Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingenieurswese vereer top skole
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 19/03/2018

"Dit is vir die Fakulteit Ingenieurswese 'n groot eer om met u geassosieer te wees," het August Engelbrecht tydens 'n spesiale geleentheid op 17 Maart 2018 aan 'n gehoor van 300 mense gesê. "Vandag gee ons erkenning aan skoolhoofde, hul bestuurspanne, ouers en leerders vir hul uitstaande akademiese uitslae in die 2017 matriekeksamen."

Tydens die funksie is sertifikate van erkenning aan 49 skole op die Wes-Kaap Onderwysdepartement se merietelys oorhandig. "Beduidende getalle leerders van hierdie skole kom by Universiteit Stellenbosch (US), en veral by die Fakulteit Ingenieurswese, studeer," het mnr Engelbrecht, wat verantwoordelik is vir die werwing en retensie van studente by die Fakulteit Ingenieurswese, bygevoeg.

Skole is verteenwoordig deur skoolhoofde of hul afgevaardigdes, sowel as hul skool se top Matrieks en hul ouers.

In sy toespraak het die dekaan van die Fakulteit, prof Wikus van Niekerk, gesê: "Ingenieurs maak drome waar! Ons glo ons maak 'n groot impak op die samelewing, deur die lewensgehalte te verbeter, byvoorbeeld deur elektrisiteit en skoon water te verskaf."

Hy het leerders aangemoedig om Stellenbosch Ingenieurswese as hul eerste keuse van studie in 2019 te oorweeg. "Hoekom behoort jy Ingenieurswese aan die US te studeer?" het hy hulle gevra. Hy het dan 'n paar goeie redes verskaf:

1. Die Fakulteit het 'n uitstekende reputasie. Dit is die enigste SA ingenieursfakulteit wat die afgelope tien jaar ECSA-akkreditasie ontvang het sonder enige tekortkominge;

2. Die Fakulteit het 'n hoë suksessyfer: 72% van eerstejaars behaal inderdaad hul BIng-graad;

3. Daar is 'n gemeenskaplike eerstejaarsprogram wat blootstelling aan alle dissiplines bied. Dit laat studente toe om gedurende hul eerste jaar te besluit oor die dissipline waarin hulle regtig belangstel. As hul prestasie bevredigend is, kan hulle na 'n ander program in hul tweede jaar oorskakel as hulle dit verkies;

4. Die Fakulteit het 'n uitstekende navorsingsprogram wat sterk deur industrie ondersteun word;

5. Koshuislewe op Matieland is fenomenaal, en sterk mentorskapprogramme bestaan in koshuise en die Fakulteit.

6. Die Fakulteit Ingenieurswese bied goeie ondersteuning aan sy studente. Afgesien van twee personeellede​​ wat toegewy is om na die belange van studente om te sien, is daar ook twee deeltydse opvoedkundige sielkundiges wat ingenieurstudente met akademiese en persoonlike uitdagings help. Die Fakulteit het 'n gevestigde tutorprogram waar senior studente groepe eerstejaars help wat met tegniese modules worstel.

Die gehoor het ook gehoor dat 72 van die huidige 780 eerstejaar Matie ingenieurstudente 'n gemiddeld van 90% of meer in Matriek behaal het.

"'n Goeie voorbeeld van die vertroue wat die US in die Fakulteit Ingenieurswese geplaas het, is die feit dat daar sowat een miljard rand aan die opknapping van die ingenieursgeboukompleks bestee word. As jy na hierdie Fakulteit kom, sal jy deel word van 'n dinamiese, groeiende fakulteit," het die dekaan bygevoeg om sy argument te versterk waarom leerders Stellenbosch Ingenieurswese vir hul studie moet kies.

Die Fakulteit het toe sy troefkaart gespeel en Janke van Dyk voorgestel en vereer. Janke, wat van die Hoërskool Bellville afkomstig is, was die land se top matriek in 2017 en het 'n verstommende gemiddeld van 98,3% behaal. En wat doen Janke hierdie jaar? Hierdie skerpsinnige jong dame studeer Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch!

Foto collage:

Foto links: Prof Wikus van Niekerk (dekaan) en mev Phadiela Cooper (skoolhoof: Centre for Science & Technology, COSAT).

Foto middel: Van links: Prof Steven Bradshaw (voorsitter: Prosesingenieurswese, wat die program in Chemiese Ingenieurswese aanbied), Janke van Dyk (top Matriek in 2017 en tans eerstejaar in Chemiese Ingenieurswese) en August Engelbrecht (verantwoordelik vir studentewerwing en -retensie by Ingenieurswese).

Foto regs: Prof Wikus van Niekerk (dekaan) en mnr Werner van Rensburg (viserektor: Paul Roos Gimnasium).