Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top student self-gemotiveerd, nederig en saggeaard, sê skripsieleier
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 08/12/2017

"Ek was bly en terselfdertyd 'n bietjie geïntimideer deur die verantwoordelikheid om die skripsieleier van só 'n bekwame student te wees," sê dr Brian van Vuuren van sy student Jacqueline Kazmaier, wat die Universiteit Stellenbosch se gesogte Kanseliersmedalje vir 2017 gewen het. Dr Van Vuuren, dosent in die Departement Bedryfsingenieurswese, was me Kazmaier se projekleier vir haar finalejaarskripsie.

Die Kanseliersmedalje is die hoogste eer wat aan 'n student van die Universiteit Stellenbosch verleen word en word jaarliks toegeken aan 'n finalejaar- of nagraadse student wat uitnemend is beide akademiese en in alle fasette van kampuslewe. Me Kazmaier het al die modules vir haar BIng-graad in Bedryfsingenieurswese met onderskeiding geslaag. Haar gemiddeld oor vier jaar was 89,7%.

Vir haar finalejaarsprojek het me Kazmaier 'n onderwerp gekies wat deur dr Van Vuuren en doktorale student Jancke Eygelaar voorgestel is. Die titel was A machine learning data analysis decision support system.

Dr Van Vuuren gaan verder: "Masjienleer is 'n baie komplekse veld om te verstaan en beslis ver buite die omvang van die vierjaarkurrikulum. Daarom het Jancke en ek besef dit sal 'n sterk en ambisieuse student moet wees om die projek te dryf. Ek het Jacqui nie goed geken nie, maar ek het geweet sy is 'n top-student, en in die hoedanigheid het ek verwag dat sy 'n gesoute akademikus en ervare navorser as projekleier sou kies. Aangesien ek 'n jong dosent is en akademies nie baie ervare nie, was ek opgewonde (en natuurlik in my skik) dat Jacqui my as haar projekleier gekies het.

"Soos verwag, was Jacqui self-gemotiveerd en onafhanklik. Jancke en my rol as projekleiers was dus in 'n sekere mate meer as 'medewerkers' in plaas van 'toesighouers'. Sy het die projek by 'die horings gegryp' en daarmee gehardloop. Ons het nie eers geweet wat die uitkoms sou wees nie. Sy het haar eie pad bepaal en die projek volgens haar visie ontwikkel. Alle programmering, ontwikkeling en implementering is totaal onafhanklik gedoen en het die verwagtinge vir die projek ver oortref. Bygevoeg, met haar puik akademiese rekord en positiewe ingesteldheid teenoor haar werk, kon ek van 'n vroeë stadium sien dat sy ver bo ons verwagting gaan presteer. Sy het 89% vir haar finalejaarprojek ontvang.

"Ten spyte van haar uitsonderlike akademiese vaardighede, het ek gevind dat Jacqui ongelooflik nederig en saggeaard is. Sy was altyd op soek na raad en het alles wat ek en Jancke gesê het, ter harte geneem, alhoewel sy op haar eie ten volle in staat was. Dit was werklik 'n plesier om met haar saam te werk!"

Me Kazmaier dien as 'n uitstekende voorbeeld om die twee mites uit die weg te vee wat aanvoer dat ingenieurs bleeksiele is en dat Ingenieurswese net vir mans is. Wat die eerste mite betref: afgesien van 'n briljante student, is sy 'n afgeronde persoon. Sy is 'n talentvolle fotograaf en grafiese ontwerper. Sy sing, dans en speel beide die viool en die klavier. Verder is sy 'n lid van die Maties Branderplankvereniging en die en die Maties Vlugbalvereniging.

Met betrekking tot die mite dat Ingenieurswese slegs vir mans is, is me Kazmaier die vierde vroulike ingenieurstudent om die Kanseliersmedalje sedert 2003 te wen. Die ander is Marlize Schoeman (2003), Celeste Barnardo (2006) en Lidia Auret (2010). Dit beteken dat daar sedert 2001 vier vroue-ingenieurstudente was wat die gesogte toekenning gewen het vergeleke met drie mans.

Lees nog agtergrond oor die buitengewone Kanseliersmedaljewenner hier.