Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jimmie Earl Perry sterf aan kanker
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 13/01/2018

Vigs-aktivis prof Jimmie Earl Perry van die Afrika Sentrum vir MIV/Vigsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch het aan kanker gesterf.

Jimmie Earl Perry was 'n ervare sanger, danser en uitvoerende kunstenaar in teaterproduksies wêreldwyd. Hy was ook daarvoor bekend dat hy die skeppende kunste gebruik het om gehore oor MIV/Vigs op te voed. Die opvoedkundige teaterproduksies oor MIV wat hy by die Afrika Sentrum op die planke gebring het, is uiteindelik voor meer as 3 miljoen mense in gemeenskappe en werkplekke, beide in Suid-Afrika en internasionaal, opgevoer.

Prof Johan Malan, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het gesê dat prof Perry se dood 'n groot leemte laat. “Ons is diep onder die indruk van die rol wat hy in die Fakulteit, die Universiteit en die gemeenskap gespeel het. Ons innige meegevoel gaan aan prof Perry se geliefdes."

Prof Perry was onder meer die eerste nasionale welwillendheidsambassadeur van UNAIDS in Suid-Afrika. Toe hy in 2009 aangestel is, het hy gesê: “Indien ons hierdie epidemie wil omdraai, moet Suid-Afrikaners werklik verstaan wat die virus is, hoe dit versprei word, dat dit nie 'n doodsvonnis is nie danksy mediese behandeling, en dat die vrees en stigma wat met MIV geassosieer word, stopgesit moet word."  

Mnr Michel Sidibé, uitvoerende direkteur van UNAIDS, het gesê sy dood is 'n reusagtige verlies vir die Vigs-gemeenskap. “UNAIDS het geweldig baat gevind by ons assosiasie met Jimmie Earl Perry en ons is dankbaar vir sy diens en toewyding. Ek is bevoorreg om hom as vriend en broer te beskou."