Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vyf maniere om 5g sout per dag te gebruik
Outeur: Irene Labuschagne
Gepubliseer: 15/03/2018

Hierdie inligtingsblad is saamgestel deur die Voedingsinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch (NICUS).

Wêreld Soutbewustheidsweek word van 12 tot 18 Maart 2018 herdenk. Baie mense gebruik heelwat meer sout as wat nodig is, en verhoog daardeur hul kans om hoë bloeddruk te ontwikkel wat tot beroerte, hartsiekte en ʼn hartaanval kan lei.

Wanneer ʼn mens te veel sout gebruik, gaar die oorskot natrium (ʼn mineraal wat in sout voorkom) in die bloedstroom op en veroorsaak dat die liggaam water behou om die natrium te verdun. Dit verhoog die hoeveelheid vloeistof wat selle omring en die bloed se volume in die bloedstroom. ʼn Hoër volume bloed veroorsaak dat die hart harder moet werk en plaas druk op die bloedvate. Oor tyd veroorsaak die ekstra werk en druk dat bloedvate verstram, wat dan lei tot hoë bloeddruk, beroerte, hartaanvalle en hartversaking.

Navorsing koppel ook die hoë inname van sout, natrium of souterige kosse aan 'n verhoogde risiko vir maagkanker.

Hoeveel sout word aanbeveel?

Baie mense besef nie dat hulle te veel sout eet nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat volwassenes minder as 5g (ʼn teelepel) sout per dag eet. Alhoewel, deur jou soutinname met slegs 2g per dag te verlaag jou kanse vir ʼn hartverwante episode met soveel al 20% kan verminder.

Dit kan uitdagend wees om jou soutinname te beheer. Alle kosse wat sout bevat proe nie noodwendig na sout nie, en ʼn mens kan sout inneem sonder om dit te besef. Dit is moeilik om jou soutinname te verminder, aangesien baie voorbereide kosse alreeds sout bevat, wat jy nie kan uithaal nie. Die meerderheid sout in ons dieet (soveel as 60%) kom voor in voorbereide kosse, waarvan margarien, bottersmeer, aftreksel-blokkies, soppoeier, ontbytgrane, brood en southappies die hoof kwaaddoeners is. Die oorblywende 40% sout in die dieet word aan tafel bygevoeg.

Hier is vyf maklike strategieë wat jy kan volg om jou te help om die voorgestelde limiet van 5g sout per dag te bereik:

1.    Gaan voedsel-etikette na vir soutinhoud

As “natrium" of “sout" onder die eerste drie bestanddele op ʼn produk se voedsel-etiket of bestanddelelys genoem word, bevat dit waarskynlik baie sout. Kos wat meer as 1,5g sout per 100g bevat het ʼn hoë soutinhoud en moet vermy word. Produkte wat minder as 0,3g sout per 100g bevat het ʼn lae soutinhoud en is ʼn beter keuse. Die “hartmerk" op voedselverpakking dui kosse aan met ʼn lae soutinhoud. Wees versigtig vir produkte wat beweer dat dit ʼn “lae natriuminhoud" het – daar is bevind dat party van hierdie produkte soveel as 5g natrium per 100g bevat! Gaan ook die voedstel-etikette na vir die volgende bestanddele: mononatriumglutamaat, natriumnitraat, natriumbikarbonate en sojasous of enige bymiddel wat natrium bevat, aangesien hierdie produkte ook baie natrium bevat.

2.    Verwyder sout en souterige smaakmiddels van die tafel

Moenie ekstra sout by kos voeg aan tafel nie, en moenie dink dat 'luukse' tipes sout gesond is nie. Pienk-, swart-, klip-, kristal- en vlokkies-sout het almal dieselfde uitwerking op jou bloeddruk as gewone tafelsout. Sout wat minder verwerk is bevat dalk meer voedingswaarde as tafelsout, maar in sulke klein hoeveelhede dat jy dit maklik van ander kossoorte in jou dieet sal kan kry. Groter soutkristalle proe ook minder souterig, wat veroorsaak dat jy meer daarvan gebruik as fyner sout.

3.    Eet meer vars groente en vrugte

Vars groente en vrugte het van nature ʼn lae sout- en hoë kalium-inhoud – kalium werk die effek van natrium in die liggaam teen. Spoel geblikte groente en peulvrugte af voordat jy dit eet aangesien die pekelwater waarin dit ingelê word baie sout bevat. Verminder jou inname van brood, kaas, en verwerkte vleis, aangesien dit, en ander verwerkte kosse, baie natrium en min kalium bevat.

4.    Geur kosse met kruie, knoffel en sitrus

Geur jou kos met kruie, speserye en ander items wat nie sout bevat nie, bv. peper, kerrie, asyn, uie, rissies, knoffel, gemmer, roosmaryn en suurlemoensap. Buiten dat dit geur by jou kos voeg, is kruie en speserye ook ʼn bron van antioksidante, essensiële olies, vitamiene, fitosterol en ander gesonde voedingstowwe wat van plante afkomstig is.

5.    Verminder jou soutinname stelselmatig

Dit is makliker om aan ʼn laer soutinname gewoond te raak as jy jou soutgebruik stelselmatig oor ʼn tydperk verminder sodat jou palet gewoond kan raak aan die smaak. Vermy geurmiddels wat sout bevat, soos uie-sout, seldery-sout, knoffelsout, groentesout, braaivleis- en hoender-speserye, vleissagmaakmiddels, kommersiële souse, soppe, vleissous, en aftrekselblokkies.

 

Praktiese wenke oor hoe om kos met ʼn hoë soutinhoud te vervang

Kosse met ʼn hoë soutinhoudGebruik liewer
Verwerkte vleis soos Weense worsies, kouevleis, ham, hamburgerfrikkadelle, soutvleis en bees- en varkworsies Onverwerkte hoender, vleis of vis, frikkadelle of ander vleisdisse, volstruis of wildsvleis
Geblikte-, gedroogte- en gerookte vis Vars of gevriesde visprodukte
Souterige smeermiddels soos vleis- en groenteaftreksels, vissmeer, lewer- of vleissmeer, patee en kaassmeerVerskillende soorte konfyt en maaskaas
Kaas met ʼn hoë soutinhoud, bv. Blaauwkrantz, Roquefort, parmesaankaas en fetakaas
Cheddar, Gouda, Brie, Mozzarella, of Ricotta in klein hoeveelhede
Southappies soos skyfies, soutbeskuitjies, biltong, droëwors, gesoute neute, gesoute springmielies en olywe

Provitas of kraakbeskuitjies, ongesoute neute, sade en springmielies

Kitskos
Tuisgemaakte maaltye