Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Paralimpiese atlete benodig hulp om beserings, siektes te vermy
Outeur: Alec Basson [Corporate Communication]
Gepubliseer: 20/11/2017

Atlete wat aan die Paralimpiese Spele deelneem kan tydens kompetisies siektes en beserings opdoen, en daarom moet voorkomende strategieë ontwikkel word om hulle te help om hul beste te lewer.

Só het prof Wayne Derman van die Instituut vir Sport en Oefeninggeneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op Donderdag (16 November 2017) gesê. Hy het sy intreerede in die Onderwysgebou op die Tygerberg-kampus gelewer.

Derman het gesê “die langdurige studie oor patrone, oorsake en gevolge van beide beserings en siektes in paralimpiese sport is belangrik aangesien die bevindinge kan help met die formulering van voorkomingstrategieë."

“Die waarneming van siektes en beserings bly belangrik vir die versorging van atlete en vorm 'n integrale deel van die formulering van voorkomingsprogramme."

Derman sê data oor siektes en beserings is ook nuttig vir mediese personeel.Derman1.jpg

“Miskien belangriker is dat die data voorsiening maak vir die bepaling van watter sport noukeurig vir beseringsrisiko geassesseer moet word."

Hy het daarop gewys dat hoewel daar baie vordering in mediese sorg vir atlete met gestremdhede is, daar nog uitdagings is.

“Die Paralimpiese beweging staar 'n aantal uitdagings in die gesig wat direk met mediese ondersteuning kan oorvleuel. Hierdie gebiede sluit in die gebruik van verbode middels en opsetlike wanvoorstelling (verneukery), versterking (doelgerigte toename in bloeddruk deur 'n skadelike stimulus in 'n atleet met 'n hoë rugmurgbesering), Paralimpiese klassifikasiemetodes, en toegang (of gebrek daaraan) aan gevorderde mediese ondersteuning, sporttegnologie en ander hulpbronne."

Derman het gesê die Paralimpiese Spele moet bewustheid verhoog en 'n globale perspektief bied op die unieke en merkwaardige vermoëns van individue met gestremdhede.

“Atlete met gestremdhede is net so toegewyd as hul niegestremde eweknieë en oefen net so hard."

Derman het gesê die Internasionale Paralimpiese Komitee, atlete, afrigters, administrateurs en mediese personeel regdeur die Paralimpiese beweging moet uitgedaag word om te verseker dat alle gestremdes – nie net elite-atlete nie, en nie net dié in ryker lande nie –​ die geleentheid kry om ten volle aan fisiese aktiwiteit en sport deel te neem.

Hy het egter genoem dat Paralimpiese sport reeds baie gedoen het om persepsies rakende gestremdes en wat hulle kan bereik te verbeter.

  • Hooffoto: Rolstoelatleet by die Paralimpiese Spele. Krediet: Wikimedia Commons
  • Foto 1: Profs Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Wayne Derman, Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en Jaques du Toit, Hoof van die Afdeling Ortopedie, by die intreerede.
  • Fotograaf: Wilma Stassen