Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ervare aktivis gaan US se Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur lei
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 20/12/2017

Toe sy in 2001 as MIV-positief gediagnoseer is, het Vuyiseka Dubula-Majola (39) gedink sy sal binne ’n paar maande sterf. Vandag – amper 17 jaar later – is sy die nuwe direkteur van Universiteit Stellenbosch se Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur, ’n PhD-kandidaat, ’n eggenote en die ma van twee kinders wat MIV-negatief is.

Sy is ook opgeneem in die boek A to Z of Amazing South African women, ’n publikasie wat die bydraes van vroue tot Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms huldig. Ander name in hierdie boek sluit in Winnie Madikizela-Mandela, Fatima Meer, Caster Semenya, Natalie du Toit, Mev. Ples en Thuli Madonsela.

In dié boek verwys hulle na Dubula-Majola as ’n “heldin vir ons tye” – iemand wat alle uitdagings te bowe gekom het en steeds aktief werksaam is om die situasie te verbeter.

“Ons kan nie oorgerus raak nie. Selfs een infeksie is te veel,” sê sy.

Dubula-Majola se reis as ’n aktivis het in ’n Treatment Action Campaign (TAC)-sentrum in Khayelitsha begin.

“Ek het as ’n vrywilliger by die laer vlakke van die TAC betrokke geraak. Van 2002 tot 2006 was ek die Wes-Kaapse koördineerder van geletterdheid oor behandeling en in 2007 het ek as die nasionale koördineerder vir mense wat met MIV/vigs saamleef, gedien.”

Sy het haar deur die geledere opgewerk en uiteindelik die algemene sekretaris van die TAC geword, ’n rol wat sy vir agt jaar vervul het. TAC se veldtogte het sedert die laat 1990’s bygedra tot die daarstelling van ’n universele vigsbehandelingsprogram wat deur die regering voorsien word.

“Toe ek gediagnoseer is, het ek gedink daar is geen hoop vir my nie. Danksy toegang tot behandeling, het die sterftesyfer weens MIV/vigs sowel as gevalle van moeder-na-kind-oordrag intussen aansienlik afgeneem en lewensverwagting het toegeneem.

“Maar ons kan dit nog nie vier nie, want ten spyte van al die vooruitgang wat ons gemaak het, word mense steeds met MIV geïnfekteer.”

Dubula-Majola glo die fokus moet nou na voorkoming en gedragsingryping verskuif. Geslagsongelykheid, armoede en ander sosiale en strukturele kwessies stel steeds baie mense, veral jong vroue, bloot.

Die erkenning wat sy deur die boek A to Z of Amazing SA Women gekry het, is maar een pluimpie vir haar. Sy het, onder meer, in 2015 deur Acacia Global ’n leierskaptoekenning ontvang vir haar werk om die ontwikkeling en opleiding van vroue wat in die Wes-Kaap met MIV/vigs saamleef, te ondersteun. Sy het ook – as een van die jongste vroue om leiding te neem in die vigsbeweging in Suid-Afrika – in 2011 ’n leierskaptoekenning ontvang van die Shared interest Group in New York.

“Ek voel oorweldig deur my insluiting by hierdie boek,” sê sy. “Daar is baie ander vroue wat ook verdien om genoem te word. Ons streef almal daarna om by te dra tot ’n regverdige en gelyke samelewing.”

Dubula-Majola het twee van haar nagraadse kwalifikasies – ’n Nagraadse Diploma en ’n MPhil in MIV/vigsbestuur – deur US se Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur voltooi. Sy is al twee jaar lank ’n dosent by die sentrum.

Die Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur is in Januarie 2003 deur prof Jan du Toit, die uittredende direkteur, gevestig. Prof Du Toit tree aan die einde van die jaar af nadat hy in 1972 by die US se Departement Bedryfsielkunde aangesluit het.

Die sentrum fokus op opleiding, navorsing en gemeenskapsdiens ten opsigte van MIV/vigsbestuur in die werkplek.

Dubula-Majola sien uit na haar nuwe rol as direkteur van die sentrum. “Ek verwelkom uitdagings. Dit is hoe ’n mens groei.”

  • Foto deur Junior Sthembele