Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Professor dra by tot UNESCO-verklaring oor die etiek van klimaatsverandering
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 30/11/2017

Die 195 lidstate van die algemene vergadering van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) het by sy 39ste sitting in Parys, Frankryk, 'n verklaring van etiekbeginsels insake klimaatsverandering aanvaar. Een van die kernrolspelers in dié proses was prof Johan Hattingh, filosofieprofessor en dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Dít volg nadat die direkteur-generaal van UNESCO Hattingh in 2016 genooi het om as lid te dien van die ad hoc-kennerspaneel wat die konsepteks vir die verklaring moes opstel. Hattingh is daarna verkies tot voorsitter van die kennersgroep by hulle eerste vergadering in Rabat, Marokko, in September 2016.

Volgens UNESCO beoog die verklaring “om regerings, sakeondernemings en die burgerlike samelewing te help om mense rondom gedeelde waardes oor klimaatsverandering te mobiliseer" en “die waarskuwing te rig dat tensy etiekbeginsels die grondslag van klimaatsoptrede uitmaak, sowel klimaatsverandering as reaksies daarop onaanvaarbare skade en onreg kan veroorsaak". 

Sedert die Rabat-vergadering is die konsepteks verder verbeter “aan die hand van letterlik duisende stukke kommentaar van lidstate". 'n Tweede konsep is vir UNESCO-lidstate se verdere kommentaar by 'n interregeringsvergadering in Parys voorgelê.

“As voorsitter van die kennersgroep van 24 individue met verskillende tale, kulture, nasionaliteite, en vakrigtings wat strek van internasionale omgewingsreg en klimaatkunde tot die sosiale wetenskappe, filosofie en etiek, was my rol om eenstemmigheid oor etiekbeginsels te help fasiliteer in duidelike, saaklike taal wat maklik aan 'n wêreldwye gehoor oorgedra kan word," sê Hattingh.

“By die Rabat-vergadering het ons met die hulp van tolke in Engels en Frans gewerk, wat reeds bewys het dat dit inderdaad moontlik is om gemeenskaplike etiekwaardes met betrekking tot 'n gemeenskaplike bedreiging vir almal en elke natuursisteem op aarde te verwoord.

“By die interregeringsvergadering in Parys het die eienaarskap van die verklaring van die kennersgroep na lidstate verskuif. Hier het afgevaardigdes van verskillende lande veel wyer eenstemmigheid bereik deur vier dae lank robuuste persoonlike gesprekke te voer, en was my rol dié van deskundige raadgewer aan die vergadering. Dit wys jou net dat state ook om gemeenskaplike waardes kan mobiliseer as hulle voor 'n wêreldwye bedreiging soos klimaatsverandering te staan kom, wat alle lewe op aarde in gevaar stel." 

Hattingh sê een van die kernboodskappe van die verklaring is dat klimaatsverandering in wese 'n etiese probleem is. Dit doen ook 'n beroep op wêreldvennote om te mobiliseer rondom die beginsels van wetenskaplike kennis en integriteit in besluitneming, samehorigheid, volhoubaarheid, geregtigheid en billikheid, sowel as 'n voorsorgbenadering. Die verklaring bou voort op UNESCO se vorige werk oor etiekbeginsels insake klimaatsverandering, wat die Wêreldkommissie oor die Etiek van Wetenskaplike Kennis en Tegnologie (COMEST) oor sowat 'n dekade gedoen het.

“Ek het vir twee termyne, van 2004 tot 2011, in COMEST gedien, waar ek lid was van 'n groep wat aanvanklik oor omgewingsetiek beraadslaag het. Weens die geweldige omvang en dringendheid van klimaatsverandering het ons egter vanaf 2007 spesifiek op die etiese sy van dié probleem begin konsentreer. Ons eerste studie, The Ethical Dimensions of Global Climate Change, is in 2010 gepubliseer."

Hattingh meen die verklaring van etiekbeginsels insake klimaatsverandering versterk en verleen verdere stukrag aan die historiese keerpunt in die reaksie op klimaatsverandering wat in 2015 teweeggebring is toe die VN se agenda vir volhoubare ontwikkeling 2030 en sy volhoubare ontwikkelingsdoelwitte sowel as die Parys-klimaatsooreenkoms aanvaar is. 

“Die verklaring verwoord uitdruklik die morele platform waarop hierdie internasionale inisiatiewe berus, en bied só broodnodige leiding vir die etlike moeilike besluite wat dringend geneem sal moet word om die gekombineerde doelwitte van volhoubare ontwikkeling wêreldwyd te implementeer in 'n klimaat wat nie die toekoms van lewe op aarde bedreig nie.

“Die Parys-ooreenkoms doen byvoorbeeld 'n beroep op state om hulle kweekhuisgasvrystellings aansienlik te verminder om te sorg dat aardverwarming gemiddeld nie 2°C bo pre-industriële atmosferiese temperature oorskry nie. Hierdie verlagings moet van land tot land vasgestel word (die sogenaamde 'nasionaal vasgestelde bydraes'), en binne elke land sal mikpunte vir verlaging verdeel moet word tussen die samelewingsektore wat tot kweekhuisgasvrystellings bydra. Dít is waar dit werklike opofferings van mense of groepe kan begin verg, en waar 'n klomp etiekkwessies dan na vore kom: Wie sal op grond van sekere mikpunte swaarkry, en wie nie? Hoe behoort die laste en voordele verdeel te word? Hoe kan ons skade en benadeling voorkom of beperk? Hoe kan ons keer dat arm en kwesbare mense nog 'n swaarder las moet dra? 

“Die verklaring is onder meer toegespits op state, korporasies en internasionale organisasies, maar ook op individue, groepe en plaaslike owerhede. Daarom is dit opgestel om verantwoordelike besluitneming op alle vlakke en in alle sektore van die samelewing te bevorder sodat ons uiteindelik geregtigheid, internasionale vennootskappe, insluiting en samehorigheid met die armste en kwesbaarste mense verseker in hoe ons op klimaatsverandering reageer," sê Hattingh.

“Ek dink die belangrikste bydrae van die verklaring lê in die verwoording van die algemene internasionale konsensus dat ons ernstig aandag moet skenk aan die geweldige benadeling en onreg verbonde daaraan dat diegene wat die minste tot kweekhuisgasvrystellings en dus klimaatsverandering bydra, heel waarskynlik die ergste onder die nadelige gevolge daarvan sal deurloop.

“Op grond hiervan bepaal die verklaring in artikel 10 dat die klem in die reaksie op klimaatsverandering op die mees kwesbares se behoeftes moet val. Die omskrywing van die mees kwesbares in die aanhef sê dit 'sluit in, dog is nie beperk nie tot ontheemde persone en migrante, inheemse volke, plaaslike gemeenskappe, persone met gestremdhede, bejaardes, die jeug en kinders'."

Klik hier vir die volledige verklaring​

Klik hier vir COMEST se studie The Ethical Implications of Global Climate Change van 2010.

Foto: Prof Johan Hattingh was ten nouste betrokke by die proses in aanloop tot die aanvaarding van UNESCO se verklaring van etiekbeginsels insake klimaatsverandering.​