Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Museum palm sy eerste toekenning in
Outeur: Asiphe Nombewu / Corporate Communication
Gepubliseer: 15/03/2018

​​

Die Universiteit Stellenbosch (US) Museum het sy heel eerste toekenning ingepalm! Die Museum het by die jaarlikse Kultuursake-toekenningseremonie van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport op 3 Maart 2018 weggestap met die prys vir die Beste Museum wat Sosiale Insluiting Bevorder.

Die Direkteur van die US Museum, mnr Bongani Mgijima, sê die Museum se openbare programme lewer inklusiwiteit sonder eksklusiwiteit. Só het die Museum 'n veilige ruimte vir intergenerasionele diskoerse en gedagtewisseling geword.

Mnr Mgijima meld dat, wat inklusiwiteit en maatskaplike impak betref, daar gepoog word om die werke van kunstenaars uit voorheen benadeelde gemeenskappe – dié van Lunga Kama, Zembe Luzamba en heelwat ander – in te sluit. Hy voeg by dat die Museum deur die loop van die jaar uitnodigings aan skole uit gebiede soos Khayelitsha en Delft rig, nie alleen sodat leerders kennis oor die kunste kan bekom nie, maar ook sodat hulle die US kan oorweeg as 'n plek wat hulle graag hul toekomstige universiteit sal wil noem.

“Ingesluit by ons opvoedkundige en openbare programme vir leerders is 'n middagete en 'n kampustoer. Nie alleen gee ons die leerders onderrig in die belang van die kunste nie, maar ons gryp terselfdertyd die geleentheid aan om hulle vir die Universiteit te werf, want ons wil hê hulle moet hier kom studeer," verduidelik mnr Mgijima.

“Hierdie toekenning beteken dat ons harde werk erken word. Tog is toekennings nie die belangrikste ding nie – ons wil graag sien dat hierdie ruimte gebruik word, nie alleen deur ons studente nie, maar ook deur lede van die gemeenskap. Ons wil 'n aantrekkingskrag wees vir mense uit verskillende wêrelde."

Volgens hom is die US Museum 'n neksus vir die gemeenskap en die Universiteit omdat die Museum 'n skakel tussen die twee is. Boonop is die programme by die Museum hoofsaaklik op voorheen benadeelde gemeenskappe toegespits.

As deel van die Universiteit se Eeufees nooi die Museum die publiek en US-studente uit na 'n nuwe uitstalling – Universiteit Stellenbosch: Verlede Hede Toekoms – wat op 8 Mei 2018 open. Verder vier die Museum gereeld Eeufees-Vrydae, waartydens besoekers op 'n begeleide toer van die Museum geneem word en van die Universiteit se geskiedenis vertel word.

Op 12 April 2018 gedenk die Museum die lewe van die voormalige president Nelson Mandela – die eerste president van 'n werklik demokratiese Suid-Afrika – met die aanbieding van 'n Nelson Mandela-kollokwium in samewerking met die Mandela Museum.

Klik op http://www0.sun.ac.za/museum/ vir verdere inligting.​

Hooffoto: Van links is Elvandre Glanat, museumassistent; Ricardo Brecht, hoof van openbare programme en onderwysbeampte, Johannes Adams,​​ senior beskermheer en Lloyd Africa, museumassistent. ​

​Foto: Rozanne Engel