Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale impak deur Matie Gemeenskapsdiens en Vrywilligerdiens
Outeur: Joanne Williams
Gepubliseer: 18/10/2017

Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling Sosiale Impak het onlangs sy algemene jaarvergadering (AJV) gehou. Die AJV bied die geleentheid om te besin oor die afgelope jaar se werksaamhede en is 'n viering van die lewe van die mense wat uit MGD se aktiwiteite voordeel trek.

Sulina Green, Voorsitter van die MGD-bestuursraad, sê: “Een van die ideale van MGD is om mense te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik."

Volgens dr Antoinette Smith-Tolken, Direkteur van Sosiale Impak en waarnemende Hoof: MGD, omvat MGD se werk die ideaal van wederkerigheid waarvolgens almal wat betrokke is, verryk en ontwikkel word deur aktiwiteite wat gesamentlik ontwikkel en oor besluit word.

MGD het die Volwasseneonderwys-en-opleidingsprogram in vennootskap met die Departement van Hoër Onderwys voortgesit, en in Junie 2017 het 89 leerders die matriekeindeksamen afgelê. Tans is daar 104 leerders wat vir die 2017/2018-matriekjaar ingeskryf is. Mnr Ronald Amos, 'n Matriekprogram-leerder wat in Junie 2017 in sy eksamen geslaag het, sê: “Ek is dankbaar vir die bekostigbare MGD-inisiatief. Dankie dat u die program voortsit wat ons in staat stel om ons matriek te voltooi."

Die Eenstopprogram maak voorsiening vir studente wat betrokke is by inisiatiewe deur klusters of individuele koshuise in Stellenbosch en Tygerberg. Die opleidingskursusse wat MGD aanbied, het in Stellenbosch sowel as nasionaal gegroei. Mnr MacRay Mouton, 'n studentevrywilliger in die Eenstopprogram, sê: “My lewe het 'n ander koers ingeslaan as gevolg van MGD. Die persoonlike impak daarvan is belangrik vir die student en die gemeenskap."

Die Primêregesondheidsorgprogram voorsien studente van geleenthede om kliniese ervaring van die werklike wêreld op te doen. Mnr Piero Saieva, 'n finalejaar- mediese student wat aan die Primêregesondheidsorgprogram deelneem, sê: “Ons kry die kans om meer tyd saam met die pasiënte deur te bring. Ons sigbaarheid in die gemeenskap groei en vennootskappe ontwikkel. So leer ons baie van die gemeenskappe. As studente kry ons meer kliniese ervaring, wat ons help om beter dokters te word. Ons kry ook meer tyd saam met gekwalifiseerde dokters en meer praktiese ondervinding weens die saamwerkgeleenthede."

Mev Avril Whate het die vergadering met 'n bedankingswoord afgesluit: “Dit is 'n lekker gevoel om te weet ons maak 'n verskil in ander se lewens."