Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kompetisie skep geleenthede om praktiese vaardighede te ontwikkel
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 02/11/2017

Stellenbosch-studente wat aan 'n datawetenskapkompetisie, aangebied deur Capitec in samewerking met die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, deelgeneem het, moes nie net 'n model skep om 'n probleem op te los nie, maar moes ook daardie model aanbied en aan die bedryfsvennoot "verkoop".

Studente het 'n datastel ontvang en is aangesê om 'n regte-wêreld probleem wat deur Capitec geïdentifiseer is, op te los. Nadat hulle hul modelle geskep het, het die vyf deelnemers met die hoogste punte hul bevindings aan die paneel, bestaande uit vier Capitec-verteenwoordigers en vier US-lektore, aangebied. Hul punte vir die aanbieding is by hul oorspronklike punte getel om hul posisies te bepaal.

Broer en suster Elan en Chloe van Biljon het saamgespan om die eerste prys te wen. Chloe het 'n voorgraadse agtergrond in Aktuariële Wetenskap en is tans besig met 'n meestersgraad in Ekonomie terwyl Elan 'n vierdejaarstudent in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese (Informatika-stroom) is.

“Daar is nie baie geleenthede waar ek dit wat ek reeds van masjienleer weet, kan toepas terwyl ek steeds nuwe dinge leer nie. Ek het albei hierdie dinge in hierdie kompetisie gevind en dit is wat dit vir my die moeite werd gemaak het," sê Elan.

Jandré Marais, 'n meesterstudent in Wiskundige Statistiek, was tweede. Hy het die geleentheid om teorie op 'n regte-wêreld probleem toe te pas, waardeer.

“Dit is baie bevredigend om 'n oplossing vir 'n probleem te vind en selfs meer so as iemand daarby kan baat. Dit is 'n uitstekende geleentheid om dit wat jy geleer het, toe te pas en te sien hoe jou vermoëns met ander mense s'n vergelyk.

"Daar is min vaste reëls en baie van dit is net probeer-en-tref. Dis baie lekker as een van jou vreemder idees die model beter maak, want dan kan mens vasstel waarop dit gebeur het en iets nuut leer in die proses," het hy bygevoeg.

Volgens Capitec se August Carstens is dié kompetisie 'n uitbreiding van hul samewerkingspogings met universiteite, wat aan meer studente die geleentheid gee om praktiese blootstelling te kry.

“Dit was ook 'n geleentheid om ons opgewondenheid oor en entoesiasme vir datawetenskap te deel en te versprei," het hy gesê. “Dit was duidelik dat al die deelnemers baie tyd en inspanning ingesit het om die betrokke probleem op te los. Studente het met kreatiewe idees vorendag gekom."

Volgens hom het hulle vorige weergawes van hul model op die kompetisiedata laat loop, en het twee van die oplossings beter presteer as Capitec se vroeër model.

“Ons werk deurlopend daaraan om ons model te verbeter en ons het definitief 'n paar nuttige insigte uit die studente se werk gekry," het hy gesê.

Carel van der Merwe van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap beskou hierdie kompetisie as 'n uitstekende geleentheid om teorie in praktyk toe te pas.

“Studente moes ook die bykomende vaardigheid ontwikkel om hul model aan 'n bedryfsvennoot aan te bied, soos in 'n regte-wêreld situasie."