Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente wen reis na Londen ná virtuele sukses op aandelebeurs
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 12/11/2017

Twee studente van die Universiteit Stellenbosch het 'n reis na Engeland om die aandelebeurs in Londen te besoek en R12500 elk gewen ná hulle koning gekraai het in die 2017 JSE-beleggingsuitdaging.

Die uitdaging wat vanjaar vir 'n 44ste keer aangebied is, se doelwit is om die jeug oor finansiële market en beleggings te leer. Die inisiatief nooi leerders en studente om aandele in 'n virtuele portefeulje te koop en te oefen om aandele in 'n risiko-vrye omgewing te verhandel. Elke span ontvang 'n virtuele som van R1 miljoen wat hulle kan gebruik om aandele op die JSE-beurs te verhandel.

Die wenners – Tonia Schoeman en Luke Nel, BCom Aktuariële Wetenskap-studente in onderskeidelik hul derde en tweede jaar – ken die kompetisie al goed.

As leerders van die Hoërskool DF Malan was hulle deel van die span wat die Skole-uitdaging in 2013 en 2014 gewen het. In 2015 het Luke se span die Skole-uitdaging vir 'n derde keer gewen, terwyl Tonia en haar span derde in die Universiteite-uitdaging was.

Hulle het in 2016 weer kragte saamgespan en hierdie keer het hulle die Universiteite-uitdaging gewen. Hul prys het 'n tjek van R25000 (R12500 elk) en 'n betaalde reis na die Australiese aandelebeurs (ASX) in Sidney ingesluit. Daar het die eer hulle te beurt geval om die klok wat die opening van die mark aandui, te lui.

Hul sukses het in 2017 voortgeduur, en hulle skryf hul sukses toe aan harde werk en doelgerigtheid.

“Ons plaas gemiddeld tussen vier en vyf transaksies op die beurs per dag. In die ses maande van vanjaar se kompetisie, het ons altesaam 574 transaksies geplaas. Ons spandeer minstens 'n uur per dag aan die kompetisie en volg 'n baie hoërisikobenadering omdat dit so 'n korttermynspel is.

“Ons geniet die kompetisie baie, en ons leer elke jaar iets nuuts! Dit is 'n baie goeie afleiding van ons studies," sê hulle.

Tonia en Luke beoog albei om as aktuarisse te kwalifiseer. Luke beplan om te spesialiseer in beleggings/bankwese en Tonia in beleggingsstrategieë en batebestuur vir finansiëlediensteverskaffers.

“Deur die loop van die uitdaging leer ons meer van die verskillende beleggingsinstrumente en hoe hulle werk en kry ons baie praktiese ervaring. Ons is seker dat dit in die toekoms vir ons baie waardevol gaan wees."