023 wéér sy gesamentlike finansiering van STIAS vir ʼn verdere vyf jaar te hernu, mits die Wallenberg-finansiering ook in daardie stadium hernu word en die US tevrede is met die STIAS-program van die vorige vyf jaar.

Hierdie besluite volg ná ʼn soortgelyke besluit wat die eerste keer in 2012 geneem is. STIAS het intussen kennis ontvang dat die betrokke stigtings wél hulle finansiering van vanjaar af met 'n verdere vyf jaar hernu en dit weer in 2023 sal oorweeg. Die Raad het sy waardering hiervoor uitgespreek.

Beleid oor Gestremdheidstoegang

Die Raad het die Universiteit se hersiene Beleid oor Gestremdheidstoegang goedgekeur, met geringe wysigings wat die Institusionele Forum en die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee van die Raad voorgestel het. Die Senaat het ook die beleid aanbeveel.

Die beleid sit die beginsels en bepalings uiteen wat as rigsnoer behoort te dien vir die US om 'n universeel toeganklike instelling vir personeellede, besoekers en studente met gestremdhede te word. Dít impliseer 'n strewe na die insluiting van mense met gestremdhede, onder meer deur fisiese ruimtes toeganklik te maak en inligting toeganklik beskikbaar te stel.

Die beleid is laas in 2011 hersien, en tree op 1 April vanjaar in werking. Dit sal al om die vyf jaar hersien word, of vroeër indien nodig. Die gesamentlike “eienaars" van die beleid is die viserektore vir onderskeidelik Leer en Onderrig, en Sosiale Impak, Transformasie en Personeel. Die bygewerkte beleid moet so gou moontlik op die US se webtuiste, www.sun.ac.za, beskikbaar gestel  word.

Dekaan: Opvoedkunde

Die Raad het kennis geneem van die bestuur se besluit dat prof Johan Malan op 1 April 2018 by prof Yusef Waghid oorneem as waarnemende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde. Prof Waghid, wat dié pos die afgelope paar maande beklee het, is nie meer beskikbaar nie weens navorsingsverlof. Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het verslag gedoen dat Opvoedkunde tans ʼn vernuwingsproses ondergaan en dat prof Malan weens sy ervaring geskik is om die leisels oor te neem. Hy neem al langer as ʼn jaar as dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) waar. Prof Ronel du Preez, Visedekaan: Leer en Onderrig, sal nou in dié hoedanigheid instaan totdat prof Ingrid Woolard van die Universiteit van Kaapstad haar op 1 Mei as nuwe EBW-dekaan by die Universiteit aansluit.

Nuwe visie en strategiese raamwerk

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, het verslag gedoen oor vordering met die opstel van die US se nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024. Die instelling se huidige Institusionele Voorneme en Strategie loop vanjaar uit, en daarmee saam betree die Universiteit aanstons sy tweede bestaanseeu.

Beplanning het reeds in 2016 begin, vyf taakgroepe het aan bepaalde aspekte gewerk, en sowel die jaarlikse Institusionele Beplanningsforum as die Uitvoerende Bestuurdersvergadering het twee keer breedvoerig insette gelewer. Personeellede en studente is deur middel van opnames geraadpleeg en die Raad het vantevore aspekte soos die voorgestelde visie, missie en waardes van die Universiteit bespreek.

By sy afgelope vergadering het die Raad kennis geneem van die volgende ses voorgestelde kernstrategieë vir die US (elk met gepaardgaande doelstellings en doelwitte):

  • Om ʼn optimale studente-ervaring te bied
  • Dat leer en onderrig samewerkend (“collaborative") moet wees
  • Navorsing vir impak
  • Die uitbou van waardevolle vennootskappe
  • Om ʼn voorkeurwerkgewer te wees
  • Om ʼn US te bou wat gedy (“flourish")

Raadslede kry nou die geleentheid om skriftelik verdere insette te lewer. Terselfdertyd word oorlegpleging Universiteitswyd voortgesit. Die Institusionele Forum, fakulteitsrade en die Senaat sal onder meer geraadpleeg word voordat finale voorstelle in Junie vir goedkeuring voor die Raad sal dien.

Statuut

Die Raad is op hoogte gebring van vordering met die hersiening van die Statuut van die Universiteit, wat in 2016 begin het. Die proses tot dusver het oorlegpleging met kundiges en belangegroepe ingesluit. Formele oorlegpleging – binne die amptelike strukture van die US sowel as deur ʼn proses van openbare deelname – sal binnekort plaasvind.

Waterkrisis

Die Raad het kennis geneem van stappe deur die US om die waterkrisis weens die droogte in die Wes-Kaap te hanteer. Die Universiteit is verbind tot die ononderbroke voortsetting van die akademiese program. ʼn Multidimensionele strategie word gevolg om dít moontlik te maak:

  • Bestaande infrastruktuur word opgeknap om water te bespaar en te hergebruik.
  • Bykomende bronne word deur middel van boorgate en filtreeraanlegte ontsluit.
  • Die US werk op alle vlakke saam met die betrokke owerhede, veral die plaaslike munisipaliteite.
  • Personeellede en studente word deur middel van kommunikasieveldtogte by waterbesparing betrek.

Transformasie

Die Raad sal by sy vergadering in Junie spesifiek aandag gee aan transformasie aan die US. ʼn Versoek in dié verband is by die vorige Raadsvergadering (in November 2017) gerig en die buitelyne van die agenda vir so 'n bespreking is by die afgelope Raadsvergadering voorgelê. Dit behels hoofsaaklik dat daar na maniere gesoek moet word om transformasie aan die US te bevorder, te verdiep en te versnel. Dít kan binne die bestaande raamwerk van die US se Transformasieplan geskied, wat op drie hoofgebiede, naamlik mense, plekke en programme, konsentreer.

Implementering van die US se Taalbeleid

Die Taalkomitee van die Raad het verslag gedoen dat implementering van die US se Taalbeleid vlot verloop. Die Raad het kennis geneem van fakulteite se terugvoer oor die toepassing van hulle taalimplementeringsplanne. Die verslae toon oor die algemeen dat stelsels en prosesse geskep is om die implementering van die Taalbeleid in fakulteite te moniteer en uitdagings die hoof te bied. Die ombud van die Universiteit het die afgelope semester wéér geen formele klagtes oor taalaangeleenthede ontvang nie.

Uitnemendheid in navorsing, innovasie en nagraadse studie

By die afgelope Raadsvergadering was prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie (NINS), aan die beurt met ʼn omvattende jaarverslag oor sy portefeulje (klik hier vir die volledige verslag, en hier vir die PowerPoint-weergawe).

Die Raad het groot waardering uitgespreek vir die uitnemende prestasies in die onderskeie fokusgebiede van hierdie verantwoordelikheidsentrum, wat die US as ʼn toonaangewende hoëronderwysinstelling help posisioneer. Hoogtepunte sluit die volgende in:

  • Die getal nadoktorale genote aan die US het die afgelope vyf jaar meer as verdubbel – van 168 in 2012 tot 352 in 2017. Dié genote dra tot die hoë navorsingsuitset van die Universiteit by en maak die kern uit van ʼn volgende geslag akademici.
  • Navorsingsleerstoele aan die US het van 23 in 2013 tot die huidige 43 aangegroei met die byvoeging van 'n verdere twee gedurende 2017.
  • Die getal navorsers aan die US met 'n gradering van die Nasionale Navorsingstigting het toegeneem van 306 in 2012 tot 432 verlede jaar. Dat dít bykans die helfte van die Universiteit se voltydse akademiese personeellede uitmaak, getuig van die instelling se navorsingsdiepte.
  • Die US is steeds die mees navorsingsproduktiewe instelling in die land met 3,11 geweegde navorsingsuitsette per voltydse akademiese personeellid (publikasies sowel as afgestudeerde nagraadse studente) en ʼn navorsingspublikasieuitset per kop van 1,58 (syfers van 2016 wat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding in 2017 bekend gemaak het).
  • Ook wat gehalte betref, staan die US se navorsingsuitsette uit. Die US beskik oor die hoogste getal navorsingsitate per publikasie in die land.
  • Met betrekking tot nagraadse studentefinansiering en -steun het die US in 2017 beurse ter waarde van R234 miljoen bestuur (waarvan R30 miljoen uit die instelling se eie begroting gekom het).
  • Die US bly die nasionale leier ten opsigte van die getal gepubliseerde patentaansoeke (108 van 2009 tot 2017), wat toon dat die instelling besig is om nuwe produkte en dienste te skep wat tot ekonomiese en maatskaplike verbetering in die land bydra. Boonop word dít doeltreffend gedoen – met ʼn groter uitset en teen 'n laer koste as by Amerikaanse universiteite.

Eeufees

Die Raad het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, gelukgewens met die Universiteit se Eeufeesprojek, wat onder haar aanvoering staan. Die Raad het met waardering kennis geneem van die omsigtige benadering om meestal bestaande geleenthede op die US se kalender vir die Eeufees te gebruik, met slegs enkele bykomende Eeufeesspesifieke aktiwiteite.

Vir meer inligting oor die Eeufees, besoek gerus www.sun.ac.za/100 – nie net vir die jongste nuus oor gebeure en geleenthede nie, maar ook vir boeiende bydraes onder “Matiestemme". Dié afdeling vertel die verhale van lede van die US se multikulturele gemeenskap studente, personeel, alumni en ander belanghebbendes, wat van wêreldbekende navorsers tot baanbrekers in die bedryf strek.

Raadslede

Die Studenteraad (SR) het twee lede afgevaardig om in 2018 in die Raad te dien: mnre Lwando Nkamisa, SR-voorsitter, en Euwen Etson, voorsitter van die Akademiese Belangeraad.

Die ondervoorsitter van die Raad, Prof PW van der Walt, het sy laaste vergadering bygewoon. Sy termyn verstryk en hy het die statutêre ouderdomsperk bereik. Hy was sedert 2 April 2010 'n Raadslid wat deur skenkers verkies is, en het sedert 7 Mei 2012 as ondervoorsitter gedien. Prof Wannie Carstens se termyn verstryk ook, en hy het hom nie weer verkiesbaar gestel nie. Die Raad het uittredende Raadslede vir hul toegewyde diens bedank.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die Raad is vir 18 Junie geskeduleer.