Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nog Maties ontvang Die Vlakte-beurse
Outeur: Rozanne Engel / Corporate Communication
Gepubliseer: 02/03/2018

Vandag (1 Maart) is nog 'n mylpaal in die Universiteit Stellenbosch (US) se verbintenis tot restitusie en ontwikkeling bereik toe 'n tweede groep Matiestudente Die Vlakte-beurse ontvang het.

Prof Wim de Villiers, die Rektor en Visekanselier, het die fonds in 2015 gestig as 'n instrument om regstelling en ontwikkeling te bring aan die nakomelinge van persone wat in die 1960's onder dwang verskuif is uit Die Vlakte, 'n woonbuurt wat aan die middedorp gelê en gedeeltes ingesluit het wat lateraan die US-kampus sou raak.

Die inwoners van Die Vlakte was hoofsaaklik sogenaamde kleurlinge, wat in 1964 ingevolge die Groepsgebiedewet van 1950 verwyder is. Die gelyknamige beursfonds het ten doel om hierdie ontwortelde inwoners te vergoed deur aan hulle, hulle kinders en hulle kleinkinders beurse beskikbaar te stel om aan die Universiteit te kom studeer.

By die geleentheid ter ere van die 2018-beurshouers het prof De Villiers verduidelik hoekom Die Vlakte-beurse hom so na aan die hart lê. “Dit is vir hierdie universiteit belangrik dat ons hard daaraan moet werk om meer insluitend te wees, en ons reik na die gemeenskap uit om die gaping te help oorbrug. Dit is belangrik dat die kinders wat op ons drumpel grootword, na die US toe sal kom en hulle drome hier sal bewaarheid. Hierdie universiteit behoort aan die hele gemeenskap."

Elke jaar word 'n klein groepie studente vir Die Vlakte-beurse gekeur. Die eerste groep is in 2016 befonds. Tot op hede is beurse ter waarde van meer as R1 miljoen toegeken.

Die ontvangers vir 2018 is Wyatt Afrika, 'n BA (Drama- en Teaterstudies)-student in sy tweede jaar; Kirsten Hector, 'n BA (Visuele Kunste)-student in haar eerste jaar; Ruan Steyn, 'n eerstejaar-ingenieurswesestudent; Zain Ghalpie, 'n BSc (Wiskundige Wetenskappe)-student in sy tweede jaar; en die tweelingbroers Garth en Gareth Wentley, wat eerstejaars is – Garth is vir BSc (Menslike Lewenswetenskappe) ingeskryf en Gareth vir BRekLLB.

“Dit is vir my so 'n eer om 'n Die Vlakte-beurs te ontvang, want elke jaar word net 'n sekere aantal mense befonds. Maar hoewel ek geëerd voel, glo ek ook dat ons dit verdien, want ons grootouers het van die begin af hier gewoon. Die kampus het hier ontwikkel eers nadat hulle onder dwang verskuif is. Hierdie beurs beteken vir ons gesin baie; nie net omdat dit die massiewe druk van studentegeld verlig nie, maar ook omdat dit 'n goeie inisiatief van die Universiteit se kant af is om terug te gee aan Die Vlakte-gemeenskappe wat deur die verlede geraak is," het Gareth Wentley gesê.

Kirsten Hector het ook vertel hoe dankbaar en gelukkig sy daaroor is dat sy 'n Die Vlakte-beurs ontvang het. Sy sê dit is 'n groot hulp vir haar, en dit het die finansiële las op haar ouers aansienlik verlig.

Ruan Steyn se pa, Reuben, was van dieselfde mening en het vertel hy is bly dat die Universiteit sy seun finansieel kan bystaan. “Ek het 'n paar jaar gelede vir ons ander seun, Ruan se broer, aansoek gedoen, maar hy het ongelukkig nie 'n beurs gekry nie. Ons was so verlig toe ons die goeie nuus hoor dat 'n Die Vlakte-beurs aan Ruan toegeken is, want dit is 'n enorme hulp. Ek is baie bly dat die Universiteit in staat is om terug te gee aan die mense wat deur die verskuiwings uit Die Vlakte geraak is."

Die Vlakte-uitstalling

Die US het in 2013 'n Herinneringskamer in die Universiteitsargief (op die grondvlak van die Wilcocksgebou) ingerig, waar 'n hedendaagse uitstalling die geskiedenis van onderdrukking van Die Vlakte se inwoners uitgebeeld het. Dit was 'n gebaar van versoening tussen die instelling en die dorp se kleurlinggemeenskap. Die Herinneringskamer was die geesteskind van oorlede prof Russel Botman (die Rektor en Visekanselier aan die US van 2006 tot 2014). Die uitstalling is drie jaar lank by die US Argief ten toon gestel.

Intussen het die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe 'n proses onderneem om oor die Fakulteit se geskiedenis te besin. Die gebou wat die Fakulteit tans huisves, staan op 'n perseel wat in die 1960's ingevolge die Groepsgebiedewet ontruim is. In Desember 2013 het die destydse Dekaan, Johan Hattingh, 'n komitee aangewys om 'n uitstalling saam te stel ter herinnering aan die gedwonge verskuiwings uit Die Vlakte. Sedertdien het 'n hele aantal studente en personeel aan die Fakulteit in verskeie dissiplines daaraan gewerk om die geskiedenis van Die Vlakte na te vors en dit op ʼn sigbare manier uit te beeld.

In 'n gesamentlike projek van die departemente Visuele Kunste en Engels is studente uitgenooi om met 'n aantal voorstelle vorendag te kom hoe die gedwonge verskuiwings in herinnering geroep kon word. Hierdie voorstelle, saam met 'n klein uitstalling wat oor die geskiedenis van die gebou en die huidige nagevolge van daardie geskiedenis besin, word ten toon gestel op panele en muurkuns op die eerste verdieping van die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou, waar US-studente, -alumni en die algemene publiek daarna kan kom kyk.

US “Tuiskoms"

Die Universiteit Stellenbosch bied hierdie naweek, van 1 tot 5 Maart, 'n Tuiskomsnaweek vir Matie-alumni aan. Op 3 Maart gaan persone wat deur die gedwonge verskuiwings uit Die Vlakte geraak is, lede van die Stellenbosse gemeenskap en die Silwer Valke van die Saldanha Militêre Akademie deelneem aan 'n optog vanaf die Lückhoff Skool met Reyneveldstraat langs, via Victoria- en Bosmanstraat in die rigting van Coetzenburg. Die optog is bedoel as 'n tyd van besinning oor diegene wat deur gedwonge verskuiwings geraak is. Op dieselfde dag, van 10:00 af, het die Universiteit ook 'n gesinsdag by die Coetzenburg Sentrum gereël, waar studente, lede van die gemeenskap en alumni hulle in lewende musiekuitvoerings, vermaak en heerlike kos kan verlustig.

Die Vlakte-beurse: aansoeke

Voornemende studente wat in die betrokke buurt gewoon het, hulle kinders en hulle kleinkinders mag vir hierdie beurse aansoek doen. Die fondse dek die basiese klasgeld vir die minimum duur van die program wat 'n student kies.

Die fonds het 'n Gemeenskapskomitee om aansoekers se verbintenis met Die Vlakte na te gaan. Die Beurskomitee, wat uit drie lede van die gemeenskap en drie US-personeellede bestaan, help om die toekenningskriteria toe te pas.

Kontak of besoek die Kantoor vir Beurse en Lenings vir meer inligting in Admin A, Lokaal 2063 op die Stellenbosch-kampus.

Kantoorure is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:30.

  • Telefoon: 021 808 9111
  • E-pos: info@sun.ac.za

Meer artikels oor Die Vlakte:

Foto deur Rozanne Engel

In die foto bo: prof Wim de Villiers saam met die nuwe Die Vlakte Beurs ontvangers: (van links) Zain Ghalpie, Kirsten Hector, tweeling broers Garth en Gareth Wentley.