Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se #US99-teiken 'opgegradeer' na R999 999
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 06/12/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) se pre-eeufeesfondsinsamelingsveldtog, #US99, wat daarop gemik is om studieskuld te verlig, het ʼn nuwe ambisieuse teiken. Dít danksy vrygewige skenkings wat die aanvanklike teiken van R99 999 oorskry het. Die nuwe teiken is nou R999 999.

“Teen 1 Desember het skenkings wat op die GivenGain-platform ontvang is R24 000 beloop, tesame met donasies van alumni, personeel en studente, is ʼn verdere R32 500 ingesamel," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, “maar ʼn beduidende skenking van R500 000 van een van ons lojale skenkers wat gereeld beursbefondsing bied, het ons in staat gestel om ons teiken te verhoog en sodoende meer gegradueerdes te help."

“Alhoewel baie van ons studente beurse van verskeie vennote soos die regering, stigtings, besighede en trusts ontvang het, is daar dikwels nog ʼn uitstaande bedrag wat studente na afloop van hul gradeplegtigheid skuld," verduidelik Cheryl Benadie, skenkerbetrekkinge-bestuurder aan die US.

Om graad te vang is die einde van ʼn ongelooflike reis vir enige gegradueerde, aangesien hulle op die drumpel van ʼn nuwe begin staan, gewapen met ʼn welverdiende graad van die Universiteit Stellenbosch, ʼn  internasionaal erkende instelling.

“Ongelukkig, vir sommige van ons eerstegenerasie gegradueerdes wat die professionele wêreld as ʼn eerstegenerasie professionele persoon betree, is die las van studieskuld soms oorweldigend. Ons erken en waardeer die ondersteuning van al ons skenkers en vennote. Die behoefte is altyd daar," voeg sy by.

Skenkings kan gemaak word via die GivenGain-platform: https://goo.gl/AaTm2q of via kredietkaart op die US se aanlyn portaal: https://goo.gl/JkCM4J. EFT betalings kan gemaak word via die volgende bankrekening, met die verwysing: Voorletters, van + R2090 DEBT.

ORGANISASIE NAAM: Universiteit van Stellenbosch

BANK: Standard Bank

TAK: Stellenbosch

TAKKODE: 05 06 10

REKENINGNAAM: Universiteit van Stellenbosch

REKENINGNOMMER: 073006955

BETALINGSVERWYSING: Voorletters, Van, R2090 DEBT

Die #US99-veldtog, wat op 20 September bekendgestel is, duur tot 27 Desember.

“Kleiner skenkings van R50, R100, R500, ens – maak op die einde van die dag ʼn groot bedrag – dít is die krag van kollektiewe skenking in aksie. Ons moedig u aan om asseblief die geskenk van finansiële vryheid hierdie feestyd te gee," sê Benadie.

  • Vir meer inligting oor die US se veldtog om studieskuld te verlig, kontak asseblief: Cheryl Benadie by tel: 021 808 9351 of e-pos: cbenadie@sun.ac.za / Anneke Muller by tel: 021 808 9906 of e-pos: annekem@sun.ac.za.