Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FMHS verwelkom 357 graduandi by die mediese professie
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 05/12/2017

Meer as 350 mediese en gesondheidswetenskapstudente het vandeesweek aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer.

By die eedafleggingseremonies vir studente van voorgraadse programme het die Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), prof Jimmy Volmink, die Klas van 2017 gelukgewens met die suksesvolle voltooiing van hul studies en hulle by die gemeenskap van mediese beroepe verwelkom.

“Die FGGW wens almal hartlik geluk wat aan vandag se eedafleggingseremonie deelneem. Julle het plegtig belowe om die mensdom te dien, mense te respekteer, deernisvolle, doeltreffende en etiese gesondheidsorg te verskaf, asook te alle tye eerbaar op te tree," het Volmink aan die graduandi gesê.

Altesame 357 studente van die FGGW se vyf voorgraadse programme het vandeesweek graad gekry: 226 mediese studente het hul MB,ChB verwerf; 47 studente het met ʼn BSc in Fisioterapie gegradueer; 31 studente het hul BSc in Dieetkunde verwerf; 28 studente het met ʼn B-graad in Arbeidsterapie gegradueer; en 25 graduandi het hul B-graad in Spraak-Taal- en Gehoorterapie verwerf.

In sy motiveringspraatjie by die Gesondheid- en Rehabilitasiewetenskappe se eedafleggingseremonie het dr Gillian Arendse, Adjunkdirekteur van die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, studente teen die “sewe dodelike sondes van middelmatigheid" gewaarsku. Hierdie konsep, wat deur die skrywer Todd Henry geskep is, belig sewe gedragseienskappe wat te bowe gekom moet word om bo middelmatigheid uit te styg, naamlik doelloosheid, verveling, gemak, waan, ego, vrees en versigtigheid.

In haar toespraak aan die groep MB,ChB-graduandi het prof Glenda Grey, Direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, ʼn beroep op die pas gekwalifiseerde mediese dokters gedoen om hul posisie in die gesondheidsorgstelsel te gebruik om tot maatskaplike geregtigheid by te dra. Die FGGW het ook ʼn eredoktorsgraad aan Grey toegeken vir haar pionierswerk op navorsingsgebied, haar revolusionêre werk rakende MIV/vigs, asook haar maatskaplike impak deur wetenskap aan te wend om die gemeenskap te dien.

Die Dekaanstoekenning vir Uitnemendheid in Leierskap is vanjaar toegeken aan Bohlale Selahle, ʼn gegradueerde van die Spraak- Taal- en Gehoorterapieprogram, en die Dekaansprys vir Voorgraadse Navorsing aan Coutney Olivier, ʼn MB,ChB-student. Die beste prestasie deur ʼn voorgraadse student van die Klas van 2017 is gelewer deur Estè Louw, wat ʼn gemiddeld van 88,68% vir die hele Arbeidsterapieprogram behaal het. Die beste MB,ChB-student was Leanne Young, wat ʼn gemiddeld van 83,27% tydens dié ses jaar lange program behaal het.

Altesame 18 doktorsgrade is aan PhD-studente toegeken, van wie sommige ook personeellede van die FGGW is.

Onderskrif: Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het 357 graduandi in Desember opgelewer.