Die Universiteit Stellenbosch, in samewerking met die
Wes-Kaapse Regering se Naskool-Spelwysiger-program, Gemeenskapskas en Rutgers
Universiteit (VSA), het pas ‘n spesiale program bekend gestel vir mense wat
leerders uit voorheen benadeelde skole steun deur hulle ná skool bloot te stel
aan sport, kuns, akademiese verryking, lees en lewensvaardighede.
Die Uitgebreide Onderwys-opleidingsprogram wil erkenning
gee aan die onbesonge helde wat hierdie belangrike werk verrig en ook aan hulle
die geleentheid bied om hulself beter te bekwaam. Dit sal hulle toerus om
kwaliteitprogramme te ontwikkel en aan te bied ten einde ’n beter ervaring aan
leerders te bied asook die gaping in agterstand te oorbrug.
Saam met sy vennote het die US die eerste 57 mense wat
gekies is vir die 18-maande lange sertifikaatkursus op 20 November verwelkom.
Die kursusinhoud fokus op die ontwikkeling van verskeie vaardighede, onder meer
hanteer van kompleksiteit, probleemoplossing, besluitneming, bestuur van
verskille, totale kindontwikkeling, projekbestuur en administrasie.
“Die waarde van hierdie program lê in die manier hoe dit
diegene wat so ‘n deurslaggewende rol in die ná-skool omgewing speel verder
bemagtig en hul kapasiteit uit brei,” sê Chrischar Rock, Programbestuurder vir
die Uitgebreide Onderwys-opleidingsprogram, wat geleë is binne SUNSEP, die
Universiteit se Sentrum vir Pedagogiek wat gehuisves is binne die Fakulteit
Opvoedkunde.
“Deur die ontwikkeling en akkreditasie van die program
wys die US dat ons ernstig is om uitting te gee aan ons Sosiale Impak
Stategiese Plan juis omdat ons op die gebied van onderwys ‘n verskil maak in
verskillende gemeenskappe,” meen dr Leslie van Rooi, Seniordirekteur vir
Sosiale Impak en Transformasie. “Dat ons dit juis in vennootskap kan doen,
ontsluit soveel ander moontlikhede.”
Leerders van voorheen benadeelde agtergronde het ’n
6 000-uur opvoedingsgaping teen die tyd wat hulle hoërskool bereik.
Hierdie agterstand sluit in voorlees van stories tuis, vroeë
kinderontwikkeling, gesinsvakansies, besoeke aan museums, parke en galerye en
buitemuurse aktiwiteite. Uitgebreide onderwysbeamptes help om hierdie gaping te
oorbrug deur leerders ná hul amptelike skooldag bloot te stel aan sport, kuns,
akademiese verryking, lees en lewensvaardighede.
Die Wes-Kaapse Regering se Hoofdirekteur vir die Naskool-Spelwysiger-program, Jacqui Boulle, sê hulle is verheug om met die
Universiteite van Stellenbosch en Rutgers saam te werk ten einde die Uitgebreide
Onderwys-opleidingsprogram bekend te stel. “Hierdie pionierswerk gee mense in
die sektor die geleentheid om hulself te ontwikkel en terselfdertyd die steun
wat hulle aan leerders bied, uit te brei. Dit is die eerste stap in ‘n groter
projek om die sektor uit te bou en te professionaliseer.”
Die program bestaan uit vyf blokke waar deelnemers vir
vier of vyf dae klas bywoon, asook selfstudie en take in die student se eie
tyd.
Hoewel ná skoolse-aktiwiteite leerders se middae vul met
positiewe en verrykende aktiwiteite, is die onderliggende doelstellings om die
houding teenoor leer te verbeter, beter skooluitslae te verseker en kans-gedrag
te verlaag.
Die
Wes-Kaapse Regering en sy vennote het ten doel om teen 2019 sowat 112 000
leerders – of 20% van leerders in die 1 000 skole met geen of minimale
skoolfooie – gereeld en deurlopend by kwaliteitprogramme te betrek.