Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voortreflike FGGW-navorser verwerf gesogte Kanselierstoekenning
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 05/12/2017

Twee dekades van voortreflike navorsing het aan prof Soraya Seedat die gesogte Kanselierstoekenning vir Navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) besorg.

Seedat is ʼn hoogleraar in psigiatrie en Uitvoerende Hoof van die Departement Psigiatrie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Sy beklee die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Posttraumatiese Stresversteuring, wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting gefinansier word.

“Seedat is ʼn internasionaal gerekende klinikus-wetenskaplike, wie se navoringsbelangstellings geslagsgebaseerde geweld, posttraumatiese stresversteuring, MIV/neurovigs, teëspoed in die kinderjare en fetale alkoholspektrumversteuring insluit. Sy put uit verskillende dissiplines en die meer as 350 joernaalartikels en boekhoofstukke uit haar pen het derhalwe ʼn beduidende impak op kliniese praktyk en beleid gehad en word wyd in wetenskaplike literatuur wêreldwyd aangehaal," het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, gesê by dié Fakulteit se gradeplegtigheid waar die toekenning aan Seedat oorhandig is.

Ander eerbewyse wat aan hierdie hoë-impaknavorser toegeken is, sluit in genootskappe van die World Federation of Societies of Biological Psychiatry en die Lundbeck-instituut, asook ʼn toekenning van die Anxiety Disorders Association of America.

Sy beskik oor 19 jaar se kliniese, epidemiologiese en basiese neurowetenskap-ervaring as ʼn psigiater op die gebied van traumatiese stres en angstigheid. Sy was ook 15 jaar lank by neurovigsnavorsing en die afgelope 10 jaar by navorsing oor fetale alkoholspektrumversteurings betrokke. Sy is aan die stuur van etlike navorsingsprogramme van die Departement Psigiatrie en mentor etlike magister-, doktorale en na-doktorale studente.   

Sy beskik ook oor ervaring in navorsingsetiek en is tans ʼn lid van die US se Senaat-navorsingsetiekkomitee en ʼn raadslid van die International Society of Traumatic Stress Studies. Sy is hoofredakteur van die Journal of Child and Adolescent Mental Health en mederedakteur van PLoS One, Global Mental Health en die Suid-Afrikaanse Psigiatriejoernaal.

“Ek is verheug oor die erkenning en steun, veral van prof Volmink en sy bestuurspan. Ek is baie gelukkig om saam met talle talentvolle kollegas (personeel en studente) te werk en die toekenning is 'n bevestiging dat alle goeie werk deur, saam met en deur middel van mense plaasvind," sê Seedat.

Onderskrif: Prof Soraya Seedat het die Kanselierstoekenning vir Navorsing ontvang.