Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ondersteuners en spelers geniet FNB Maties se eerste tuiswedstryd
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 11/02/2018

Nadat Maties Rugby sy Varsitybeker-veldtog Maandag 29 Januarie met 'n  31-3-oorwinning oor die Universiteit van Johannesburg afgeskop het, het hy Maandag 5 Februarie sy eerste tuiswedstryd in Stellenbosch gespeel.

Meer as 15 000 ondersteuners het op die Danie Craven-stadion toegesak om hul span aan te moedig en was baie in hul skik toe FNB Maties die Shimlas 56-21 geklop het.

Vir die spelers wat by hierdie geleentheid hul tuisdebuut in die Varsitybeker gemaak het, is dit 'n oomblik wat hulle altyd sal koester.

Cornel Smit, Brandon Valentyn en Elden Schoeman was drie van die spelers wat die maroenmasjien vir die eerste keer in die Danie Craven-stadion verteenwoordig het.

Dit was 'n baie emosionele aand vir Valentyn.

“Het jy al ooit by 'n plek ingestap en dadelik tuis en gemaklik gevoel? Dit is hoe ek gevoel het toe ek op die veld gehardloop het vir my eerste Varsitybeker-tuiswedstryd in 'n volgepakte Danie Craven-stadion. Dit is by verre die mees ongelooflike gevoel wat ek nog ooit ervaar het!

“Toe ek 15 000+ ondersteuners die volkslied saam met die span hoor sing, was dit onmoontlik om nie 'n traan te stort nie. Ek is baie seker ek is klaar verslaaf aan die energie wat die skare bring."

Smit het gesê: “Dit was 'n fantastiese ervaring om voor 'n volgepakte Danie Craven-stadion te speel. Die atmosfeer was elektries en ek kon nie vir 'n beter tuisdebuut gevra het nie. Ek kan nie wag om dit volgende week weer te doen nie."

Schoeman het bygevoeg: “Dit was 'n groot voorreg en ondervinding om my Maties-debuut in die Danie Craven-stadion te maak. As 'n buitestaander sien jy altyd uit om teen Maties in die Danie Craven te speel, maar om in die maroentrui in 'n tuiswedstryd te speel, is nog beter! Ek het nog nie so baie ondersteuners gesien en so 'n atmosfeer met 'n wedstryd ervaar nie. Dit was vir seker een van die hoogtepunte van my rugbyloopbaan."