Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Derde gradeplegtigheid: “Die Stellenbosch van vandag is 'n veel beter universiteit"
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 20/03/2018

​Studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteite AgriWetenskappe sowel as Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het gistermiddag hulle grade ontvang, terwyl die Universiteit ook eredoktorsgrade aan prof Peter Jones, prof André Nel en dr Imtiaz Sooliman toegeken het.

​In sy verwelkomingstoespraak by die plegtigheid het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê: “Teen die einde van hierdie week se gradeplegtighede, en na dié van Desember 2017, sal ons weer 'n rekordgetal kwalifikasies vir 'n enkele akademiese jaar toegeken het  ̶  altesaam 9 032, wat 1 620 magistergrade en 305 doktorsgrade insluit. Dit is fenomenale getalle! Die Universiteit Stellenbosch se bydrae as nasionale bate is duidelik van onskatbare waarde."

 


Teen die agtergrond van waardevolle lesse uit die instelling se komplekse geskiedenis, is die US Eeufees 'n nuwe begin vir die Universiteit, het De Villiers gesê. “Ons streef daarna om 'n relevante instelling te wees wat 'n kernrol vervul in die ontwikkeling van ons nasie en vasteland. En ons is daartoe verbind om tot 'n samelewing van waardigheid, genesing, geregtigheid, vryheid en gelykheid vir almal by te dra."

 


“Ek sê altyd vir mense die Stellenbosch van vandag is 'n veel beter universiteit as toe ek my MBChB en MMed in onderskeidelik 1983 en 1991 hier behaal het. En dis hoofsaaklik om drie redes: Ons is meer navorsingsintensief; ons word al hoe meer divers en handhaaf terselfdertyd 'n moduleslaagsyfer van meer as 85% – een van die hoogstes in die land – in pas met ons doel om toegang met sukses te verbeter, en ons het 'n sterker internasionale inslag."

“Dít word ook weerspieël in AgriWetenskappe, een van die Universiteit se vier stigtersfakulteite. Die  Fakulteit word wêreldwyd hoog aangeslaan, en beklee die eerste plek in Afrika op die QS-wêrelduniversiteitsranglys volgens vakgebied vir sowel landbou as bosbou," het hy bygevoeg.

 


 Jones, Nel en Sooliman, wat eredoktorsgrade ontvang het, het hul dankbaarheid uitgespreek: 

Jones: "Geen eer is so groot soos die eer wat jy in jou land kry nie. Ek is so dankbaar vir die mense wie se bystand my tot hier gebring het."

Nel: "Dit is 'n groot eer en voorreg om die eer van my alma mater te kry." Nel het almal, onder wie sy vrou, Margaret Gardiner, bedank vir die jarelange ondersteuning.

Sooliman: "Ek is geëerd om vereer te word deur die Universiteit en die mense van die dorp."

 Om die Rektor se toespraak te lees, klik hier.​

Om meer van die ontvangers van die 13  eregrade te wete te kom, klik hier ​​