Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-doktorale studente ontvang gesogte beurse
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 09/11/2017

Drie doktorale studente van die Universiteit Stellenbosch (US) is Woensdag (8 November 2017) in Johannesburg met L'Oréal-UNESCO Regional Fellowships For Women in Science (FWIS) in Sub-Saharan Africa-toekennings vereer.

Cynthia Tamandjou (Afdeling Geneeskundige Virologie), Therina Du Toit (Departement Biochemie) en Carol Mahachi (Departement Fisiologiese Wetenskappe) het elkeen 5000 euros ontvang vir die gehalte van hul navorsing. Die beurse sal hulle ook help om hul doktorale studies voor te sit. Vanjaar is veertien beurse aan vrouewetenskaplikes in sub-Sahara Afrika toegeken.

Cynthia Tamandjou doen haar doktorsgraad oor die onderwerp Hepatitis B virus mother-to-child-transmission in Namibia: transmission dynamics and possibilities for elimination. Haar navorsing kyk na die haalbaarheid van beskikbare koste-effektiewe metodologieë om die oordrag van die hepatitis B-virus (HBV) vanaf moeder na kind in Namibië te voorkom. Tamandjou se werk wil meer lig werp op die hoë voorkoms van chroniese HBV-infeksie in baie dele van sub-Sahara Afrika.

Tamandjou het gesê sy is baie opgewonde dat haar werk erken en as belangrik vir die kontinent en die wetenskapsgemeenskap beskou word. Sy is ook bly dat sy as vrouenavorser in Afrika gereken word.

“Hierdie toekenning gee my regtig die vertroue en sekerheid dat my werk van beduidende waarde en hoë gehalte is, en Afrika tot voordeel strek. Ek is baie trots op myself; trots dat ek ten spyte van al die struikelblokke op my pad nie tou opgegooi het nie, en trots op wat ek tot dusver bereik het."

Therina Du Toit se navorsing fokus op The profiling of C11-oxy steroids by UPC2-MS/MS quantification in clinical conditions characterized by androgen excess and in steroid abuse. Sy kyk na die rol van sekere steroïede in die ontwikkeling en progressie van prostaatkanker.

Dit is 'n groot voorreg om hierdie toekenning te ontvang, en 'n wonderlike gevoel om te weet dat haar harde werk die moeite werd, het Du Toit gesê.

“Hierdie toekenning bied vir my die geleentheid om my navorsing by die US uit te brei en ook om my bevindinge nasionaal en internasionaal by konferensies aan te bied. Vir enige jong navorser wat wetenskap oorweeg - die veld is wyd en interessant; as jy nie die '8-tot-5'-tipe is nie, is navorsing vir jou, dis uitdagend en jy sal nooit verveeld wees nie!"

Carol Mahachi, verbonde aan die Universiteit van Zimbabwe, werk aan 'n projek getiteld Inflammation Markers Associated with Kidney Disease in HIV positive patients. Sy fokus veral op niersiekte in MIV-positiewe pasiënte wat woon in gebiede soos sub-Sahara Afrika waar hulpbronne uiters beperk is.

Mahachi het gesê sy voel baie geëerd om die toekenning te ontvang omdat dit meer deure vir navorsing in niersiekte en inflammasie sal open.

“Ek is geseënd om vroulike rolmodelle soos my studieleier, prof Kathryn Myburgh en wyle prof Lucy Malaba, wat my geïnspireerd het, te hê. Ek kan ook nie nalaat om my medestudieleier, prof Rafique Moosa, wat my baie op my reis ondersteun het, te noem nie. Aan ander vroulike navorsers, laat ons die liefde vir die wetenskap lewendig hou om die lewens van mense in ons samelewing te verbeter."

In haar boodskap van gelukwensing aan die studente, het dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, gesê sy is baie trots dat hulle deur die L'Oreal-stigting vereer en ondersteun word.

“Ek hoop dit sal hulle in staat stel om voort te gaan om deur navorsing die wêreld ʼn beter plek te maak en dat hulle as rolmodelle vir jonger vroue sal dien om loopbane in navorsing te volg."

Theron het bygevoeg dat die wêreld meer vroue nodig het wat hul uitsonderlike talente en kreatiwiteit na die wetenskapsprofessie bring.

“Die bevordering van die geslagsbalans en die loopbane van vroue in die wetenskap is ʼn strategiese prioriteit vir die Universiteit Stellenbosch," het sy gesê.

​MEER OOR DIE L'Oréal-UNESCO FWIS-PROGRAM

Die L'Oréal-UNESCO For Women in Science-program ondersteun sedert 1998 talentvolle jong vrouewetenskaplikes regoor die wêreld met hul doktorale of nadoktorale navorsingsprojekte. Meer as 2500 navorsers uit 112 lande is al vereer vir hul buitengewone ontdekkings en uitstaande prestasies wat help om die wêreld 'n beter plek te maak.