Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US, Antwerpen verleen gesamentlike PhD in AgriWetenskappe
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/03/2018

Dr Alanna Rebelo het Dinsdag (20 Maart 2018) die eerste student in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) geword aan wie 'n gesamentlike doktorsgraad deur die US en die Universiteit van Antwerpen in België toegeken is. Sy het haar doktorsgraad in Bewaringsekologie by die derde seremonie van die US se Maart-gradeplegtigheid ontvang. Rebelo se studieleiers was prof Karen Esler van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en prof Patrick Meire van die Ekosisteembestuursgroep by die Universiteit van Antwerpen.

Dit was slegs die tweede keer dat ʼn gesamentlike doktorsgraad in die Fakulteit AgriWetenskappe verleen is. Die eerste gesamentlike graad is in 2017 deur die US en die Universiteit van Bordeux in Frankryk toegeken. Die Universiteit van Antwerpen is een van 21 vennote met wie die US ooreenkomste vir gesamentlike doktorsgrade het. Benewens Rebelo sal twee ander gesamentlike doktorsgrade ook tydens die Maart-gradeplegtigheid toegeken word. Dit bring die aantal gesamentlike doktorsgrade wat die US tot nou verleen het op 23 te staan.

Rebelo het in haar doktorale studie onder andere gekyk na die voordele wat palmiet-vleilande inhou vir ekosisteme, soos om die krag van vloede te verminder, water te suiwer, habitat vir biodiversiteit te voorsien en sediment in stand te hou. Sy beskryf haarself as 'n vleiland-ekoloog en sê baie mense het al van palmiet gehoor, maar nie baie weet watter waardevolle vleilandplant dit is nie.

Rebelo gaan binnekort met na-doktorale navorsing aan die US begin en sê sy het goeie herinneringe van haar reis na 'n gesamentlike doktorsgraad.

“Ek het regtig my PhD geniet; geleer hoe dinge by 'n nuwe (internasionale) instelling werk en bo alles van my navorsingsgroep gehou."

“Ek kon kursusse in die buiteland en konferensies bywoon en navorsingsreise onderneem. Ek was bevoorreg om interessante navorsers van regoor die wêreld te ontmoet."

“België is 'n wonderlike land waar ek verskeie geleenthede gekry het. Die baie koffie-afsprake met my navorsingsgroep het my werklik gehelp om my PhD te voltooi, asook om verhoudings met medestudente te bou en interessante navorsingsidees en samewerking te begin."

Sy raai studente aan wat 'n gesamentlike doktorsgraad wil doen om die regte studieleier en navorsingsgroep te kies.

“Maak seker julle deel dieselfde belangstelling en kies 'n groep met enkele na-doktorale navorsers in jou studieveld aangesien hulle gewoonlik meer tyd het, en beskikbaar sal wees om vrae te beantwoord of terugvoer te gee."

Rebelo het haar gesamentlike doktorsgraad behaal in dieselfde jaar waarin die US sy Eeufees herdenk en ook 25 jaar van internasionalisering vier. Internasionale bedrywighede by die US word deur Universiteit Stellenbosch Internasionaal gedryf. Dié afdeling het sy deure in 1993 as die destydse Kantoor vir Internasionale Betrekkinge geopen en speel 'n belangrike rol om die US as veranker in Afrika en met ʼn globale reikwydte te posisioneer.

By dieselfde seremonie is verskeie ander doktorsgrade in AgriWetenskappe met buitelandse studieleiers toegeken. Doktorsgrade in Wynbiotegnologie is ook aan Bahareh Bagheri, Heinrich du Plessis, Samantha Fairbairn en Carla Weightman verleen vir hul wynverwante navorsing.