Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse Skool bereik belangrike mylpaal in Universiteit se Eeufeesjaar
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/03/2018

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se Nagraadse Skool het deur die plafon van 100 grade gebreek met die toekenning van 'n verdere 14 grade tydens die Fakulteit se gradeplegtigheid op Donderdag, 22 Maart. Dit bring die getal grade wat in die afgelope agt jaar toegeken is op altesaam 114 te staan. Die mylpaal val ook saam met die Universiteit Stellenbosch (US) se 100-jarige bestaansjaar.

“Die Fakulteit is baie opgewonde om hierdie ongelooflike mylpaal in die Eeufeesjaar te kan vier. Wat in 2010 as 'n Hoop-projekinisiatief begin het, het gelei tot hierdie akademiese mylpaal in die 2017- akademiese jaar. Ons het nie alleen die mikpunt van 100 gehaal nie, maar dit ver verby gesteek en 114 grade gelewer. Al het dit dalk as 'n ambisieuse Hoop-projek begin, is dit vandag die Fakulteit se vlagskipprojek," sê prof Anthony Leysens, die Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

“Die Nagraadse Skool word as die grootste suksesverhaal in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe beskou, aangesien ons 'n omvattende en doelgerigte stel maatreëls ontwikkel en geïmplementeer het om huidige en toekomstige tekorte aan opgeleide akademici in die lettere, geestewetenskappe en sosiale wetenskappe in Suid-Afrika, en op die kontinent in sy geheel, aan te spreek," sê dr Cindy Steenekamp, Voorsitter van die Raad van die Nagraadse Skool.

In 2012 is die eerste 19 doktorale grade deur die Skool toegeken, gevolg deur 21 in 2013, 20 in 2014, 13 in 2015, 20 in 2016 en 21 in 2017.

Hierdie gegradueerdes voltooi ook hulle doktorale grade binne 'n rekordtyd.

“Ons registreer 'n gemiddelde inname van 22 studente elke jaar en lewer jaarliks nagenoeg 19 gegradueerdes, wat beteken die oorgrote meerderheid (75%) van ons gegradueerdes voltooi hul graad in die vereiste drie jaar of minder. Op dié manier kon die Skool daarin slaag om die aantal jare wat dit PhD-studente in die fakulteit neem om hul PhD-graad te voltooi, met die helfte te sny. Die meeste studente neem vyf jaar om hulle doktorale studie te voltooi, terwyl studente wat via die Skool inskryf, oor die algemeen hul graad binne twee-en-'n-half jaar voltooi," verduidelik Steenekamp.

Die Nagraadse Skool se suksesse oor die afgelope sewe jaar is veelbetekenend, veral omdat Suid-Afrika ooreenkomstig die Nasionale Ontwikkelingsplan 5 000 nuwe doktorale gegradueerdes teen 2030 moet lewer. Die land is nog ver van dié mikpunt, aangesien slegs 2 530 PhD-grade in die 2015- akademiese jaar toegeken is.

Alhoewel doktorale inskrywings in die Fakulteit voortdurend styg, verteenwoordig die stigting van die Nagraadse Skool in 2010 'n belangrike wending in doktorale opvoeding. Die gemiddelde toename in inskrywings het van 25% tot 65% gestyg met die totstandkoming van die Nagraadse Skool se doktorale vakkundigheidsprogram. Die Nagraadse Skool het tussen 2010 en 2017 meer as 180 kandidate in agt kohorte ingeskryf, wat ongeveer 'n kwart van die doktorale inskrywings in die Fakulteit verteenwoordig.

Die Nagraadse Skool het in 2010 as die Universiteit Stellenbosch se bydrae tot die Vennootskap vir Afrika se Volgende Generasie Akademici (PANGeA) tot stand gekom. PANGeA is 'n “samewerkende netwerk van leidende Afrika-universiteite wat navorsingskapasiteit en -vertroue ontwikkel ten einde Afrika-kundigheid vir Afrika se uitdagings in te span". Die netwerk beoog dit om hoër onderwys in Afrika te verstewig deur geleenthede te skep vir ten volle befondsde doktorale studie in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe; samewerkende navorsingsprojekte en ‑uitruiling onder vennootinstellings; die ontwikkeling van navorsingskapasiteit ter plaatse; en, oor die langer termyn, die totstandkoming van gesamentlike doktorale graadprogramme spesifiek in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe.

Die universiteite wat tot die PANGeA-netwerk behoort, sluit in die Universiteit van Botswana, die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië, die Universiteit van Ghana, die Makerere-universiteit in Uganda, die Universiteit van Malawi, die Universiteit van Nairobi in Kenia, die Universiteit Stellenbosch, en die Universiteit van Yaoundé I in Kameroen. PANGeA word dus verryk deur die ontwikkeling van 'n aktiewe voetspoor waarvolgens intellektuele diversiteit in verband met taal-, kulturele en nasionale agtergronde ontgin kan word.

Van die 114 doktorale grade wat toegeken is, ingesluit die laaste 14 wat Donderdag hul graad behaal het, is 85% BSI(diversiteit)-kandidate; 62% is manlik en 38% is vroulik; en 48% is personeellede in die PANGeA-netwerk wat sedertdien weer hulle akademiese posisies by hulle tuisinstellings opgeneem het. Hierdie gegradueerdes kom ook uit 'n verskeidenheid lande in Afrika, onder meer Angola (2 kandidate), Botswana (2), die Demokratiese Republiek van die Kongo (1), Gaboen (2), Ghana (6), Kenia (11), Lesotho (1), Malawi (12), Nigerië (2), Tanzanië (13), Uganda (15), Zimbabwe (20) en Suid-Afrika (27).

​“'n Groot persentasie van ons gegradueerdes en alumni bly in die hoëronderwyssektor in Afrika aan, of tree tot die sektor toe. Ons is trots daarop dat ons Afrika se kapasiteit verstewig om nuwe kennis te genereer deur die uitvloei van kundigheid uit Afrika te stuit en die afname in wetenskap en vakkundigheid in Afrika se hoër onderwys om te keer. Deur die Nagraadse Skool en ons betrokkenheid by PANGeA bevorder ons Afrika se volgende generasie leiers, akademici en vakkundiges," sê Steenekamp.

Van die navorsingsonderwerpe waarop gegradueerdes oor die jare gefokus het, sluit in Etnografie en die argief: Mag en politiek in vyf Suid-Afrikaanse musiekargiewe; Beoordeling en evaluering in Zimbabwiese parlementêre diskoers en die uitbeelding daarvan in koerantartikels; Ghoema van die Kaap: Die lewe en musiek van Taliep Petersen (1950-2006); Taal en die politiek van identiteit in Suid-Afrika: Die geval van Zimbabwiese (Shona- en Ndebelesprekende) migrante in Johannesburg; Die aard en omvang van bestuurstake wat deur vrywilligers op bestuurskomitees van niewinsgewende organisasies verrig word; en Skep 'onaangeraakte burgers' hulle beraadslagende demokrasie aanlyn? 'n Kritiese ontleding van vroue-aktivistemedia in Zimbabwe.

Foto: Hier is van die 114 doktorale graduandi wat van die Nagraadse Skool oor die laaste agt jaar gegradueer het. (Anton Jordaan, SSFD)