Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Straatmylfees kry internasionale kleur
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 01/03/2018

Die Eikestad se gewilde Straatmylfees kry vanjaar vir die eerste keer ʼn internasionale kleur met die Nederlandse atletiekster, Luuk Wagenaar, wat reeds vir die wedloop ingeskryf het. Die  Straatmylfees word vir die agste keer aangebied – vanjaar op Dinsdag 6 Maart om 18.00.

Ses wedlope word vanjaar in die boomryke Victoriastraat in Stellenbosch aangebied en oudergewoonte is die byeenkoms weer deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees.

  • Klik hier vir ʼn kort video van die 2017 Straatmylfees

Die eerste Dagbreek straatmyl is in 2011 ter ere van oud-Matie De Villiers Lamprecht aangebied. Hy was die eerste Suid Afrikaanse atleet om ʼn droommyl (die myl onder 4 minute)  te hardloop – ʼn myl is 1,609m. Dié geskiedkundige wedloop het op 13 November 1964 op Coetzenburg in Stellenbosch plaasgevind. De Villiers was toe ʼn inwoner van die Manskoshuis Dagbreek.

Die Olimpiese atleet en driemalige kampioen, Johan Cronjé, gaan vanjaar probeer om die spesiale droommyl-trofee te herower nadat hy nie verlede jaar kon deelneem nie omdat hy ʼn operasie moes ondergaan. Die wenners was toe Duwayne Philander van die Universiteit van Wes-Kaapland terwyl die Maties se Yvonne Steenkamp die vroueafdeling gewen het.

“Cronjé het intussen Bloemfontein vir Stellenbosch verruil waar hy besig is om ʼn film, Liewe Lisa, saam met sy akteur-broer, Hendrik Cronjé van 7de Laan-faam, te maak," vertel Francois Fouché, organiseerder van die Straatmylfees. “Hendrik is self ʼn kranige atleet en gaan ook aan die wedloop deelneem."  

Cronjé (Johan) is tot dusvêr die enigste atleet om ʼn droommyl in Victoriastraat kon hardloop – in 2015, voeg Fouché by.

Die PNA Skole-wedlope is besig om te groei in gewildheid met ʼn o15 & o19 afdeling vir seuns en dogters. PNA borg 2 spesiale pryse vir die skool met meeste deelnemers en een vir die skool met die beste prestasies. 

Die ander kategorieë is ope-afdelings vir mans en vroue en die elite-wedloop vir mans. Vir atlete is daar groot pryse en ʼn gelukstrekking op die spel. Die eerste 10 atlete in elke wedloop ontvang ʼn spesiale medalje en die top 30 in die ope mans en vroue kategorieë .

Nuut op die program is ʼn meestersafdeling – vir atlete bo 40 jaar. Vir dié wedloop het ʼn aantal atlete in die meesterskategorie reeds ingeskryf: mansatleet Leon Groeneveld, ʼn 400m silwermedaljewenner in 2016 en vroueatlete Esther Brink, Wilna Eybers en Barbara Ranary – ʼn Switserse atleet wat verskeie baantitels vir Switserland verower het in Meesters-atletiek.

Skaatsplankafdeling

Uniek aan die Stellenbosse Straatmylfees is die skaatsplank afdeling – sovêr bekend die enigste skaatsplank myl “wedloop" in Suid-Afrika. Die afdeling word vanjaar vir die derde keer aangebied. Die vorige twee jaar het die wenners elke keer onder 4 minute klaargemaak. Skaatsplank-wedlope word in 2020 as ʼn Olimpiese sport aangebied. 

“Die US herdenk vanjaar sy eeufees en die tema SAAM VORENTOE pas ideaal aan by die Straatmylfees – ons moet saam hardloop," sê Fouché.

Tussen die wedlope word musiek verskaf om ʼn feestelike atmosfeer te skep en daar is ook vermaak. Toeskouers word aangemoedig om in groot getalle in Victoriastraat die atlete te ondersteun. 

Borge sluit in Puma, PNA, ASLA, Submerged Industrial, Niva, die VDM Groep, Eikestadnuus en die US Alumni-kantoor. Verversings word verskaf deur Coke 

  • Die inskrywingsfooi is R30 en word gedoen voor Dagbreek Manskoshuis in Victoriastraat. Atlete spring bo in Victoriastraat weg.