Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom nuwe Koordineerder teen Gendergeweld
Outeur: Dumile Mlambo
Gepubliseer: 16/02/2018

Die eerste dae by 'n nuwe werk kan dalk vir sommige mense intimiderend wees, maar vir Thembelihle Bongwana, die nuut aangestelde Koördineerder: Gendergeweld in die Afdeling Studentesake by die Universiteit Stellenbosch (US), was dit 'n gans ander saak. Sy het die oggend van 1 Februarie 'n baie stil Huis Simon Nkoli House binnegestap, maar gou die gange hoor weerklink van die giggels en vrolikheid van opgewonde personeellede by die Eenheid vir Gelykwaardigheid (EvG) wat haar kom verwelkom het.

Thembelihle se aanstelling volg op 'n landwye soektog na 'n geskikte kandidaat wat die nuut gestigte Portefeulje: Gendergeweld by die EvG in die Afdeling Studentesake se Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) lewe moet inblaas. Die besluit om hierdie portefeulje te skep spruit voort uit die Universiteit se aankondiging dat 'n gendergeweldrespons gevestig moet word om kultuurverandering en die volhoubaarheid van kultuurverandering te verseker, asook om sake wat met gender-gebaseerde geweld verband hou, te koördineer en te monitor, soos dit in die US Bekamping van Verkragtingskultuur-verslag van 2017 aangedui is.

Gebaseer op die bevindings en aanbevelings van die verslag, het die EvG, onder die leierskap van Jaco Greeff Brink, aan die hand gedoen dat hierdie portefeulje geskep word om die aansienlike uitdagings wat in die verslag geopper is, aan te pak.

Alhoewel dit 'n nuwe posisie is, het die 32-jarige Thembi wat van Oos-Londen in die Oos-Kaap afkomstig is, baie ervaring van genderaangeleenthede, nie alleen op professionele vlak nie, maar ook wat die akademie betref. Die selfverklaarde babbelkous het in 2009 begin om aan haar loopbaanpad te bou toe sy in 'n professionele rol as gender- en ontwikkelingsintern by die Transkei Land Service Organisation (TRALSO) aangestel is. Dit was 'n goeie wegspringplek om genderkwessies in programmatiese werk in te voer en dit in die hoofstroom te vestig. Thembi het onder meer die volgende loopbaanspore getrap:

  • Federasie van Unies van Suid-Afrika (FEDUSA): Kaapstadse Parlementêre kantoor, as Maatskaplikebeleidsbeampte in 2014
  • Derdejaartutor vir die Gender- en Ontwikkelingsmodule by die Universiteit van Wes-Kaapland, 2015-16.

As 'n ingeskrewe doktorale (PhD)-graadkandidaat in Genderstudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) omvat haar navorsingsbelangstelling kwessies soos manlikhede, gender en ontwikkeling, gender-gedrewe magsdinamiek, openbare eetruimtes, maatskaplike identiteite, transformasie, seksualiteit en gendergeweld.

Volgens mnr Brink is Thembelihle vir die posisie gekies omdat sy 'n agtergrond in genderverwante aangeleenthede het en oor 'n duidelike visie beskik van die geleenthede en uitdagings wat hierdie tipe posisie inhou. “Sy bring 'n sterk kombinasie van professionele en akademiese agtergronde. Ons is opgewonde om haar in ons span te hê wat daarna streef om 'n gendergeweldvrye kampus te skep," sê Brink.

Volgens dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Afdeling Studentesake, is een van die primêre verantwoordelikhede van hierdie portefeulje die ontwikkeling van 'n omvattende institusionele respons ten opsigte van gendergeweld en die verkragtingskultuur aan die US. Om dit te kan vermag, sal die Koördineerder: Gendergeweld met verskeie belanghebbers by die Universiteit saamwerk om gedeelde verantwoordelikheid in alle sfere van die US te skep en te verstewig.

Thembi sê sy as Suid-Afrikaanse vrou is bewus van baie van hierdie uitdagings en haar akademiese en professionele agtergrond het die gewetensprikkel voorsien vir die werklik sensitiewe politieke en maatskaplike implikasies wat werk op die gebied van gender inhou. “Verkragtingskultuur is 'n monster wat gedurig ons maatskaplike ruimtes infiltreer en ellende veroorsaak in die plekke wat veronderstel is om bevorderlik te wees vir leer en tuistes weg van die huis te skep, maar tog is daar in alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe voortdurend berigte van verkragting of seksuele oortredings wat geweld insluit," voeg sy by.

Thembi gee toe dat die probleem veel groter as die universiteitsopset is en benadruk die feit dat verkragtingskultuur 'n diepgewortelde kwessie in die samelewing is. Sy sê die US, wat deel van die samelewing en 'n sleutelrolspeler is, poog om studente toe te rus om agente van volhoubare verandering te wees in die samelewings waaruit hulle kom.

“Die Eenheid vir Gelykwaardigheid mag miskien aan die stuur van die skip wees, maar ons benodig al ons belanghebbers aan boord om uitvoer te kan gee aan die Universiteit Stellenbosch se benadering van 0%-verdraagsaamheid teenoor alle vorme van onregverdige diskriminasie en teistering.

“Die oorkoepelende doel is om 'n gediversifiseerde Maties-gemeenskap te vestig wat saam leef en saam uitblink in 'n samelewing wat vry is van misdaad, wangedrag, onregverdigheid, mishandeling, vergrype, ensovoorts," sluit sy af.

Kontak gerus vir Thembalihle by tbongwana@sun.ac.za of tel 021 808 3136.