Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Om gemeenskap te help’ die motivering agter Rory se PhD
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 20/03/2018

Dr Rory Dunbar en sy vriendelike dienshond, Vaughn, is bekende gesigte by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). En vandag (20 Maart 2018) was hul ook saam by die derde gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) waartydens Dunbar ʼn PhD in Pediatrie en Kindergesondheid  ontvang het.

WhatsApp Image 2018-03-22 at 08.51.47.jpeg


Dunbar is die Datasentrumbestuurder van die Desmond Tutu TB-sentrum. ʼn PhD is vandeesweek aan hom toegeken vir die ontwikkeling van ʼn model vir die virtuele implementering van TB-diagnostiek.

Prof Nulda Beyers van die Pediatrie en Kindergesondheid en direkteur van die Desmond Tutu TB sentrum by die Universiteit Stellenbosch, het 'n uittreksel van Dunbar se navorsing voorgelees waarna sy die Universiteit bedank het vir die ondersteuning wat gegee is vir Dunbar in sy studies. Sy het spesiale vermelding gemaak van die Universiteit se inisiatiewe om studente met gestremdhede te ondersteun en dat die institusie die beginsels van gelykheid uitleef. 

Heel toepaslik het hy die graad slegs vier dae voor Wêreld-TB-dag ontvang.

“Ek geniet die werk en dis vervullend om iets te doen wat die gemeenskap kan help," voer hy as motivering aan hoekom hy sy PhD gedoen het terwyl hy ook heeltyds werk. Sy navorsing kan die Departement van Gesondheid help om nuwe diagnostiese TB-instrumente te evalueer.  

Dunbar is ʼn kwadrupleeg met skade aan sy C4-, C5- en C6-werwels, wat beteken hy is van die bors af verlam en het beperkte gebruik van sy hande. Vaughn help hom om rond te beweeg deur deure oop- en toe te maak en goed vir hom op te tel. Dié dienshond is ook opgelei om “om hulp te roep" in geval Dunbar self nie kan nie. “Hy's ook goeie geselskap," prys Dunbar dié dierbare Labrador, wat altyd met sy sagte speelding by besoekers aan die kantoor spog.

Dunbar het ʼn agtergrond in inligtingstegnologie (IT) en het 12 jaar lede as ʼn data-ontleder by die FGGW aangesluit. “Werk in hierdie veld het my belangstelling in navorsing geprikkel, dus het ek besluit om my kennis en vaardighede uit te brei. Ek het eers my honneursgraad in epidemiologie behaal en daarna my meestersgraad, ook in epidemiologie. Daarna het almal begin vra 'wanneer doen jy jou PhD?' Toe die geleentheid hom voorgedoen het, het ek dit aangegryp," verduidelik Dunbar. 

Terwyl hy sy PhD gedoen het, het Dunbar die US se HB & MJ Thom-beurs ontvang, wat elke jaar toegeken word aan kandidate wat positiewe leierskappotensiaal in enige veld toon en ʼn goeie akademiese rekord in vorige studies het. Hy het die beurs gebruik om na die Liverpool School of Hygiene and Tropical Medicine in die Verenigde Koninkryk te reis en met ʼn kundige in operasionele modellering te konsulteer. Dr. Ivor Langley was ook die medetoesighouer van sy studie.

“Dis vir my nogal duur om oorsee te gaan, want ek moet iemand saamvat wat met my mediese behoeftes kan help. Die beurs het my in staat gestel om vir ʼn maand oor te gaan," sê Dunbar.

Hy is baie dankbaar jeens die FGGW en veral die Departement Pediatrie en Kindergesondheid vir hul voortgesette hulp. “Almal hier was baie ondersteunend – van die direkteur tot die datavasleggers. Hulle het altyd gevra hoe dit met my studies gaan, hulp aangebied en dinge in plek gestel om my lewe makliker te maak." 

​