Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US sluit vennootskap met Sanford Health oor FASV
Outeur: Communications and Marketing
Gepubliseer: 06/02/2018

​Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Departement Psigiatrie het ʼn skenking van Sanford Health ontvang vir ʼn navorsingsgenootskap in fetale alkoholspektrumversteuring (FASV).

Die skenking is aangekondig tydens ʼn onlangse besoek van ʼn afvaardiging van Sanford Health aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US). Sanford Health is een van die grootste geïntegreerde gesondheidsorgstelsels sonder winsbejag in die VSA en het die Sanford World Clinic Initiative gevestig, wat hoofsaaklik op internasionale pediatriese gesondheidsorg fokus. ʼn Teenwoordigheid word tans in vier lande gehandhaaf.   

Die Sanford Hoyme-navorsingsprogram in FASV sal ʼn genootskap vir kliniese en genetiese navorsing in die voorkoming en behandeling van FASV in die Departement Psigiatrie aan die FGGW ondersteun. Dit is genoem na dr Gene Hoyme, Hoof van Genetika en Genoommedisyne en Hoof- Akademiese Beampte van Sanford Health. Hy was die afgelope 15 jaar aan die spits van FASV-navorsingstudies in Suid-Afrika en het gehelp om die voorkomssyfer daarvan in Suid-Afrika te bepaal. Dit is tans steeds die hoogste aangetekende syfer ter wêreld.

“Hierdie navorsingsvennootskap met die US is revolusionêr wat betref ons begrip van hierdie toestand – nie net om die omvang van die probleem hier in Suid-Afrika te help definieer nie, maar ook om te weet hoe om ʼn vinnige, akkurate diagnose te maak en baie van die wetenskap wat daarby betrokke is,” het Hoyme tydens die onthulling van ʼn plaak in die Departement Psigiatrie ter erkenning van die borge van die genootskap gesê.

Hoyme werk al sedert 2008 saam met prof Soraya Seedat, Hoof van die Departement Psigiatrie, op die gebied van FASV-navorsing. Die departement het ʼn gevestigde FASV-navorsingsprogram en Hoyme was die hoofspesialis in dismorfologie van ʼn reeks opeenvolgende studies in die Wes-Kaap, wat deur die National Institutes of Health in the VSA gefinansier is. Hoyme het oor die jare heen ook Suid-Afrikaanse navorsers en klinici aan die begin van hul loopbane gementor.

“Hierdie skenking sal ons in staat stel om, tot in ewigheid, ʼn talentvolle jong navorsingsgenoot aan te stel wat nougeset deur dr Hoyme gementor sal word,” het Seedat gesê.

Volgens haar is die navorsingspan ook baie opgewonde oor die moontlikheid van die vestiging van ʼn FASV-navorsingsleerstoel in die nabye toekoms, om broodnodige intervensie- en voorspellings- diagnostiese navorsing op hierdie gebied te handhaaf en uit te brei.