Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwelinge dié week by die Universiteit Stellenbosch verwelkom
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 24/01/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom vandeesweek duisende nuwelingstudente by die Universiteit terwyl senior studente volgende week na die kampus terugkeer. Op kampus sal studente wat in koshuise bly reeds vandag (Woensdag 24 Januarie) en Donderdag 25 Januarie hul intrek neem.

Die verwelkomingsprogram van die Universiteit skop amptelik af op Donderdag 25 Januarie om 17:30 met die amptelike verwelkomingsgeleentheid wat by die Danie Craven Stadium, Coetzenburg, op die Stellenbosch-kampus gehou word. Onder meer sal prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en mnr Lwando Nkamisa, die Voorsitter van die Studenteraad, die nuwe studente verwelkom.

ʼn Hoogtepunt van die verwelkomingsgeleentheid is die “Dream Launch" (direk na afloop van die formele deel van die verwelkomingsgeleentheid). Die Dream Launch is simboliese vertrekpunt vir studente wat begin om hul drome vir hulself te verwesenlik – met die ondersteuning van die Universiteit (insluitend akademiese ondersteuning) en die gemeenskap waarvan hulle nou deel sal word, terwyl hulle ook erkenning gee aan die ondersteuning wat hulle van hul ouers of voogde ontvang het tot op hierdie punt.

By die geleentheid ontvang die studente papier “blare" waarop hulle hul drome kan skryf. Die meer as 5000 nuwelingstudente sal ook op die sportveld byeenkom rondom ʼn reuse “100" wat op die gras uitgepak word – simbolies van 2018 wat die 100ste jaar is van eerstejaardrome. (Die Universiteit herdenk sy eeufeesjaar vanjaar).

Die Dream Launch vorm deel van CONNECT, ʼn student-gedrewe platform vir die skep van sosiale bewustheid en waardeur studente bewus gemaak word van die sosiale impak wat hulle kan hê terwyl hulle aan die US studeer.

ʼn Verdere hoogtepunt van die Verwelkomingsprogram – wat ook deel vorm van CONNECT – is die jaarlikse Vensters buitelugvertonings wat vanjaar op Vrydag 2 Februarie plaasvind. Vir dié kleurvolle vertonings span koshuise en privaatstudentwyke (PSO's) saam om gehore te beïndruk met innoverende en kreatiewe storielyne en danspassies. Die klem val vanjaar op die verskillende sosiale-impak projekte. 

Die vertonings word in 15-minuut intervalle op 10 verhoë regoor die Stellenbosch-kampus aangebied en begin om 18:00 en duur tot 22:00.

Die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, bevat volledige inligting vir voornemende studente terwyl die week se verwelkomingsprogram in die Gids vir Nuwelinge 2018 uiteengesit word.

Die gids bevat inligting oor onder meer die registrasieskedule, persoonlike veiligheid, vervoer, die biblioteek, gratis skryfadvies en wenke oor hoe om water te spaar.

  • Kennisgewings word op sosiale media gedoen via die hutsmerk #HelloMaties