Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom sy nuwe studente
Outeur: Rozanne Engel / Corporate Communication
Gepubliseer: 26/01/2018

​​

Nuwelingstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (25 Januarie) 'n hartlike verwelkoming van die US-Rektor, Fakulteits- en studentverteenwoordigers tydens die amptelike verwelkomingsplegtigheid in die Danie Craven-stadion op Coetzenburg ontvang.

Meer as 5000 nuwelingstudente, hulle ouers en voogde was in die stadion teenwoordig. Die US Simfoniese Blaasensemble, onder leiding van Pamela Kierman met Wendy-Joy Crowley as solis, het die verrigtinge met 'n treffende musiekaanbieding begin.

As deel van die formele verrigtinge met  die verwelkomingsgeleentheid is studente toegespreek deur:

• Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier

• Minette Sieberhagen, Ondervoorsitter van die Primkomitee

• Lwando Nkamisa, SR-voorsitter


Hoogtepunte uit die toesprake

Met die fokus vanjaar op die US se Eeufees, het die drie hoofsprekers nuwelingstudente aangemoedig om hierdie belangrike mylpaal met almal aan die Universiteit te herdenk.

Die sprekers het die US se institusionele strategieë herhaal, naamlik om sosiale impak te verbeter, uitnemendheid te behou en transformasie te bevorder.

Minette Sieberhagen, ondervoorsitter van die Primkomitee, het aan studente gesê om groot te droom en om by Maties 'n verskil te maak. "Die Universiteit Stellenbosch fokus op 'n waardegedrewe bestuur in ons gemeenskappe. Ons waardes noop ons elke dag om besluite te neem. Hulle lei ons in die lewe en vertel ons wanneer om op te staan en te praat, selfs as jy alleen staan. Durf om iewers betrokke te raak, 'n mening te lug en om 'n verskil te maak. "

As deel van die verwelkomingsprogram vir nuwelingstudente, sal verskeie koshuise en privaatstudentorganisasies (PSO) 'n Sosiale Impakdag aanbied, waar studente betrokke kan raak by maatskaplike bewusmakings- en maatskaplike impakprojekte in en om die Stellenbosch-gebied.

Die SR-voorsitter, Lwando Nkamisa, het nuwelingstudente aangemoedig om die Ubuntu-gees te bestuur en te verenig in die diversiteit aan die US. "Aangesien ons universiteit die mikrokosmos van ons samelewing is, is ons as die Universiteit Stellenbosch 'n mini-reënboog. Ons beliggaam alle aspekte van die lewe op die kampus, en dit wat lei tot 'n uiteenlopende en aanvarende studentegemeenskap."

Nkamisa het ook benadruk dat studente moet uitreik na die ondersteuningsnetwerke rondom hulle soos mentors, klasmaats, dosente en vriende en daarvan gebruik om krag te put en voort te gaan.

"Jy moet leer om geduldig te wees met jouself, vergewe jouself wanneer jy misluk; doen dieselfde teenoor ander wanneer hulle verkeerd teenoor jou optree. Ons moet saamstaan om rassisme, seksisme, xenofobie, homofobie en alle ander vorme van diskriminasie te beveg. Ek moedig jou ook aan om pret te hê, dit is 'n tyd om vriendskappe te smee en om jou nuwe huis te verken, want dit is die eerste dag van jou toekoms. Gebruik jou tyd verstandig," het Nkamisa gesê.

Die US Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het ook bemoedigende woorde vir die nuwelingstudente gehad.

Die US het ongeveer 33 000 aansoeke vir vanjaar ontvang, maar het slegs 5 000 plekke beskikbaar vir nuwe eerstejaarstudente. Hy het ook herhaal dat die nuwelingstudente deel is van 'n spesiale groep, naamlik die Eeufees-inname.

"Stellenbosch lok jaar na jaar top kandidate van regoor die land en daarbuite omdat dit 'n top universiteit is. Ons is bekend vir ons akademiese uitnemendheid. Dit is dus geen wonder dat 'n aansienlike aantal van verlede jaar se 24 top matrikulante nasionaal nou hier op Stellenbosch is nie, "het die Rektor gesê.

Die Rektor het nuwelingstudente aangemoedig om hulle tyd by die US te geniet en uit te reik vir ondersteuning. "In die hart van die uitnemendheid wat Stellenbosch oor die afgelope 100 jaar voor bekend geword het, is 'n gees van wedersydse ondersteuning, vriendskap en samesyn."

Prof De Villiers het ook daarop gewys dat die US se Eeufees nie net die vele suksesse en prestasies van die afgelope eeu sal vier nie, maar terselfdertyd erken die Universiteit sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede. "Ons verontskuldig ons onvoorwaardelik aan die gemeenskappe en individue wat uitgesluit is van die historiese voorregte wat die Universiteit Stellenbosch geniet het. Ons eer ook die kritiese Matie-stemme van daardie tyd wat nie stilgemaak kon word nie, ondanks die feit dat wat hulle gesê het, uitgewis is. En in verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte verbind die Universiteit Stellenbosch hom onvoorwaardelik tot die ideaal van 'n inklusiewe wêreldklas-universiteit in en vir Afrika. "

  ​

 


 


  • Klik hier vir die rektor se toespraak