Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herformulering van Markowitz se teorema gee verrassende resultate
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 07/11/2017
'n Verbeterde weergawe van die beroemde Markowitz se teorema kan potensieel aangewend word om nie net die volgende finansiële krisis meer akkuraat te voorspel nie, maar ook die moontlike uitbreek van peste en siektes, en of 'n pasiënt  moontlik binne die volgende twee uur 'n hartaanval sal kry of nie.

Die geïntegreerde landskapsportefeuljeplatform  ̶  wat beskryf word as 'n nuwer weergawe van Markowitz se portefeuljeteorie ̶  is in staat om buitengewoon hoë groei en verminderde wisselvalligheid te voorspel in 'n versameling van stogastiese koveranderlike populasies dwarsoor die landskap.

Dit is ontwikkel deur prof. Cang Hui, 'n biowiskundige van die Universiteit Stellenbosch, in samewerking met twee navorsers van die Verenigde State van Amerika, prof. Gordon A Fox, 'n statistikus van die Universiteit van Suid-Florida, en prof. Jessica Gurevitch, 'n bekende ekoloog van Stony Brook Universiteit.

Die “nuwe" teorema is op Maandag 6 November 2017 in die Proceedings of the National Academy of Science (PNAS) gepubliseer met die titel 'Scale-dependent portfolio effects explain growth inflation and volatility reduction in landscape demography'.

Prof. Hui sê die samewerking het begin nadat prof. Fox en prof. Gurevitch Suid-Afrika in 2014 besoek het as genote van die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studies, ook bekend as  STIAS (Stellenbosch Institute for Advanced Studies).

“Aanvanklik het ons gesoek na maniere om die populasiedemografie van indringerspesies op groter skaal te kwantifiseer ten einde dit meer relevant vir die bestuur daarvan te maak," verduidelik hy.Hui group pic_cropped.jpg

Op daardie stadium is die meeste demografiese werk ten opsigte van slegs 'n paar populasies en op plaaslike skaal gedoen.

Maar die idee om die Markowitz-teorema te gebruik was heeltemal toevallig: “Ek gaan dikwels biblioteek toe en dwaal dan sommer deur die boeke in 'n sekere afdeling. Daardie dag was ek in die afdeling vir ekonomie en statistiek, toe 'n boek oor die portefeuljeteorie van finansiële belegging my oog vang. Dít is waar die idee toe posvat om Markowitz se teorema as hoeksteen te gebruik."

Deur konsepte in landskapsekologie en Markowitz se portefeuljeteorie te kombineer, het hulle die landskapsportefeuljeplatform ontwikkel om die gedrag van veelvuldige stogastiese populasies oor 'n verskeidenheid ruimtelike skale te kwantifiseer en te voorspel. As gevallestudie het hulle 'n tydreeks van 35 jaar op plakkermotpopulasies gebruik oor 'n area van ongeveer 350 000 km2.

Die landskapsportefeuljeplatform kan egter op enige situasie toegepas word waar substelsels fluktueer met 'n sekere mate van sinchronie, wat strek vanaf verhandelingsanalises in die aandelemark, tot die skielike uitbreking van patogene en indringerspesies.

Prof. Hui sê, dat alhoewel die huidige artikel 'n indringermotspesie as gevallestudie gebruik, die nuwe teorema ook toegepas kan word in die finansiële wêreld, deur ekoloë wat op streeksvlak werk met indringers of bedreigde spesies, sowel as enige bioloog wat werk met tydreeksdata.

Prof. Hui en sy medenavorsers werk tans aan die uitbreiding van die platform ten einde voorsiening te maak vir die differensiasie van stelselstogastisiteit en eksterne geraas wat portefeulje-inflasie aanwakker.

Meer oor Markowitz se portefeuljeteorie

Harry Markowitz se portefeuljeteorie word beskryf as een van die mees belangrike en invloedrykste ekonomiese teorieë wat te doen het met finansies en beleggings. Hierdie teorie wat vir die eerste keer in 1952 gepubliseer is, is 'n wiskundige raamwerk vir die samestelling van 'n portefeulje van bates op só 'n wyse dat die verwagte opbrengs gemaksimaliseer word op 'n bepaalde risikovlak, gedefinieer as variansie. Die kernbegrip is dat 'n bate se risiko en opbrengs nie opsigself beoordeel moet word nie, maar in die mate waartoe dit bydra tot 'n portefeulje se algehele risiko en opbrengs. In 1990 het Markowitz die Nobel Memorial Prize in Ekonomiese Wetenskappe gekry vir hierdie werk.

Meer oor Prof Cang Hui

Prof. Hui is verbonde aan die Department Wiskundige Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch waar hy die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Wiskundige en Teoretiese Fisiese Biowetenskappe beklee. Sy navorsingspan werk op die koppelvlak tussen wiskunde en biologie. Aangesien ekologiese prosesse hoogs kompleks en aanpasbaar is, maak navorsers staat op die eenvoud van wiskundige taal om opkomende ekologiese prosesse en hulle verborge meganismes te kwantifiseer.


Media navrae

Prof Cang Hui

E-pos: chui@sun.ac.za

Tel: +27 _21 808 4907

 

Prof Jessica Gurevitch

Stony Brook Universiteit, New York

E-pos: Jessica.gurevitch@stonybrook.edu

Tel: +1 (631) 632-8567

 

Prof Gordon Fox

Universiteit van Suid Florida

E-pos: gfox@usf.edu

Tel: +1 (813) 974-7352