Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste ontvangers van DW Ackermann Beursfonds
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 02/03/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het verlede jaar een van sy grootste individuele skenkings nog ontvang – 'n bedrag van R194,6 miljoen. Dié skenking is in die vorm van ʼn erflating deur wyle mnr DW (Dirk) Ackermann, 'n ingenieur van beroep.

Soos bepaal in sy testament, het die Universiteit hierdie bemaking gebruik om die DW Ackermann Beursfonds op die been te bring tot voordeel van verdienstelike studente in die dissiplines van elektriese en elektroniese ingenieurswese. Die kapitaal word nou dienooreenkomstig belê en die inkomste sal gebruik word vir beurse wat jaarliks toegeken sal word in terme van die kriteria bepaal in sy testament.

Die fonds word as 'n skenkersfonds bestuur en volhoubaar aangewend om baie studente in die toekoms te ondersteun.

In 2018 is daar vyf studente wat die eerste ontvangers van die DW Ackermann Beursfonds is. Op die foto is van links is prof Maarten Kamper (voorsitter, Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese), Daniel Banks, Sharmin Khan, prof Wikus van Niekerk (dekaan), Elsje Pieterse, Sihle Tabete en (inlas) Thurai-yaa Gannie.