“Sinvolle verwoesting”
is hoe dr. Richard Walls die navorsing beskryf waarby hy betrokke is as hoof
van die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir brandnavorsing. Dit sluit in
die afbrand van plakkershutte ter waarde van sowat R4,3 miljoen as deel van die
eenheid se ondersoek na brande in informele nedersettings.
“Met tussen 20
persent en een derde van Suid-Afrikaners wat van informele behuising gebruik
maak*, is die moontlikheid om ’n brandslagoffer in een van dié gebiede te wees
’n werklike, groot probleem,” sê Richard. “Daar is geen navorsing oor brande in
informele gebiede vanaf die ingenieurskant nie.” Die groeiende aantal bewoners
van plakkershutte in alle lande oor al die kontinente belig die belangrikheid
om hierdie verwoestende probleem aan te spreek. Om hierdie rede het Richard en
sy span ’n toekenning van R4,3 miljoen gekry om die aard van brande in informele
nedersettings te ondersoek. Dit sal help om ’n beter begrip te vorm van faktore
brandverspreidingskoerse, brandstofladings, brandmodellering, die toets van
alternatiewe boumateriale, vereistes vir voorbrande, die hoeveelheid water wat
nodig is om brande mee te blus, en meer. Die toekkening is gemaak deur die navorsingsraad
vir ingenieurswese en natuurwetenskappe (EPSRC) wat in die VK gevestig is
Die Universiteit
van Edinburgh is wêreld-erkende kenners op die gebied van brand-wetenskap en
sedert hul samewerking met die US om brande in informele nedersettings te
ondersoek, het nog lande hul belangstelling aangedui.
Om die onkunde
rondom die probleem te illustreer, noem Richard dat hy onlangs ’n goed-bedoelde
epos maar baie nuttelose voorstel van ‘n oorsese navorser ontvang het. Dié het
opgemerk dat Afrika “reuse ruimtes” beskikbaar het en daarom is dit moontlik om
eenvoudig 10m-openinge tussen enige twee plakkershutte te los, wat genoeg sal
wees om te keer dat die vuur versprei.
Die span het
egter merkbare suksesse gehad met die installeer van meer as 1 200
foto-elektriese brandverklikkers in die Wallacedene TRA informele nedersetting
in Kraaifontein. Volgens gemeenskapleiers het hierdie eenvoudig toestel reeds
lewens gered die afgelope winter.
Richard, ‘n
Johannesburgse boorling wat in 2015 as dosent by die US aangesluit het – hy het
toe pas met sy PhD begin – het baie kennis en ervaring opgedoen deur
liefdadigheidswerk onder haweloses in Johannesburg se middestad. Hy was ook
betrokke by mense wat plakkershut-brande oorleef het. Hoewel nie direk gekoppel
aand ie werk wat hy tans doen nie, sê Richard hierdie uitreike het hom gehelp
om te verstaan hoe verskillende gemeenskappe funksioneer en om ander te erken
as “gewone mense”.
Danksy die
toekenning gaan Richard se span binnekort ten minste twee eksperimente uitvoer
waarin hulle plakkershutte afbrand om die aard van die brande te moniteer.
Plakkershutte geskoei op die ware Jakob word opgerig in samewerking met die Breedevallei
Brandweer, wat ook teenwoordig is wanneer die hutte aan die brand gesteek word.
Een van die toetse sal sowat agt hutte insluit en is ‘n ondersoek na
verskillende boumateriale. Die ander sal die verspreiding van die brande
ondersoek in ’n spesiaal geboude “plakkerskamp” van sowat 70 hutte.
“Wanneer dit by brandbestryding in informele
nedersettings kom, is die Wes-Kaapse kennis wêreldklas,” sê Richard van die
rampbestuurpersoneel met wie hy deur sy navorsing in kontak gekom het. “Maar
weens personeeltekorte en ander faktore het hulle dikwels nie die luukse om die
kennis wat hulle opgedoen het, neer te pen nie.”