Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innovasie in wetenskapsonderrig by AvOL 2017
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 14/11/2017

​Die Fakulteit Natuurwetenskappe het onlangs in totaal 12 aanbiedings gedoen by die jaarlikse Stellenbosch Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) se konferensie, met aardwetenskappe-dosent dr. Bjorn von der Heyden wat die naaswenner was in die kategorie: beste algehele aanbieding by die konferensie.

Volgens prof. Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, verdien hierdie deelnemende dosente spesiale erkenning vir die ekstra myl wat hul geloop het om uitnemendheid in onderrig te verhoog en studentesukses te verbeter.

Die meeste van die aanbieders was ontvangers van die US se Fonds vir Innovasie en Navorsing  met betrekking tot Leer en Onderrig, ook in Engels bekend as FIRTL. Die fonds is in 2005 tot stand gebring met die doel om 'n kultuur van innovasie en refleksie in onderrig en leer by die Universiteit te bevorder.

Dr. von der Heyden, 'n dosent in die departement Aardwetenskappe, het twee opsommings ingedien en beide was onder die top ses gelys. Die een het gegaan oor industriegebaseerde geoloë as 'n waardevolle hulpbron by wie studente addisionele kennis oor die toegepaste aspekte van hul graad kan bekom.

In die tweede projek het hy verskeie portuurgroep- en  leer-intervensies ondersoek met sy derdejaarstudente in ekonomiese geologie as proefkonyne.

Hierdie ondersoek het ingesluit bogenoemde studente se blootstelling aan lesings en video's deur nagraadse studente, tot 'n veldbesoek en interaksie met professionele geoloë. 

'n Aparte prys vir die beste aanbieding deur 'n dosent in die Fakulteit Natuurwetenskappe is vir die eerste keer toegeken en het gegaan aan Dr. Christine Steenkamp van die Departement Fisika. Dr. Steenkamp en kollegas het een van die vyf dimensies in Legitimasiekodeteorie gebruik om vyf jaar se toets- en eksamenantwoordstelle van Fisika 114 en 144 te analiseer. Christine Steemkamp with dean_2017.jpg

“Die doel hiervan was om te verstaan hoekom studente sukkel om aan te pas by beginselgebaseerde leer. Met ander woorde: die beste strategie vir 'n eerstejaarstudent in fisika is om die paar basiese beginsels aan te leer en dan hierdie beginsels van meet af toe te pas tot op die vlak van ingewikkelde toepassings. Maar in teendeel gaan studente stééds voort om net die toepassings te probeer memoriseer.  En natuurlik is daar honderde voorbeelde van hierdie toepassings in die handboek," verduidelik sy.

Dr. Steenkamp het gebruik gemaak van die konsep semantiese gewig ('n analitiese instrument om vlakke van konsepsuele en kontekstuele betekenis vas te stel) om die tipe vrae te analiseer wat in die eerste semester se toets- en eksamenvraestelle gevra is in Fisika 114 en 144.  Die semantiese gewig-skaal strek vanaf abstrakte teorie tot by toepasssings in die werklike lewe.

Sy beskryf die proses as bemagtigend: “Vir die eerste keer het ons as dosente “'n taal" gehad waarin ons kon praat oor die vlak van vrae in 'n vraestel. Ons was nou in staat om te verseker dat elke vraestel die verlangde vlakke van semantiese gewig gehad het. Ons het eksplisiet die basiese beginsels getoets en dit duidelik só aan die studente gekommunikeer."

Tot dusver is die resultate bemoedigend.

Prof. Ingrid Rewitzky, visedekaan: onderrig en leer in die Fakulteit Natuurwetenskappe, het Dr. Steenkamp geloof vir die hoeveelheid werk en moeite wat in die projek ingesit is: “Die beoordelaars was beïndruk met die teoretisering van die werk, die mate waarin sy Legitimasiekodeteorie haar eie gemaak het, sowel as die deursigtelikheid waarmee sy dit verduidelik het. Dit was ook duidelik dat die data-analise weldeurdag was.

Die Departement Fisika se prof. Kristiaan Müller-Nedebock het die vordering van voorgraadse studente in fisika bepaal ten opsigte van hul gebruik van 'n hoëvlak sagtewareprogram, genaamd Mathematica, wat die gewone sakrekenaar en wiskundige tabelle vervang het.  

Prof. Richard Newman en prof. Brandon van der Ventel het die totstandkoming van 'n mini filmstudio in die Departement Fisika ondersoek. Die idee is om kort films te vervaardig wat fisikakonsepte relevant tot hul onderrig, sal demonstreer.

Die Departement Wiskundige Wetenskappe se Dr. Jacques Masuret, het speletjie-elemente toegepas op eerstejaarswiskundelesings in 'n poging om studente se betrokkenheid ten opsigte van die lesinginhoud te verhoog, sowel as hulle motiveringsvlakke. Die Onderrig- en Leerforum in die Fakulteit Natuurwetenskappe het ook onlangs 'n werkswinkel aangebied oor die aanlyn onderwysspeletjiesplatform, ClassCraft. Hierdie speletjie kan ten volle pasgemaak word en kan deur die dosent of Game Master aangepas word om aandag te gee aan spesifieke kwessies of gedrag in die klas. 

Ander aanbiedings was:

  • Me. Bessie Burger (Wiskunde) – “Development of interactive content for Mathematics"
  • Dr. Marnel Mouton (Plant- en dierkunde) – “Making 'toxic' waves: Expanding students' biology concept knowledge through semantic movement"
  • Dr. Susanne Fietz (Aardwetenskappe) – “Teaching concepts through local field data collection"
  • Dr. Hanlie Adendorff (Onderrig en leer hub) – “Science students' conceptions of academic support" en “Online tutor training short course in Science"
  • Dr. Ilse Rootman-le Grange (Onderrig en leer hub) – “Designing an academic skills module through the lens of Legitimation Code Theory's Autonomy dimension".

Op die foto's bo, van links na regs: Dr Jacques Masuret, Dr Ilse Rootman-le Grange en dr Bjorn von der Heyden.