Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-kampusse moet nóg meer water bespaar
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communication
Gepubliseer: 08/02/2018

Die goeie nuus is dat studente en personeel aan die Universiteit Stellenbosch (US) reeds 30% minder water as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar gebruik, en dat gerugte dat kampusse weens die waterkrisis gaan sluit, beslis nie waar is nie.

Die slegte nuus is dat die watergebruik nog verder moet verminder en dat vlak 6B-waterbeperkings nog in dié maand (Februarie) vir Stellenbosch aangekondig gaan word.

John de Wet, Bestuurder: Omgewingsvolhoudbaarheid by Eiendomsdienste aan die US, sê dit is verblydend dat die personeel en studente bewus is van die waterbesparingsinisiatiewe en minder water gebruik. Die Afdeling Fasiliteitsbestuur het reeds sedert November verlede jaar intensiewe intervensies begin om watergebruik te verminder; waterbesparingsbewustheid onder personeel en studente te kweek; alternatiewe waterbronne te vind en gryswater te herwin.

De Wet sê: “Ons hanteer die watersituasie verskillend op die onderskeie kampusse. Stad Kaapstad het op 1 Februarie met vlak 6B-waterbeperkings begin, met 'n teiken van 50 liter per persoon per dag. Die Universiteit moet 45% water bespaar teenoor 2015 se watergebruik en die twee proefplase moet 60% water bespaar teenoor 2015."

Hoewel Stellenbosch se waterbeperking nog op 87 liter per persoon per dag vasgestel is, is studente en personeel versoek om volgens die beperking van 50 liter per persoon per dag te werk.

De Wet voel die waterverbruik kan nog afneem.

Hy verduidelik: “Die personeel doen reeds baie om watergebruik te verminder. Hulle is al deeglik bewus van waterbesparing.  Maar 35% van die water wat by administrasiegeboue gebruik word, vind by handwasbakke plaas. As ons dit sou kon stop, sal ons nog meer water kan bespaar.

“Die studente in koshuise het baie oulike stelsels om water te bespaar. Hulle vang hul stortwater op en spoel toilette daarmee. Baie van die studente doen heelwat om te help met die proses. Al die pogings van studente en personeel dra by tot die 30% waterbesparing."

So lyk die US se waterintervensies:

  • Stortkoppe is verander en waterdruk in krane is verlaag;
  • Sakke is in toiletbakke geplaas om een liter water per spoel te spaar;
  • Sewe boorgate op die Stellenbosch-kampus verskaf alternatiewe waterbronne;
  • Vir swembaddens en kunsmatige hokkievelde word net boorgatwater gebruik;
  • Krieketvelde word net met water van boorgate en die dam natgelei;
  • Net die Craven A-veld word met damwater besproei om die bestaande ooreenkoms met die FNB Varsity Cup na te kom. Spelers oefen ook daar en as dit droog is, breek die gras af en 'n sandveld ontstaan. Al die ander rugbyvelde word nie meer natgelei nie;
  • Die Lentelus-sportvelde is natgelei totdat die gras gevestig was. Dié stadium is nou bereik en dit word dus nie meer natgelei nie.
  • Tuine word reeds sedert November 2017 nie meer natgemaak nie. Boorgate op strategiese plekke word gebruik om ou historiese tuine, soos by die Wallenberg-sentrum en enkele ander, net genoeg water te gee om aan die lewe te bly.
  • Eendrag en Simonsberg het reeds gryswaterstelsels wat stortwater suiwer vir die besproeiing van tuine. Soortgelyke stelsels is ook op die Tygerberg-kampus aangebring.
    SaveWaterEendrag-10.jpgSaveWaterMajuba-4.jpg
    Een van vier gryswaterstelsels by Eendrag koshuis.                                              Lambert Fick en  Njabulo Mahlangu by Majuba​ vang stortwater op

  • 'n Omvattende gryswaterprojek begin aanstaande maand (Maart). Gryswater van koshuise sal deur een sentrale suiweringstelsel vloei en terug gelei word vir die spoel van toilette.
  • Twee groot suiweringsaanlegte vir onderskeidelik die Tygerberg- en Belvillepark-kampus is aangekoop. Dit sal sowat agt weke neem om dié aanlegte op te rig. Sodra die projek voltooi is, sal die Belvillepark-kampus 100% selfvoorsienend wees.
  • Op die Tygerberg-kampus verskaf die vyf boorgate water - wat gesuiwer word – sowat 50% van die kampus se water.
  • Die swembad by Tygerberg word reeds as reservoir gebruik. Indien nodig sou water ook vanaf die gruisgat op die Bellvillepark-kampus na Tygerberg vervoer kan word.
    SaveWaterTygerberg-5.jpg
    Die swembad by Tygerberg wat as reservoir gebruik word

  • Die US ontvang behandelde rioolwater van die Stellenbosch Munisipaliteit om sekere bome op Stellenbosch nat te lei.
  • Die US het twee damme - Ertjieskloof en Welgevallen - waarvan die US 'n kwota het om die damwater in die somer vir besproeiing te gebruik. Dié water word vir die Craven-A-veld, die krieketbaan en atletiekbaan se middelste grasperk gereserveer.

Wat behels die droogte-reaksieplan van die US:

Die plan is gebaseer op drie vertrekpunte: verminderde watergebruik deur mense se gedrag te verander en ander intervensies; die hergebruik van gryswater; en om alternatiewe waterbronne te vind.

De Wet het bygevoeg: “Die belangrike boodskap is: hoe laer ons waterverbruik nou is, hoe verder stel ons Dag Zero uit. Ons personeel en studente moet in ag neem dat die 50 liter hul totale waterverbruik per dag insluit, op kampus en by die huis."

Wat kan jy nou nog doen?

  • Stort so kort as moontlik – nie langer as twee minute nie – en vang die stortwater in 'n emmer op.
  • Gebruik 'n prop in die wasbak wanneer jy hande was, tande borsel of skeer. Moenie water net laat wegloop nie.
  • Spoel toilette met stortwater.
  • 'n Toilet hoef nie na elke gebruik gespoel te word nie.
  • Stel 'n voorbeeld en inspireer ander om minder water te gebruik.
  • Hoewel die US nie gedurende die reses van 30 Maart tot 8 April sal sluit nie, word studente aangemoedig om in dié tyd huis toe te gaan. Dit sal help om waterverbruik in Stellenbosch te verminder.
  • Hoewel wateronderbrekings nie in hierdie stadium voorsien word nie, word personeel en studente aangeraai om 5 liter water beskikbaar te hê om ongerief te voorkom. 

SaveWaterTygerberg-2.jpg

Die US het verskeie bewusmakingsprogramme begin om waterbesparing aan te wakker.

Vir meer inligting oor waterbesparing en wenke klik hier​